Oggendboodskap 5 Januarie 2021
Goeiemore vriende,
Ek lees ‘n stukkie uit Jakobus, daardie boek wat geskryf is omdat Jakobus gesien het hoe mense swaarkry en teen allerhande versoekings moes veg. Ek kry hierdie inligting uit Die Boodskap uit, die Bybelvertaling wat vir my soms net iets meer in plat Afrikaans sê, wat ek beter kan verstaan. “Slegte dinge is nie altyd sleg nie”, dis die opskrif van die eerste stukkie in Jakobus. Die mense het swaar gekry en moes teen allerhande versoekings veg, ondermeer, die skittering en blink van geld, onmin onder mekaar, families en vriende en natuurlik die soeke na eie eer. So graag wil hulle tog hê die sonstraal moet net op hulle skyn. Jakobus wou hulle oog weer op God vestig.
Vers 1 van Jakobus: “Iemand wat God en die Here Jesus Christus dien, met alles wat hy het. Almal wat oor hierdie wêreld versprei is en aan God behoort, moet die brief lees. Dit is vir julle bedoel”. Ek wonder of Jakobus daardie tyd gedink het dat ons 2000 jaar verder nog steeds sy boek gaan lees. Ja, dat ons nog steeds die hele Bybel gaan lees, wat later saamgestel is.
Ek gaan verder. “My liewe mede-christene, wees opgewonde as julle geloof by elke geleentheid getoets word. Julle weet mos hoe goed dit vir julle geestelike lewe kan wees. Die slegte dinge wat met julle gebeur, toets of julle werklik die Here vertrou. As dit met julle sleg gaan, leer julle juis om nader aan die Here te leef.” Ons hoor baie keer, en dit is baie keer vir ons nodig om vir iemand te sê, Cristus belowe nêrens dat jy hemel op aarde gaan hê as jy Hom volg nie. As ons in Christus se voetspore volg, moet ons weet, so volmaak as wat Christus was, so groot is die kans dat ons eerder gaan swaarkry as om ‘n gladde-water-lewe te hê, omdat ons aan Christus vashou.
Vriende, julle weet, ek het al gedink die kleed wat Christus aangehad het toe die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, aan Hom geraak het, is ‘n kleed wat van die sterkste materiaal ooit gemaak moes wees. Ek sê dit in aanhalingstekens met respek, want daardie Kleed raak ons vandag nog aan om ons te genees van ons sonde, want in werklikheid is die genesing nie net medies van aard nie. Dis geestelik, om ons van sonde te genees en ons daarvan vry te stel.
Soos wat sy aan sy kleed geraak het, het Hy gevoel hoe die krag uit Hom gaan. So het Hy immers gesê en Hy wou weet wie het aan Hom geraak. Natuurlik het Hy geweet wie het aan Hom geraak, maar Hy wou hê die mense om Hom moet besef dat Hy God is. Sy dissipels het gesê maar Here, hier is soveel mense, hoe weet ons wie raak aan U? En daardeur het sy na vore gekom en dit erken, want haar sondes was alreeds toe vergewe en sy wou nie oneerlik wegsluip nie. Nee, sy het vir God kom dankie sê.
Ek lees vers 4 van Jakobus 1. “Julle moet die Here toelaat om julle deur hierdie dinge te leer wat dit beteken om altyd net op Hom te vertrou. Kom wat wil. So sal julle geestelike grootmense word wat weet hoe om in elke situasie reg op te tree.” Ons moet reg optree. Ons moenie wegkruip agter iets nie. Ons moenie wegsluip omdat ons bang is ons het ‘n verkeerde ding gedoen nie. As jy altyd die regte pad loop, altyd in Christus se voetspore loop, en daar nie ‘n skelm gedagte deur jou kop flits of ‘n haatgedagte of ‘n bedroggedagte of enige iets wat iemand kan skade aandoen nie, dan loop jy mos die regte pad. Dan leef jy Jesus se liefde uit, want Hy het ons eerste liefgehad. Ons kan dit, as sondige mense nie uit eie krag regkry nie, maar mag ook nie doelbewus volhard in enige sonde of verkeerde gedagtes nie.
Vriende, ek wil die volgende paar weke elke keer ‘n paar verse uit Jakobus lees, want dit is ‘n boek wat vir my al baie beteken het. Ek kan nie vooruit beplan wat ek gaan sê nie, want dis elke keer asof ek eers op die Here se leiding wag. Ek hoop dit sal vir julle ook soveel van waarde wees soos vir my. Geniet die dag.
Mag julle geseënd wees in elke woord en ook die hunkering voel om julle Bybels op te tel en die eerste verse saam met my te lees.
Groete in Christus se liefde en Evangelie
adéle theron