As daar een ding is wat my fassineer is dit die verslawende genot van hermetiese digkuns. Die eksotiese ervaring as die vreemde woorde rondgerol word in my kies! Meestal is ek te 'dig' om alles te verstaan maar die genot oorskry die skaamte by verre
So dag of ses gelede het ek en juffrou Gawie gesels oor die uiteenlopende skryfstyle wat ons onderskeidelik aantrek/afstoot. 007 het op die besempie gespring en deur so paar nuwe bundels se voorskoue gaan blaai wat binnekort vrygestel gaan word in Gatkantland. Die toonomkrul-lekkerte van nuwe woordverbindinge as leidrade na die verborge woordskatte, het 'n fees belowe en my plek is geboek tussen die lyne!
Toe het ek die besempie se grashare mooi gestryk en skerp regs gedraai- na my geboorteland en gaan kersopsteek by Andries Visagie (professor aan die Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap by die Universiteit van Suid-Afrika in Pretoria).
In hierdie kort opsomming oor die
hermetiese digkuns wil ek beaam wat hy so pragtig uiteengesit het in sy onderhoud met Louis Esterhuizen.
Die leser wat gaan dwaal tussen hierdie soort dig(ters)lyne - word bewus van geheime; koppig bewaar. Hier waak die abc ontoegangklik. As jy die veeleisende leesuitdagingstaak aanvaar, sal jy hierdie saamgevoegde elemente van klank, beweging, ritme en betekeningsgapings (hiate) verstaanbaar vertolk. En die geheime kode - geskep deur vyf hondsgetroue vriende van die digter (ala Breyten) wat die pen liefkosend omvou het, mag jy dalk net ontsyfer!
In die proses ontdek jy die wegkruiper-woordspel:
"Hermetiese poësie" - in wese anders as die vernufpoësie wat openlik terg en speel met woorde en "dig" tog toeganklik en verstaanbaar maak vir ons, die lesers.
Ter aansluiting by die onderwerp wil ek graag die volgende paragraaf aanhaal:
Prof Andries Visagie soek ook weer “opstopper-gedigte”: "Dit wil voorkom asof die druk op digters en skrywers om toeganklike werk vir ’n breër leespubliek te lewer, daartoe gelei het dat die hermetiese gedig in Afrikaans uit die blikveld begin verdwyn het. Dit sal egter jammer wees indien daar digters is wat hul belangstelling in die hermetiese poësie verwaarloos om doelbewus vir ‘n breër leserskorps te skryf." Navorsingsbron:
http://versindaba.co.za/tag/verhalende-verse/