Jy is dierbaar
Wat die hartseerste deel van hierdie situasie is liefste PM, is die feit dat Outop al hoe stiller en afgetrokke geraak het. Sy humorsin het begin kwyn en die enigste toedanering was 'n piksoentjie soggens as hy gaan werk. Terwyl ek verlede jaar die ondersteuning gehad het van die universiteit se navorsingsprojek, het ons eers besef in watter mate Outop homself beskerm het deur te begin ontrek. Ons het hulle raad gevolg en lang gesprekke gevoer. Die gevare uitgelig.
Daar was 'n klein opflikkering maar stelselmatig het hy weer begin mure bou. Was dit nie vir ons pragtige verhouding as die beste sielemaats ook bo en behalwe net man en vrou wees nie, sou ons huwelik 'n ernstige knou gekry het soos wat met so baie van my mede PH'ers gebeur het.
Ons verhouding het so platonies geraak in 'n paar maande dat ek depressief begin raak het. Saans as hy tuis kom het ek so min as moontlik staat gemaak op geleende asems om aan hom te wys dat ek nie besig is om dood te gaan nie. Ek wou nie meer net sy pasient wees nie. Het my man gemis. Intussen het hy al hoe meer huishoudelike take op homself geneem om my te 'beskerm' en die kinders het bekommerd geraak want ons kon sien dat hy gewig verloor.
Die stres en kommer tuis het so invloed op hom gehad dat hy sy toesighoudende posisie by die werk afgeskaal het. Maak nie saak hoeveel keer ek hom probeer oortuig het dat ek 'fine' is.... dit het nie deurgedring nie. Dit was aaklig om hom so te sien kwyn en ek leef nog!!
En toe het ek besluit genoeg is genoeg. Ons mors tyd. Kosbare tyd wat ons nog as man en vrou saam kon geniet. Nie net maats en pasient nie. Ure weer gesit en gesels. En skielik het die liggie aangegaan en het hy erken dat die mure om hom gebou was sodat hy kon oorleef om daar te wees vir my. Hy was te bang om romanties te raak.
Ons het saam besluit om hierdie deel in ons lewe ook te deel want ek glo dat ons nie die enigste 'oumense' is wat nog nie koud wil wees nie en die asemdief het dit amper reggekry om vir ewig 'n wig tussen ons in te dryf. Nie omdat daar iemand anders was nie - in Outop se eie woorde: hy het bloot 'te veel' omgegee en homself emosioneel verwaarloos in die proses en stelselmatig het ek net 'n maat en sy pasient geword want dit was 'veilig'.
Hy het my ook mooi gevra om hom dop te hou en met die eerste tekens dat hy weer begin bou aan sy fort in plaas van help afbreek, moet ek praat.
Ek wil graag hierdie geselsverse van my kreatiewe woordmater hier kom deel want dit is so gepas en woord vir woord is my eie versugtinge ook hier vasgevang tussen lyne:
Lidi de Waal Art&Poems9 December 2019
bok bok staan styf hoeveel vingers op jou lyf
all in all kan die vrou
amper op haar een hand tel hoeveel vingers
op haar lyf was die laaste paar jaar
nou tel sy die tandarts se vingers
en desmond die haarkapper s'n
en die voete en naelsvrou s'n
maar dis net op haar hare en hande
en haar voete en tande
maar op haar lyf kom veels te min vingers
en geen bok bok staan meer styf
oor hierdie ou lyf nie
en dis die very very sad and ugly truth
van te veel eensame ou wyfiesiele
© Lidi de Waal
Vir my was daar nie voete-, hare- of naelshande wat vat nie want die asemdief en skerp reuke van salonne is aardsvyande