Die Pre-diagnose stadiumHierdie plasing gaan 'n ietwat anderste voorkoms hê. Daar was 'n tydstip in my lewensgang (soos met menige ander kreatiewe siele

) waar ek 'n donker tema gehandhaaf het in my griffels. Hetsy dit gedigte was of artikels. Tydens hierdie tyd was die Asemdief nog net ’n skadu - ’n naamlose spanning in die sinapse, voor enige diagnose. Wat ek nou gaan deel is net 'n 'voorbewuste self-getuienis' van die vroeë, onbewuste verslag van terminale simptome, verskuil tussen metafore.
So het my liggaam sy eie alfabet gehad en was simptome onbewus bewoord. Nou, 15 jaar later besef ek dat hierdie 'donker verse' niks meer was as 'n vroeë, kliniese pre-diagnose verslag, verskans as gedigte in die taal van iemand wat nog nie toestemming gehad het om bang te wees nie.
Die digterlike instink het met metafore reeds gefluister wat die liggaam nog nie durf erken het nie. Nie seker watter stadium die uwe haar nou in bevind nie, dalk in die dissekteer stadium om myself beter te verstaan voor ek straks 'n vreemdeling word en met myself land en sand gesels in die spieël

Laat my toe om die volgende gedig wat 'n jaar voor my diagnose met PH gegriffel was as voorbeeld van die Dizain gedigstruktuur:
Geskrewe Gedagtes (Dizain) Hoorbaar vanuit 'n pynstillende sfeer
verklap vingers geskrewe gedagtes,
deur naakte emosies so geformeer
met woorde wat nes die haweloses
dorstig smag na vurige intriges
verhoed deur ons sosiale wette;
verskans uitgebeeld as silhouëtte
tussen ons verslyne se frekwensies
die woorde nou geëtste fasette:
visueel en poëties simbolies.
© Meraai vannie baai
Die byskryf by hierdie skepping was die volgende: Terwyl ek besig was met die skep van die gedig het die klanke van die tikkertjie soos die woorde voor my vorm aanneem, my onrustige gemoed kalmeer en ek het besef daar waar ons in die kreukelkamers woel met die ABC, is eintlik niks meer vir my as 'n 'pynstillende sfeer' waar ons soms met die woordbeitel ets aan emosies wat 'verbode' is vir die leser en ons dit dan simbolies voorhou as silhouëtte. As ek nie my emosies kan verwoord nie, voel ek haweloos...
*Ek sal 'n uitleg as kommentaar onder hierdie plasing deel aangesien dit reeds 'n lywige bydrae is.