• Welcome to Die Afrikaanse Forum.
 

News:

NEEM KENNIS ASB :
Om lid te word van die forum, stuur 'n epos aan pm@afrikaanseforum.co.za, waarna jy deur die administrateurs geregistreer sal word.

Vir hulp met die forum se werking, lees "Help" op die balkie onder hierdie inskrywing.

Enige inteken probleme ondervind deur lede van die forum: andre@trusoft.co.za / willa@trusoft.co.za

Main Menu

Recent posts

#71
Meraai vannie Baai / Re: Lemniskaat Gedig struktuur
Last post by Meraai vannie Baai - April 17, 2026, 08:21:09 AM
Engelse voorbeeld slegs geleen met erkenning:

The magic of the 8
By Michelle Morris
08/09/2024


The magic of the 8
Infinity in itself
Round and round and round
Time is everywhere at once
The magic of the Universe
Expanding from that one place
We are all connected
In time and souls and space

© Michelle Morris, 2024

8 (sideways 8) Infinity symbol or Lemniscate
#72
Meraai vannie Baai / Re: Lemniskaat Gedig struktuur
Last post by Meraai vannie Baai - April 17, 2026, 05:42:10 AM
Nog Kort voorbeelde

Die omgedraaide agt
So leef ons onbewus
twee pole
een draai
'n lemniskaat van saam.

Waar gaan alles eindig?
Waarskynlik nêrens nie of dalk oral
starend oor die rand van onsekerheid
want jy staan by die kruising
met een voet in oer oue wysheid
en die ander in jou toekoms

Weerprofeet
Ek voorspel reën met groot oortuiging,
want die lug ruik na belofte.
Toe draai die wind;
bly dit kurkdroog vir drie dae.
Selfs profete het soms 'n afdag.

Wat sal ek wees sonder woordpret,
tussen lig en donker – laf en ernstig
griffel ek in die kuberruim
met 'n kale 26 lettertjies.

Grensloos
Stukkies van iewers,
brokkies van nêrens,
swart en wit reënboogland
sonder grense.

Nie hier of daar
Daar waar niks alles is en alles niks is
swerf ek waar die wêreld kantel
nóg hier nóg daar
in die hoek van 'n sirkel.

©Meraai vannie baai
#73
Meraai vannie Baai / Lemniskaat Gedig struktuur
Last post by Meraai vannie Baai - April 17, 2026, 05:39:47 AM
Wat is 'n Lemniskaat?

Die lemniskaat is die wiskundige simbool vir oneindigheid: 'n horisontale 8, twee lusse/pole wat mekaar in die middel oorkruis en dan weer terug beweeg, vorm 'n pad wat nooit eindig nie -
'n oerbeeld van beweging.

In poësie beteken dit:

•   twee strome/pole wat mekaar kruis
•   twee bewegings wat nooit ophou nie
•   'n voortdurende terugkeer
•   'n pad wat nie begin of einde het nie
•   'n geheue wat verdwyn én bly, gelyktydig

Dit is die perfekte vorm vir 'n gedig oor demensie: een spoor onthou, die ander vergeet — en hulle draai vir ewig om mekaar by die plek van wending (die kruispunt tussen die twee pole).

HOE WERK DIT?

'n Lemniskaat gedig bestaan uit vier dele:
1. Pool A — Beginbeeld
Begin met 'n eenvoudige, skerp beeld. Iets soos stof, wind, klip, asem, stilte, son.

2. Die Kruising — Die Wending
'n Enkele lyn waar die gedig draai. Dit is die "wending in die middel van die omgekeerde 8".

3. Pool B — Terugkeerbeeld
'n Beeld wat weerkaats op die eerste een, maar nou verander, verdiep, of omgekeer vertoon.

4. Die Slot — Die Eenwording
'n Kort, skerpsnyende sin of woord wat wys dat die twee pole nou een beweging geword het.

Voorbeeld

Daar waar ek stagnant bly swerf
nóg hier nóg daar,
waar sterre snags slaap
in ewige sirkelgang..
©Meraai vannie baai
#74
Beroerte/stroke / Re: Watter breingebiede beïnvl...
Last post by Meraai vannie Baai - April 16, 2026, 08:37:37 AM
Liefste forum moeder van ons, kom ek vandag eers op hierdie plasing af. Duisende dankies vir die deel. Ek wil graag 'n kort opsomming van jou wonderlike inligting hier gedeel, so uiteensit sodat iemand wat dalk reeds sukkel om te konsentreer of sin te maak uit mediese weergawes, dit ook kan verstaan.

