Hoekom demensie lyers weier om te eet of drink:Een van die ontstellendste fases gedurende die versorgingstydperk van demensie-lyers is wanneer die persoon opgehou het met eet of drink. Ongelukkig is dit dikwels 'n natuurlike deel van die verloop van die siekte. As versorger is dit belangrik om sommige van die oorsake van hierdie stadium van die siekte te verstaan en wat dit beteken vir die persoon vir wie jy omgee.
In die gevorderde stadium van demensie ontstaan probleme om te kou of te sluk. Om te eet en drink is 'n komplekse proses wat die beheersentrum in die brein en sterk spiere in die nek en keel insluit. Namate demensie vorder, beïnvloed dit hierdie gebiede en veroorsaak simptome wat dan deur versorgers waargeneem word. Hierdie simptome sluit in: hoes of verstikking, keelskoonmaak, geluide maak tydens die slukproses, oordrewe bewegings van die mond of tong, weiering om te sluk of om voedsel in die mond te hou en selfs om die kos uit te spoeg.
Dit is dus te verstane dat versorgers bekommerd gaan raak oor hulle geliefdes en wonder of hulle gaan sterf weens honger of dors?
In die eindfase van demensie, wanneer hierdie fase gewoonlik ontwikkel, neem die behoefte aan inname van voedsel en vloeistof geleidelik af met verloop van tyd en het die liggaam reeds begin aanpas. Die aktiwiteite het gewoonlik ook afgeneem, dus hoef die persoon nie soveel kalorieë in te neem nie. As versorgers dit verstaan en die aktiwiteitsvlakke waarneem, kan dit die versorgers help om te verstaan waarom daar nie soveel kos of vloeistof nodig is nie. Mediese hulp kan verkry word om waarnemings te doen en die versorger te verseker dat ontwatering nie 'n faktor is nie, of stappe doen om te help.
Wat is kunsmatige voeding en hidrasie ( Artificial Nutrition And Hydration - ANH)?ANH verwys na enige metode wat gebruik word om voedsel en vloeistowwe te verskaf aan diegene wat nie in staat is om voedsel te sluk of deur die mond in te neem nie. ANH word gewoonlik toegedien deur 'n voedingsbuis wat deur die neus in die maag gaan, maar dit kan ook gedoen word deur 'n buis wat direk na die maagwand gaan.
Vloeistof word ook binneaars toegedien of onderhuids onder die vel geplaas. Soms is ANH moeilik vir die persoon met demensie. Gedwonge voeding in hierdie fase is 'n punt vir 'n debat in die versorgingsproses en word nie aanbeveel nie.
Gesondheidswerkers en versorgers wat verstaan dat dit 'n normale deel van die siekteproses is, kan teen ANH besluit. Om die voedingsbuise in te sit, is ontstellend vir die persoon met die siekte wat aan die buise kan trek en soms dan in die proses ook uittrek. Hierdie plekke kan maklik besmet raak en die gevaar van infeksies verhoog. Die persoon wat met demensie leef, verstaan kan dalk glad nie verstaan waarom hulle in die hospitaal moet wees vir die prosedures nie en kan onsteld word weens die onbekende omgewing.
Onlangse studies dui daarop dat die toedien van voedsel en vloeistowwe deur ANH meer skade kan doen as goed.
Die gee van voedsel deur 'n buis verander nie aan die hoes of verstikkingsproses nie. Soms kan vloeistowwe in die longe beland wat longontsteking veroorsaak. As die persoon bedgebonde is verminder dit mobiliteit, bevorder dit swakheid en veroorsaak ontwikkeling van gevaarlike infeksies soos o.a bedsere.
Die jongste studies toon dat een derde van die mense met gevorderde demensie wat 'n voedingsbuis het, binne een maand sterf.
As versorger is die grootste kommer dat die persoon met demensie nie ly nie. Sodra ons verstaan dat dit 'n normale deel van die siekte is, word dit makliker om te sien waarom die persoon nie meer nodig het om soveel te eet of drink nie. In die meeste gevalle sal hulle geen teken toon dat hulle honger of dors is nie, maar as hulle dit wel toon is dit nodig om mediese hulp te verkry sodat aanbevelings gedoen kan word oor watter tipe alternatiewe voeding die persoon moet ontvang om te verseker dat hulle nie honger of dors is nie en so gemaklik moontlik gemaak word.
As die persoon wil eet of drink, maar sukkel om te sluk, is dit belangrik dat 'n gesondheidswerker/mediese personeel/spraakterapeut die vermoë om te sluk ondersoek. 'n Gebalanseerde dieet in hierdie stadium is nie so belangrik nie, bied eerder voedsel en vloeistof aan die persoon wat met gemak gesluk kan word. As hulle net soetgoed of koue goed wil verkies is dit wenslik om toe te gee aan die versoeke.
Wat kan ek doen om te help?
Eerstens moet versorgers enige fisiese probleme soos mondsere, tandpyn, te los kunsgebit, infeksies of medisyne wat eetlus kan beïnvloed, uitsluit. Probeer dan om die aangebode kos of vloeistof na behoefte te verander.
Gee sagte, maar smaaklike kos wat minimaal gekou moet word en in verskeidenheid temperature by elke maaltyd.
Vermy harde voedsel met 'n growwer tekstuur en gemengde voedsel soos graan.
Gebruik kleiner toebehore en spesiaal ontwerpte drinkbekers.
Laat die persoon in 'n gemaklike posisie regop sit.
Laat ekstra tyd toe, want dit 'n tydsame proses word maar sal die moeite werd wees as jy sien dat hulle 'n maaltyd geniet.
BRON:
https://hellocaremail.com.au/dementia-stop-eating-drinking/?fbclid=IwAR3VCMCslK6JMP12rI43b6nlO351JDWCdR57JSgjQAKJagtrF0blJEhUR88