Om 'n vliegtuig te laat vlieg het 'n mens 'n lisensie nodig. Of minstens dan die afgelope klompie jare. Om tyd te laat vlieg, is daar nie 'n lisensie nodig nie. Ons almal slaag daarin.
Dit maak dat selfs die van ons wat graag ons kaya's wil mooi hou, later sit met opgehoopte skottelgoed, 'n toegepakte tafel of twee en stofbondels wat al met die vloerlys langs loop.
Net toe Stof dink dat hy nou bietjie tyd het, besluit sy lyf, kop en keel dis nou tyd om hom nederig en op 'n sloerstaking te hou. En om dubbel seker te maak besluit sy Anše se tenk ook ewe ferm om hom kayavas te hou. En verlore sekondes word minute, ure, dae, maande, jare...
Stof het al die fout gemaak om 'n lys met "om te doen" op te stel. Netjies gedigitaliseer en geklasifiseer. Dit self het so lank geword dat dat daar daarvoor nie eers genoeg tyd was om dit klaar te maak nie.
Maar as tyd gebruik word deur mense wat ander se lewens verryk, is dit beslis nie 'n verlies nie. Stof het die afgelope tyd baie tyd saam met enkele mense deurgebring, waarvan elkeen een van daar die mense is. Die tyd wat saam met hulle bestee is is wel aangewend, want die resultate is asemrowend.
Stof dink nie daar is regtig 'n goue resep vir tydbestuur nie. Elkeen van ons verskil, en daarom leer ons deur ons koppe te stamp, ons kaya's te laat evoleer na stofstapels en selfs dinge wat begin roes, wat die ideale plan vir elkeen is.
Tyd: 'n groot geskenk. Maar nie herwinbaar soos glas of papier nie. As dit weg is is dit weg. Daarom is dit seker ons elkeen se verantwoordelikheid om elke dag 'n stukkie te leer oor die benutting daarvan.
Tydverterend die uwe
Stof