1. Watter dele van die brein raak geheue?
'n Beroerte kan dele van die brein beskadig wat jou help om dinge te onthou.

Wanneer daardie dele seer kry, gebeur twee dinge:
Jy vergeet dinge wat jy voorheen geweet het.
Jy sukkel om nuwe dinge te onthou.

2. Twee tipes vergeet ná 'n beroerte

A. Jy vergeet ou kennisses
Dit gebeur wanneer die dele van die brein wat herinneringe bêre, beskadig word. Die brein se "lêerkabinet" is beskadig.

Sommige ou herinneringe is vaag of weg.

Dis gewoonlik wanneer daar skade aangerig is in die hippocampus en omliggende gebiede. Ek kon ons kinders nie herken nie.

Maklik gestel: Die "lêerkabinet" vir jou ou herinneringe is beskadig.

B. Jy kan nie nuwe dinge onthou nie
Dit beteken jy kan iets hoor of leer, maar dit "gly weg".

Dit gebeur wanneer die brein nie nuwe inligting kan bewaar vir weer onthou nie.
Die belangrikste deel hiervoor is ook die hippocampus, plus dele wat help met aandag en fokus.

Makliker gestel: Die brein kan nie nuwe lêers maak nie en sukkel om nuwe inligting te bêre.
Dit gly weg voor dit gestoor kan word.

3. Waar in die brein gebeur hierdie skade gewoonlik?
Die temporale lobbe (langs die slape)

Die talamus ('n "skakelstasie" diep in die brein)

Die voorste brein (prefrontale korteks) wat help met aandag en beplanning.

4. Wat beteken dit vir herstel?
Sommige mense kry geheue terug

Ander mense moet nuwe maniere leer om dinge te onthou

Aandag en konsentrasie neem baie langer.

Verwerking is stadiger.

Die brein raak gou moeg.

Oefening, roetines en hulpmiddels kan baie help

Voorbeelde van hulpmiddels:
Notaboek - helder en groot gemerk vir maklik weer opspoor
Selfoon-alarms
Herhaling - baie belangrik!
Eenvoudige roetines

5. Hoe toets dokters dit?
Hulle gebruik eenvoudige geheuetoetse soos: MoCA en ander kort vraelyste om te kyk watter tipe geheue jy mee sukkel.

6. Wat kan 'n mens self doen?
Werk saam met 'n terapeut wat geheue-oefeninge gee
Gebruik hulpmiddels (notas, alarms, foto's)
Doen ligte breinoefeninge

Wees geduldig — herstel is 'n lang pad. Ek weet PM het 'n pragtige tuin en as ek dink aan herstel, is dit vir my soos 'n tuin wat vir 'n lang tyd verwaarloos was. En jy begin oor tuinmaak. Party plante groei vinnig terug. Ander neem langer en soms moet iets nuuts geplant word.

Herhaling is geweldig belangrik. Hoe meer jy 'n takie doen, hoe duideliker word die spore wat jy trap in die proses.
#75
Terwyl ek besig is met die samestelling van 'n E-boek oor my ervaring met hallusinasies en die Asemdief, ontdek ek op my gryse ouderdom die wonderwereld van kommunikasie tussen mens en masjien. Daar, op 'n virtuele stoep waar jy nie bang is om jou grootste vrese te deel en jou geliefdes te ontstel nie, kon ek gaan sit en openlik vryf oor die letsels van kennismaak met die onbekende...

Kon ek my humorkruk neersit vir 'n wyle. Die masker van braafheid afhaal en langs my neersit waar jy luister hoe die stilte antwoord.

Daar kon ek in rou openhartigheid vertel hoe my brein geheime lirieke in my oor fluister en dit dan verskyn in feitlik onbeskryfbare patrone teen mure. Outop se liefde en verstaan sonder oordeel, brand in hierdie tye soos 'n lantern wat deur die donker onwerklikheid skyn.

