Oggendboodskap 22 Februarie 2021
Gegroet vriende …
Ons lees in Lukas 15:11 en verder oor die verlore seun. Maar wie was eintlik verlore? Die seun wat eers verlore was, maar teruggekom het, of sy broer wat eiesinnig, selfsugtig en onvergewensgesind was? Daar is ook die vader, ja die 2 seuns se pa. Is hy so onskuldig in die hele verhaal? Vriende, in wie van hierdie drie se persoonlikheid pas jy in? Jy kan ‘n hardvogtige persoonlikheid hê; hardwerkend maar daarín op soek na erkenning en eer. Soos die fariseërs wat gereken het hulle aanhang van hul wette maak hulle volmaak.
Of die vader wat sy kinders als gegee het wat hulle wou hê. Hulle kon maar net hul vingers klap en hy het toegegee. Ja, dit kon dalk anders wees, maar hulle lewe word nie werklik beskryf nie. Maar uit die paar verse se vertelling van die een seun se eise, en die ander se woede, sien ons al genoeg. Jy is dalk ‘n “pleaser” soos die engelse taal dit noem. As ouer of kollega of vriend, noem maar op, sonder om jou naaste ooit op ‘n sonde te wys, is jy ook verkeerd.
Of jy kan verwaand wees, selfsugtig net op soek na wêreldse pret en plesier. En wat van daardie vriende wat saam gekuier en gedrink het, hulle ‘vriend’ se erfporsie saam met hom deurgebring het en toe verdwyn het. Hoeveel sulke ‘vriende’ ken julle? Ja, ‘n pragtige spreekwoord sê: met sulke vriende het jy nie vyande nodig nie.
En dan is daar ook hardvogtige wreedaards, hulle wat nie ‘n flenter omgee vir ander nie. Sou die verlore seun dalk iets beters in die lewe kon bereik, as sy werkgewer hom beter behandel het?
In al hierdie mense loop een draad deur elke gebeurtenis. Alle mense word in sonde ontvang en gebore. Niemand is volmaak, kan op hierdie aarde volmaak word of in dié lewe volmaakte gelowiges wees nie. Die lewe is tot oorlopenstoe gevul met verdriet en pyn. Om in Christus te glo, waarborg geen lewe waarin jy net vooruit gaan, nooit siek word nie, nooit teleurstelling ervaar nie, nooit droogte, hael of verwoesting op ‘n plaas sal ervaar nie, nooit iemand na aan jou hart (volgens jou) te vroeg, aan die dood afstaan nie…
Ek lees Ps 51: 7 “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.” Hierdie psalm van Dawid het baie van ons se seer in ‘n paar woorde ineengevou. Dawid het seker elke morele wet in die boek verbreek. En hy kon nie eers vir God die tempel bou nie, want sy hande was te vol bloed van al die oorloë. Maar ná sy kind se dood, en seker soveel kere meer, het hy in trane en berou sy siel voor God uitgestort. Ek weet nie of dit die seer wat hy keer op keer beleef het, dadelik weggevat het nie, maar dat God hom liefgehad het en hy vir God, dis nie altemit nie.
Dawid was sekerlik depressief weens al die kere wat hy verwerp was; deur Saul, deur sy eie seuns en ander familie. Hy was soveel keer na aan die dood, maar hy het aan God getrou gebly. Uit eie krag? Nee vriende, so kan ons ook nie berou en geloof sonder God se genade ervaar nie.
Maar, maak nie saak wie jy is, waar jy bly, hoe ver jy geleerd is nie, hoeveel goed of kwaad jy aan ander doen nie, jou ewige vrede en rus vir jou siel, is net so ver as om jou hand uit te steek, of soos wat jou knieë van die vloer af is. En ‘n sinnetjie soos in Lukas 18: 13 “En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig!”
Weet en onthou, niemand van ons is alleen in ons hartseer, teleurstelling of pyn nie. Maar elkeen van ons kan met berou, ons voor God verootmoedig en sy vrede en troos ervaar. Totsiens.
adéle theron
'n Boetelied van Dawid.
1 Vir die musiekleier. 'n Psalm van Dawid,
2 toe die profeet Natan na hom gekom het, nadat hy by Bátseba ingegaan het.
3 Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid.
4 Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde.
5 Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my.
6 Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou.
7 Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.
8 Kyk, U het 'n welgevalle aan waarheid in die binneste, en in die verborgene maak U aan my wysheid bekend.
9 Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu.
10 Laat my vreugde en blydskap hoor; laat die gebeente juig wat U verbrysel het.
11 Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede.
12 Skep vir my 'n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my 'n vaste gees.
13 Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie.
14 Gee my weer die vreugde van u heil, en ondersteun my deur 'n gewillige gees.
15 Ek wil die oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer.
16 Red my van bloedskuld, o God, God van my heil! Laat my tong u geregtigheid uitjubel.
17 Here, open my lippe, dat my mond u lof kan verkondig.
18 Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie.
19 Die offers van God is 'n gebroke gees; 'n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!
20 Doen goed aan Sion na u welbehae; bou die mure van Jerusalem op.
21 Dan sal U 'n welbehae hê in die offers van geregtigheid, in brandoffer en voloffer; dan sal hulle stiere offer op u altaar