Hy kan seker die president ook wees matertjie. Ek het net op die vormpie gesien "chairperson" maar hulle sal die geleentheid kry om self te verander waarmee hulle nie gelukkig is nie. Eers wil ek hier vir almal vra om asseblief te help om dit reg te ruk.
Hier is die laaste gedeelte:
WAT IS PULMONALE HIPERTENSIE
Pulmonale Hipertensie is 'n siekte wat die slagare in die longe vernou en sodoende 'n verhoogde bloeddruk in die longe veroorsaak.
Die nagevolg is dat die hart vergroot en dit kan lei tot hartversaking.
Dit kan met enige persoon gebeur, ongeag die ouderdom, geslag, sosiale- of etniese-afkoms.
DIE HART EN SIRKULASIESTELSEL
Om Pulmonale Hipertensie beter te begryp, sal dit help om die sirkulasiestelsel te verstaan.
Die funksie van die regterkant van die hart is om bloed sonder suurstof, vanaf die liggaam, in die regterhartvoorkamer op te neem. Vanaf die regterhartvoorkamer vloei die bloed deur die trikuspidale klep na die regterhartkamer. Hier word dit deur die pulmonale klep gepomp en vloei dit deur die longslagaar na die longe. In die longe word koolstofdioksied uit die bloed gesuiwer en suurstof in die bloed in opgeneem. Die linkerkant van die hart ontvang die bloed ryk aan suurstof, van die longe, na die linkerhartvoorkamer. Van die linkerhartvoorkamer beweeg die bloed na die linkerhartkamer en word dit van daar na die hele liggaam versprei.
Die skets toon aan (in blou) suurstofarmbloed wat van die hart na die longe gepomp word.
In rooi word die suurstofrykbloed van die longe na die hart gepomp.
Gedurende oefening klop die hart vinniger om meer suurstof na die spiere deur te stuur. Terselfdertyd sit die longslagare wat bloed na die longe vervoer uit, om meer bloed deur te laat. Die are in die longe rek effens.
Die longslagare van die persone wat aan Pulmonale Hipertensie ly, is nouer en kan dus nie soveel rek as wat nodig is nie.
DIE LONGSLAGAAR BY 'N GESONDE PERSOON
Die longslagaar reageer op die vinniger hartklop deur te rek om sodoende meer bloed deur te laat.
DIE LONGSLAGAAR BY 'N PERSOON WAT PULMONALE HIPERTENSIE HET
Die vernoude longslagaar het nie die vermoë om genoegsaam te rek in reaksie van die vinniger hartklop nie.
By 'n persoon met Pulmonale Hipertensie moet die hart nou baie harder werk om die bloed deur die vernoude longslagaar te pomp. Wanneer die hart oor 'n lang tydperk soveel harder moet werk, werk dit nie meer so effektief nie.
SIMPTOME VAN PH KAN ONDERMEER INSLUIT:
Ademloos of kort aan asem wat vererger word deur aktiwiteit.
Gedurige gevoel van moegheid.
Lighoofdigheid, veral wanneer gestaan word, of wanneer trappe geklim word.
Geswelde enkels, bene en/of maag.
Borspyn, veral wanneer fisiese aktiwiteit plaasvind.
Pasiënte kan ook flou word.
SLUIT AAN BY PHSA
As jy of een van jou geliefdes aan Pulmonale Hipertensie ly, kan ons vir jou inligting, ondersteuning, hoop en 'n geleentheid bied om aktief betrokke te raak by PHSA.
PHSA (Pulmonary Hypertension Association South Africa) is gestig deur pasiënte vir pasiënte. Ons is hier vir jou as 'n bron van inligting, ondersteuning, samelewing en hoop. Ons pasiënte is ingelig, het begrip, is 'n inspirerende groep mense wat gretig luister en hul eie ervarings deel.
Die Pulmonale Hipertensie-gemeenskap is geskoei op persoonlike verhale van pasiënte, versorgers, vriende, familie en mediese span. Al hierdie verhale is kragtige gereedskap om die algemene publiek in te lig oor Pulmonale Hipertensie en bewusmaking te bevorder.
Elkeen van ons het 'n storie om te vertel. Jou stem en jou storie is belangrik vir ons. Die eerste stap van bewusmaking van Pulmonale Hipertensie aan die wêreld, begin by jou. Saam staan ons sterker en kan ons meer doen. Om lid van PHSA te word beteken dat jy help om 'n verenigde gemeenskap, oor die land, daar te stel.
Ons wil jou graag leer ken. Sluit vandag nog by ons aan.
Om aan 'n rare siekte te ly kan soms eensaam wees, maar jy is nie alleen nie. Deur uit te reik na ander wat elke dag met dieselfde kwessies leef, wat in dieselfde situasie is en soortgelyke ervarings deel, sal jy kennis maak met 'n gemeenskap wat inligting en ondersteuning kan bied, asook hoop vir die toekoms.
Lees van ander Pulmonale Hipertensie-gemeenskapslede se ervarings en deel ook jou ervarings met ons.
Pulmonary Hypertension South Africa
Webtuiste: www.phsa.co.za
Telefoonnommer: 021 9308362
Selfoonnommer: 082 5204129
E-posadres: niemandts@iburst.co.za
Faxnommer: 086 6951916