Die probleem is, dit wat aan Engeltjie en die ander ouens wat afgelê is, gedoen is, spring elke dag op en dit ontneem 'n mens van jou menswaardigheid. Dit steek tot diep in die siel. Soos met enige ander traumatiese ondervinding, neem dit baie tyd om te verwerk. Sodra die persoon ander werk kry en weer sekuriteit het, sal dit beter gaan, maar daardie seer sal altyd sy littekens oorhou.
Drie van ons kinders is die afgelope jaar en 'n half afgelê. Henk en Jo het terug gekom SA toe en hy het na maande weer 'n goeie werk, op 'n sesmaande kontrak. Die byl hang nog oor hul koppe.
Een van ons kinders is al in Novembermaand verlede jaar afgelê en soek nog steeds ander werk. Hy het 'n enorme salaris verdien en dit is nie maklik om weer werk te kry nie. Hy moes sy mooi kar verkoop, soos enige man weet, is jou kar jou trots. Om dan 'n vrou en twee kindertjies te hê om te onderhou is nie 'n grappie nie. Die bank het hom uitstel gegee om die huislening af te betaal. Daar is soveel ander aspekte wat hulle lewens hel maak. As jy nie daardeur is nie sal jy dit nie besef nie. My mooie pragtige kind se selfbeeld is in sy moerdyk in.
Die gevoel van magteloosheid vir my as ma en sy pa is onbeskryflik.
Kwaad? Word soveel kwaad as wat jy wil. Dit is maar net jou eie magteloosheid wat deurbreek!