As die kole in die vuurherd
Rooi in die donker gloei
En koue om my lyf kom vou
Stook jy met soetsag soen
Die vuur tot knettervlam.
Dwardeur donker ure
kon ek my koester in vlammegloed
onder warm herinnerings skuil.
En toe ons in my drome een word
en ek die kruin bereik
het jou naam in my hart kom lê.
vandag koeksister my gedagtes
herinneringe deur lang dagure,
terg jou sagte lippe my binneste
voel ek vir ‘n oomblik veilig
met jou arms om my lyf
in my bang oomblikke
steek ek my hande smekend uit
na nog ‘n druk, nog ‘n sagte soen.
swygend weier stram spiere
ruk my terug in vreeskokon.
Klanklose noodkrete
verskans agter koeëlvaste glas.
Die woorde onhoorbaar sag,
boodskap onveranderd.
Die donker nagkombers
vou winterkoud om my.
Beskryf verlange
met wit rypvingers
oor my lyf en hart.
Geluidloos huil ek
oor alleen-ek nag
en nogsteeds,
my lief -
oor jou.
Ek wens ek kon vir jou 'n prentjie teken
van die liefde in my hart.
Ek sal dit inkleur
met sonneblom goudgeel kleur.
Ligte soentjiepienk strepies
die padkaart na my hart.
My lief, ek skilder vandag vir jou
'n lenteblom prentjiehart
Al my lag en trane
het ek vandag
in kleurvolle drade vasgebrei
Die eindproduk word toe
perfekte replika van my.
Vannand bring ek vir jou,
my lief,
my eie josefskleed.
Aan jou voete plaas ek dit,
met liefde toegedraai.
Vir jou, my lief
als wat ek jou kan bied -
net ek.
vandag het my gedagtes
swetend teen jou kranse geklim,
vermoeid die horison gefynkam soek,
die middaguur deur klowe gedwaal,
en smekend jou naam geroep.
Sononder het hul hoopvol
oor vlaktes gesweef
en rusplek in jou hart gesoek.
Wie sou kom dink
dat daar selfs
in my verlange na jou,
soveel passie kan wees,
my lief.
As woorde ligte was,
het ek heelnag
jou naam gefluister,
sodat die donker
uit my hart kon wyk,
my lief
As woorde blomme was,
Het ek jou naam afgepluk,
Styf teen my hart gedruk
En my gesig daarin gebêre
Want ek mis jou. ,my lief.