Ek sê mos, om te weet is om te verstaan!
Gister het ons oppad terug van die substasie na RSG geluister. 'n Vrou het 'n gesprek gehad met mense wat liggaamlik gestrem is. Hoe hulle ander mense se onkunde aangaande hulle toestand ervaar en wat sou hulle graag wou verander het as hulle kon ens. 'n Blinde man het gesê hy is gewoond aan die situasie en die ander wat slegs liggaamlik geraak is, sou graag 'n gesin wou hê, maar die mense wie se spraak erg geraak is, wou almal net graag in 'n beter situasie wees om met ander te kommunikeer. Buiten vir die feit dat ander mense dink hulle is koolkoppe, of idiote, omdat hulle spraak ook aangetas is, frustreer die feit dat hulle nie maklik kan kommunikeer nie, hulle die meeste.
Wat eintlik treffend is, een vrou het gesê dat daar soveel mense is wat 'n innerlike gebrek het, iets wat die oog nie kan sien nie en wat mense nie verstaan nie en dit is nog moeiliker.
Vir my is dit altyd moeilik as ek met 'n onbekende gebreklike persoon te doen kry, omdat ek nie weet hoe om die persoon te behandel om hom/haar nie ongemaklik te laat voel nie.
Dit geld dan ook vir die "swartjasdraer". Wat sê ek of doen ek om daardie persoon te help? Ek kan jou mos nie sommer net uitlos nie! Ek lief jou dan te veel!