Julle ouens moet weet as ek iets by "Bekgeveg" plaas dan is ek aan die "fight".
Nou wil ek graag weet hoekom daar so baie van my matertjies is wat deur moeilike tye gaan en hulle het nie die vrymoedigheid om dit met ons te deel nie. Asseblief, moet nou nie vir my vertel dat jy dit nie wil deel nie omdat ons almal so baie het om mee te deel.
Kan ons nie maar hande vat nie? Kan ons nie maar steun en been kla oor ons probleme nie? Matertjies, kan ons nie maar ons laste met mekaar deel nie?
Ek en elke ander ou hier weet dat ons net kan luister en spoegies aansmeer. Maar is spoegies nie maar beter as niks anders nie? Ek weet vir 'n feit dat almal hier vir mekaar lief is en dat ons mekaar ondersteun in moeilike tye. Al verstaan ons nie werklik waardeur die volgende ou gaan nie, kan ons 'n oor gee, 'n skouer, en soos Raaitjie sê, 'n mou om die snotties aan af te vee en 'n hand om aan vas te hou.
Ek weet dat ek wil weet wat gaan in jou lewe aan. Ek kan dalk nie iets daaraan doen nie, maar ek kan daar wees vir jou met 'n poging om die pyn ligter te maak. Matertjies, asseblief, kom deel julle hartseer met ons. Dit help nie om iewers weg te kruip en dit alleen te probeer dra nie. Ons is mos 'n groep! 'n Klein groepie wat lief is vir mekaar. Staak julle stilswye. Dit maak ons, wat vir julle lief is, net ongelooflik bekommerd.
Die lewe gaan aan, moenie agterbly nie. More skyn die son weer. More is dit weer somer! Dan kan ons weer kla oor die hitte!
Ek mis julle! Julle is so deel van my lewe dit maak seer as julle nie hier is nie.