Ag dankie dat julle saam kuier. Dit is kwart oor twee en ek sit hier regop soos die ou spook wat nie kan slaap nie. Dit laat my wonder, spoke slaap mos nie!
Of slaap hulle in die dag?
Ek gaan julle nou 'n ding vertel. Julle wil nie weet nie!
Almal kla oor my grys kop. (Behalwe Hannes natuurlik, die dierbare ding!) In elk geval, koop ek toe 'n pakkie LIGbruin haarspoel. Let wel, kleur sonder bleikmiddels, dit was mos uit na 'n paar wasse.
Wil net die grys 'n effense kleurtjie gee! Net 5 minute.
Kom Hannes by die huis en ek vra raat.
"Jy wil altyd anders wees, volg die voorskrifte!"
Toe sit ons buite, onder die "lapa" dit is nou die Gazebo, 'n staalraam op vier uitgerekte bene met 'n seiltjie oor. Lyk soos 'n tor wat op stelte loop. Ja, sit ons voor die kaia en Manlief trek die handskoentjies aan, oor sy groot hande, dit maak net die vingers toe!
Hy wend die goed aan, bietjie vir bietjie, vryf 'n bietjie en nog 'n bietjie en so hou die proses aan tot die laaste bietjie opgebruik is.
"Nou wag jy 25 minute... sê die instruksies."
"Nee gaats, dit is te lank!"
"Nou-ja as jy nie die grys hare wil kleur nie moet jy maar die gevolge dra."
Nou is ek bekommerd. Hulle seg tog dat grys nie maklik kleur nie en ek wag maar.
Afgespoel, opknapper aangewend, afgespoel en ek kyk in die spieël.
Julle wil nie weet nie!
Pikswart!
Elke keer as ek by 'n spieël verbyloop skrik ek!
Nou sit ek in 'n penarie, as ek dit nou blond maak gaan ek soos 'n boabab se wortels lyk? Net oranje?