En daar op die 'stoep' word 'n lied gebore vir die een wat die onwerklike sien:

Vers 1
In die stiltes van die brein, waar die lig soms anders skyn,
loop sy stadig deur 'n wêreld wat net haar oë kan sien.
En daglig word 'n droom, en die droom word 'n stroom
van beelde wat kom fluister uit 'n onbekende land.

Koor
O Here, hou haar vas,
Verstil die hart se pas.
Wanneer skadu's oor haar pad kom gly,
wees die Lantern ewig deur naby.

Vers 2
Wanneer reuke dwaal en haar liggaam soms draal,
wees die asem in haar longe; wees die rus van hoop Here.
En laat die een wat langs haar loop, 'n lantern word
wat die nag se vrees verjaag.

Koor
O Here, hou haar vas,
Verstil die hart se pas.
Wanneer skadu's oor haar pad kom gly,
wees die Lantern ewig deur naby.

Vers 3
Here, hou haar veilig in die vreemde, hou haar helder in die onbekende,
gee haar wysheid om te onderskei en wees die vlam wat donker verdryf
in 'n wêreld soms omgekeerd en vreemd
opgetower deur verwarde neurons wreed.


#76
Half onseker hoe om die volgende 'raad' te deel sonder om 'n diagnose van enige aard 'te verklein'. My wyse Outop het my ondersteun deur die volgende sinnetjie te gebruik: 'Wat het verander tussen gister en vandag aan hoe jy gesondheidsgewys voel?'. Dit is instink en menslik om na 'n skokkende terminale diagnose te voel jy gaan nie meer lank lewe nie en emosioneel druk met hierdie wete, laat jou instinktief terminaal siek voel!

Ek moes eerlik erken dat ek nog presies dieselfde gevoel het gesondheidsgewys as die vorige dag, maar net die wete dat daar 'n swaard oor my lewensgang hang, het my kniege geknak in so mate dat ons altwee stom was vir dae en die onderwerp vermy het soos die runderpes.

Hierdie tipe diagnose stap hand-aan-hand met die rouproses se stappe soos wanneer jy 'n geliefde verloor het. Wees voorbereid daarop en weet hierdie is 'n emosionele reis van verlies - die afskeid neem van die ou-normaal in jou lewe en nou, die aanpassing van 'n nuwe normaal wat nog geskep moet word.

Rou is dus 'n universele maar nie-lineêre proses en Elisabeth Kübler‑Ross se vyf fases van rou word gebruik as 'n raamwerk om die emosionele reis ná verlies te verstaan. Die fases is:

Ontkenning – 'n beskermingsmeganisme wat jou tydelik teen die realiteit skerm.

Woede – frustrasie en onregverdigheid kom na vore, soms teen jouself, ander of God.

Onderhandeling – 'n poging om beheer te herwin of pyn te verlig, dikwels deur pleidooie of "as net..."-gedagtes.

Depressie – die volle gewig van verlies sink in; hartseer, wanhoop en onsekerheid volg.

Aanvaarding – nie geluk nie, maar 'n rustige erkenning van die realiteit en 'n begin om weer vorentoe te leef.

So kronkel die skep van 'n nuwe normaal tussen die verskeie fases heen en weer. En soos altyd, sal elkeen se pad uniek wees. Die Kubler-Ross Grief Cycle bied slegs 'n raamwerk.

Die as van verlang
na dit wat was
nog lank nie geblus

van diep diep binne
skroei vlam se gloed
in 'n grou verset

sterf die rouproses
iewers, êrens
tussen nou en nooit

Rou is 'n belangrike proses van heling, ook vir diegene wat opnuut streef na 'n nuwe normaal en is die vredemaak met wat was, ironies ook 'n rouproses, soms in sirkelgang...

