*As jy enige kommerwekkende simptome ervaar - besoek jou geneesheer. Tussen hierdie lyne en ander plasing rakende gesondheid, teken ek net aan wat ons as familie/gesin (en ander gesinne) beleef. Ek het van my mediese plasings eers na my eie hoek verskuif sodat ek dit op hoogte kan bring.
In bodemlose rakke
pak sy die ure van haar skuifelgang
een-een weg...
Blink gepoetsde gisters
staar grootoog uitgestal
en die vreemdeling
noem haar
Mamma.
© Meraai vannie baai
*
Blink gepoetsde gisters verwys na die onvermoë van demensielyers om byvoorbeeld te onthou dat hulle wel ontbyt gehad het maar 'n ete van 20 jaar gelede saam ou vriende sal onthou word tot op die fynste detail en die storie herhaaldelike kere weer oorvertel asof dit gister plaasgevind het.
WAT IS DEMENSIE?Seker een van die ongenadigste terminale siektes wat die mens kan tref en meer gevrees as die groot K op die oomblik.
Dimensie kan deur 'n wye verskeidenheid van siektes en toestande veroorsaak word soos o.a vaskulêre siektes, sklerose, motorneuronsiekte en Parkinsons terwyl Korsakoff-sindroom en MIV skaarser oorsake daarvan is. Die mees bekendste vorm is natuurlik Alzheimer's en tweede is die minder bekende vorm nl. Lewy Body Dementia (LBD).
Die persoon se brein krimp stelselmatig weg weens die vernietigingsproses van lewensbelangrike neurons en verbindings in die brein. Demensie simptome wissel afhangende van die oorsaak, maar algemene tekens en simptome sluit in:
Kognitiewe veranderingeKorttermyn geheueverlies, wat gewoonlik deur 'n eggenoot of iemand anders opgemerk word.
Probleme met sekere woorde om funksioneel te kommunikeer.
Probleme met visuele en ruimtelike vermoëns, soos om te verdwaal.
Moeilike redenering of probleemoplossing.
Moeilikheid om komplekse take te hanteer.
Probleme met beplanning en organisering.
Probleme met koördinasie en motoriese funksies.
Verwarring en disoriëntasie.
Sielkundige veranderinge
Persoonlikheids veranderingeDepressie.
Angs.
Onvanpaste gedrag.
Paranoia.
Opstandig.
Hallusinasies.
Bronne:
https://www.mayoclinic.org/diseases-conditions/dementia/symptoms-causes/syc-20352013https://www.nia.nih.gov/health/what-happens-brain-alzheimers-diseaseFeite wat ons moet onthou oor demensie:1. Dit is 'n sambreel-terme vir baie soorte tipe gedragsprobleme en persoonlikheidsafwykings soos alzheimer byvoorbeeld. Daar is +- 90 vorme van demensie. Daar is selfs nou sprake van +- 200 soorte demensies.
2. Die siekte is kronies en word dus stelselmatig erger en tydsduur kan ook wissel van persoon tot persoon.
3. Dit is terminaal. Gemiddelde lewenstydperk na diagnose is gemiddeld 8 tot 12 jaar en selfs minder. Hierdie tydperke kan verskil van persoon tot persoon afhangende van gesondheid en sekere medikasie voordat die dementia gediagnoseer was. Daar is wel ander vorme van demensie, veral waar bloedtoevloei ter sprake is en persone enige tydperk van 3 tot 30 jaar kan leef met die siekte (Lewy dementia).
'n Blywende verandering in die persoon se algemene doen en late kan 'n aanduiding wees van die vroeë stadium van demensie en 'n behoorlike diagnose moet gemaak word sodat die regte behandeling vir verligting van simptome toegepas kan word.
Daar is nog geen kuur vir demensie op die oomblik nie alhoewel baie navorsing gedoen word.
Ek wil graag 'n nuwe onderwerp begin oor Demensie en hoop dat versorgers en pasiënte voordeel sal strek uit die deel van ons eie pad en verwysings na talle skakels/videos ens. Hierdie onderwerp lê teer in die holtes van my hart. Die volgende was 'n samestelling wat ons uit eie ervaring agtergekom het toe 'n geliefde se geaardheid en optredes al hoe meer kommerwekkend en soms selfs komies begin raak het.
Agterdog:* Daar is iemand wat haar/sy goed 'steel'.
* Familie wou haar/hom 'vergiftig'.
* Neem self dinge en steek dit weg.
Emosionele verandering:* Raak selfsugtig en uiters onsimpatiek.
* Jaloesie.
* Kritiserend uitgesproke teenoor versorger(s).
Higiëne verswak:* Persoonlike higiëne verswak. Vergeet/weier om te bad of stort, skoon aan te trek.
* Raak 'verslons'.
* Herhaal dieselfde takies onophoudelik terwyl ander belangrike take agterweë gelaat word.
* Oortuig dat hulle nog elke dag alles netjies hou en skoon aantrek terwyl daar kommerwekkende agteruitgang bespeur word.
Gedragsveranderinge:* Eetgewoontes verander en ontstig mede familielede tydens ete.
* Vertel dieselfde gebeure/verhale oor en oor.
* Leef in 'n sekere tyd van die verlede en kan nie
cope met die huidige nie.
* Korttermyngeheue veroorsaak spanning en kommer.
Versorgers leer gou dat die optredes van hulle geliefdes 'n taak is wat baie simpatie, Salomo se geduld en wysheid gaan verg. Dit is nie moontlik om die persoon met demensie te probeer oortuig dat hulle optredes verkeerd is nie. Dit gaan jou duur te staan kom as jy verwag dat hulle jou rasionele benadering gaan insien aangesien hulle in denkwyse totaal verward en irrasioneel is.
Drie dinge wat sielkundiges voorstel wat ons liefs nooit moet noem of doen vir mense met tekens van demensie nie:
1. Moenie probeer argumenteer nie. Hulle het die vermoë verloor om te kan redeneer en dinge uit te pluis soos normale persone. Ontlont situasies rustig en bly kalm. Haal diep asem en blaas uit. Hierdie eenvoudige tegniek is BAIE belangrik want as jy gespanne raak haal jy vlakker asem en jou liggaam stel 'n hormoon vry wat jou nog meer gespanne en opstandig gaan maak het navorsing bewys.
Voorbeeld: As hulle jou beskuldig dat jy hulle besittings steel - stel dan rustig voor dat jy sal help soek en noem dat julle dit dalk sommer gou gaan opspoor. (Hulle aandagspan is heelwaarskynlik alreeds baie kort en sal tien-teen-een vergeet wat hulle soek).
Moenie verwyt wanneer die 'verlore' voorwerpe gevind word en jy weet dat die hele toneel homself weer gaan oorspeel nie.
Vermy die instinktiewe gevoel om jou humeur te laat opvlam en jy kwaad word vir die persoon, onthou - dit is die simptome van die breinsiekte wat tevoorskyn kom en is nie willekeurige optredes nie.
2. Moenie hulle in die rede val en korregeer nie. Stem saam en verander die rigting van gesprek. As jy 'go with the flow' is dit vir jouself, jou gesin en die pasient die beste oplossing. Sodra jy hulle verkeerd probeer bewys of uitwys raak hulle aggressief en kan baie onredelik optree en lelike beskuldigings gooi wat hulle binne 'n uur nie eers gaan onthou dat hulle dit gese of gedoen het nie!
Voorbeeld: As hulle voel iemand wil hulle leed aandoen, noem dat jy dit by die polisie aangegee het of sal aangee en hulle gaan die saak opvat. Weereens - trek die aandag af, bied koffietjie aan of se kom ons stap ek wil mamma 'n blommetjie in die tuin wys ens.
3. Moenie hulle probeer betrek in jou lewe en alledaagse gang nie. Hulle leef in hulle eie ruimte. Jy moet inskakel by dit en deel word van die tydperk wat hulle in die oomblik is. Dit gaan weer verander. Sommige pasiente (87 jaar oud) antwoord dat hulle 22 of 23 is wanneer hulle ouderdom gevra word! Vra uit oor wat hulle van gehou het of wat hulle geniet het om te doen soos byvoorbeeld vorige stokperdjies, ontspanning ensovoorts.
Witleuentjies om die dementia-vuur te blus is een van die magtigste wapens in 'n versorger se arsenaal!