Oeps! Julle wil nie weet nie. Vieruur vanoggend toe gooi 'n rondloper hond die asblik hier op die stoep teen die trappe af. Ons wou net weer aan die slaap raak toe trip die krag weer, so teen vyfuur se kant. Ek kyk deur die venster en sien die gebou oorkant ons is darem nou baie mooi oranje en besef "daar is 'n vuur".
As jy nog nie 'n grasdak gesien brand het nie, het jy nie vuur in al sy glorie ervaar nie. Mensig, dit was 'n skouspel. Die lodge se kombuis en eetsaal, wat alleenstaande is, was aan die brand. Net links van die kombuis, so 15 meter duskant, is drie rondawels, pas langs mekaar. Die eerste een langs die kombuis is die ontvangs. Ons staan eenkant, weet van goed wat ontplof in so 'n vuur en ons het reeds vroëer die gasbottels teen die kombuis se muur waargeneem. My hart klop benoud oor al die personeel wat luidkeels tussen die kombuis en ontvangs saamdrom en party loop knap by die brand verby om selfoonfoto's te neem. 'n Mens kan sien dat hulle geen benul het van brandprosedures nie.
Kort-kort is daar 'n ontploffing. Dit klink soos bottels wat bars. Dan bars die vensters en die suurstof sorg vir 'n brand wat ten hemele lek. Jy sien net mense wegskarrel! Nou is hulle tjoepstil.
Die grasdak tuimel ineen en die vonke sorg vir 'n asemrowende prentjie.
Alhoewel daar nie wind waai nie, dwarrel die vonke oor ontvans se dak. Ek seg vir Hannes, hier kom moeilikgeite, hulle sal daardie dakke moet natspuit.
Waarmee? Ons het nie eers waterdruk om mee te stort nie.
Ons woorde was nog nie koud nie, toe vat dit vlam. Toe skarrel almal wat in die omgewing is weer luidkeels om die kantoormeubels, rekenaars en ander belangrike goed uit te dra.
Dit is bykans sesuur toe die brandweer opdaag. Die manne val oor hul eie voete. Dit lyk asof niemand weet wat om te doen nie. Die kombuis en eetsaal is in elk geval nie te red nie. Die brandende balke en stoele en tafels lyk soos 'n prentjie uit 'n film.
Die brandweermanne probeer die pype koppel, maar nee, dit pas nie so mooi nie. Na dertig minute se gesukkel spuit die eerste water op ontvangs se dak. Teen daardie tyd het die son lankal sy kop oor die koppe kom lig om die spulletjie gade te slaan.
Langs my staan een van Hannes se werkers.
"Eish, mama, nou gaan ons twee weke wag vir krag!"
Terug by die kamer is 'n ou-stokou swartman. Hy sit daar op die trappie en praat met Hannes, mooi in Afrikaans: Oupa, ek het hulle al baja keer gesê dat hulle nog groot moeilikgeite gaan kry met dié mense wat die krag werk sonder 'n ticket, maar hulle wil niks hoor nie..." en om hom bars 'n luide gesprek uit. Net daar besluit ek dat ek nie vandag daar sal vrede kry nie.
Teen die tyd wat ons gery het, het hulle nog gesukkel om die smeulende gras van die grasdak af te trek wat knaend van voor af begin brand.
By die hek stop Hannes by die "managing director". Sy het 'n groot glimlag om haar mond.
"Electric fault. It started in the kitchen. Beyond our controle. Do'nt worry, we will make a plan for food tonight."
Ons sal sien.