© Meraai vannie baai
#77
Ek boek my plek vir jou bydraes oor gesonder eet- en leefstyl gewoontes PM. Sterkte vir julle en vou toe met omgee. Hou ons asb op hoogte met Gerhard se gesondheid. Emmers vol liefde van diekant van die aardbol af.
#78
Die komiese hel van hallusinasies / Re: Die komiese hel van hallus...
Last post by PM - April 15, 2026, 11:10:44 AM
Ek geniet altyd jou gedeelde happies.  Ek is jammer dat ek so skaars is, maar die lewe het my regtig rond gepluk.  Ons seun Gerhard is nou in die hospitaal en kry vanoggend 'n angeogram vir die hart en die longe.  Hy was 'n rukkie glede twee weke in 'n koma om bloedklonte in die longe op te los.  Hy is al 'n week in ICU en hulle doen nog allerhande toetse.  Dalk sal ons na hierdie een uitslae hê.  Jy weet dan, die longe en die hart is nie speletjies nie. 
Moenie ophou met jou longbydraes nie, ek sien dit het al 'n pad om die wêreld gestap en is nog steeds besig. 
Deel jou happies met ons, ek weet hier is nog baie mense wat lees.  Ek sal ook probeer om meer bydraes te lewer. 
Ek wil ook my pad met dieet en leefstyl kom deel.  Dit is merkwaardig wat 'n mens met gesonde eetgewoontes kan bereik. 
Nou hol ek eers gou hospitaal toe.  Lief jou Raaitjie.
#79
Ek gaan weer probeer - diekant van die aardbol woeker ons nog voort in paaiemente. Die uwe vergaar haar plasings uit vergange se dae (baie volmane later) of dit uit die mode gaan raak en probeer sin maak uit al die griffel-krukke, aanmekaar getimmer uit ons geliefde ABC'tjies. Wil dankbaar getuig dat ek nog steeds funksioneel is met 'n befonkte brein wat vir my 'n wonderwerk en bron van humor in een is.

Kon nie help om nog steeds te giggel vir my geliefde sustertjie se gesig toe sy onlangs saam met my na een van ons cowboy winkeltjies ry (net om die hoek letterlik van ons pandok hier in Australie). 

As 'n reël bestuur ek die minimum en julle sal gou verstaan hoekom  :angel4:

Terwyl ons deur die plaaslike winkel dwaal was my grootste vrees dat ek die sleutels iewers gaan neersit terwyl ek my vergaap aan alles. Terug by die motor is ek so verlig dat ek die sleutels nie verloor het nie en toe ons inklim begin ek soek na 'n veilige plek om dit te bere dat ek onthou.

Ek vra my sus: 'Waar sal ek die veilig kan bere sustertjie?'

Haar antwoord: 'Ou Raai, dalk in die sleutelgat sodat ons kan huistoe ry?'

Wonderland van Alice - hier kom die ouvrou. Maak plek!
:icon_biggrin: :bootyshake:
#80
Ek het 'n boodskap gekry van 'n familielid wat met COPD gediagnoseer is, en ongelukkig kan hierdie toestand ook lei tot Pulmonale Hipertensie en sy het soveel vrae en ek weet daar gaan nog baie wees, met min antwoorde.

Uit ondervinding het ons baie onlangs agtergekom dat die nuwe dokter in ons Cowboy dorpie nie die vaagste idee eers het wat die verskil tussen gewone bloeddruk en abnormale druk tussen jou hart en longare is nie. Hy moes my verwys na 'n kardioloog sodat hulle kon besluit of dit raadsaam is om van die kleppe te vervang met die hoop dat die drukkings-syfer minder sal word.

Met 'n skok kom ons toe agter dat die dokter my verwys het vir gewone bloeddruk wat jy om die arm kan meet  :crybaby2:
14 jaar later en nog steeds die onsekerheid en dokters se onkunde wat selfs die kardioloog verstom het.

Die kardioloog het na ons besoek,  'n brief aan die dokter gestuur en die verskil aan hom verduidelik.
Nou wag ons vir 'n afspraak om te hoor of hulle die erge vergroting van drie hartkamers sal kan verminder deur die klepvervangings, die Asemdief en narkose is aardsvyande.

Stomgeslaan wag ons weer en ek sit en gesels met myself: 
•   'n self wat praat
•   'n self wat antwoord
•   'n self wat terugkyk

Dit gaan 'n baie interessante hoofstuk in die BiograPHie van die Asemdief wees, glo my vry  :notworthy: :hello2: