'n Voorreg om te deel soos altyd matertjie. Die onderwerp le baie na aan my hart. Vanoggend wil ek weer ietsie deel waaroor ek gesels het kort na diagnose van die asemdief.
Ek voel soooooo ongemaklik na ete, selfs al is dit baie kleiner porsies as wat ek voorheen geneem het. Gewoonlik is Outop nog aan't ete dan moet ek myself van die tafel af verskoon en skuins op die bank gaan lê en die geleende asems nadersleep. Dit lei natuurlik daartoe dat ek skuldig voel omdat Outop dan alleen afdek en opruim.
Dit is juis hierdie skuldige gewete wat my laat grawe het in die kuberruim om agter te kom of iemand anders met hart- en longprobleme ook so voel. Wou seker maak dit is nie my verbeelding of 'n 'onbewuste' manier om die afdeksessies te vermy nie

Ek het reeds geweet dat 'n oormaat sout in jou dieet sal veroorsaak dat die liggaam vloeistof moeiliker afskei en derhalwe vog opbou wat kan lei tot swelling, ongemak en verhoogde sistemiese bloeddruk aangesien 'n hoë soutinname die massa van die linkerventrikel van die hart verhoog.
Die are verdik en verstyf wat dan lei tot verhoogde weerstand; insluitende die koronêre are en die van die niere. Dit verhoog die voorkoms van beroertes, die graad van hartversaking en die neiging tot klonting en versnel die agteruitgang van renale funksies.
Aangesien baie PH pasiënte in 'n stadium van regterhartversaking verkeer is hierdie ekstra stremming van 'n oormaat sout in jou dieet op die hart 'n vergrote risiko. Indien jy vogafdrywende medikasie (waterpille in die volksmond) neem, plaas dit ekstra las op die niere - ekstra sout kan sake drasties vererger.
Hoeveel jy op enige gegewe tydstip eet, sal natuurlik beïnvloed hoe jy voel. Alhoewel die maaggrootte baie wissel van een persoon na die volgende, kan 'n oorvol maag sy normale grootte tot vier keer verhoog en sal beslis bydra tot jou ongerief.
So oorvol maag (reg onder die diafragma gelee) sal opwaartse druk op die diafragma veroorsaak. Die relatief swakker spiere het dus probleme om tydens asemhaling te strek en kan jou longfunksie beïnvloed.
Spysvertering is afhanklik van asemhaling om suurstof te verskaf aan die spiere wat gebruik word in die omskakeling van vaste voedsel na vloeistof soos dit deur die spysverteringskanaal beweeg. Vir die PH pasiënt wat nie in staat is om te vergoed vir die ekstra suurstof aanvraag nie, beteken dit dat minder suurstof tydelik beskikbaar is vir ander organe.
Vir persone met vergrootte hart/versaking en asemhalingsprobleme skep dit groot ongemak en vererger simptome. Ek het agtergekom dat dit help om jou suurstof tydens maaltye ook te gebruik as jy nie reeds op 'n 24/7 dosis is nie.
Hier is hoe jy jouself kan help:
• Vermy té sout kos en etes
• Raak vertroud met jou soutverdraagsaamheid
• Eet kleiner maaltye deur die dag, eerder as groot etes
• Vermy moeilik verteerbare voedsel
• Rus en gee jou liggaam kan om die maal te verteer
*Bronne:
Harmful effects of dietary salt in addition to hypertension, Nature
How do the digestive and respiratory systems work together, Livestrong
Volume of a Human Stomach, Livetextbook
Breathing and Motor Neuron Disease, MND
Een van my geleende bronne
http://www.phcentral.org/tidbits het ongelukkig na 17 jaar van inligting verskaf aan PH pasiente, hulle deure gesluit aangesien daar nou baie meer bewusmakingsveldtogte die lig gesien het.