Author Topic: Die Hansword SJ Pretorius  (Read 7623 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Die Hansword SJ Pretorius
« on: October 25, 2021, 04:41:03 PM »
Ek is nog besig om op te lees oor hierdie skrywer.  Daar is so baie inligting, dit sal my 'n rukkie neem om opsommmings te maak. 


Hier is die gedig solank en ook 'n klomp inligting daar rondom


Die Hanswors


https://slidetodoc.com/die-hanswors-sj-pretorius-titel-the-clowndie-hanswors/
« Last Edit: October 25, 2021, 04:45:42 PM by PM »
Om te weet is om te verstaan.

Offline Naas

  • Hardebaard
  • Posts: 2283
  • Gender: Male
  • K.N.A.P. (Kan Naas Afrikaans Praat of wat?)
Re: Die Hansword SJ Pretorius
« Reply #1 on: October 25, 2021, 10:57:04 PM »
Die Hanswors (deur S.J. Pretorius):

Oor sy afsigtelike boggel,
en kromheid, het hul hom gekoggel,
en bitterder was hul venyn
as sy vergroeide ruggraatpyn.

Tussen die diere in 'n hoek
het hy die eensaamheid gesoek:
"Met klere wat gedurig gaar is,
wat doen die vent met sy salaris?"

Hy't maandeliks by die poskantoor
'n brief gepos of een gelees
by die dierkratte, oor en oor:
"Sou daar tog erens iemand wees?"

En daardie ewige reuk van drank:
nie een sou huil as hy bedank,
maar waar hy in die sirkustent
aapagtig teen die firmament,
hoog teen die takelwerk, kon klouter,
die dood uittart, en klein kabouter,
sy duiwelstreke uithaal onder
dat almal skater vir die wonder,
is hy, hoeseer verag, verlate,
nog deur die baas beskou as bate.

Toe het 'n brief gekom eendag...
Hy't oor die bed gebuk, verblind,
terwyl 'n boggelvroutjie, sag,
sterwend fluister:"Dankie my kind..."

 "Die Hanswors" deur S.J. Pretorius
"Die hanswors" is 'n verhalende gedig wat die storie van 'n hanswors-akrobaat met 'n boggelrug vertel. Misvormde of gebreklike mense is dikwels as hansworse ('n nar of harlekyn) in sirkusse gebruik. Die doel daarmee was sodat mense vir hulle misvormdheid kan lag en beter oor hulleself kon voel. Hierdie hansworse was dikwels uitgeworpenes wat nie deur die samelewing aanvaar is nie. Hoewel hulle daarvoor betaal is, het die spottery diep emosionele skare op julle gelaat.

Hier volg so 'n vinnige ontleding:

Die gedig het 5 strofes met 26 reëls:
* 4 is kwatryne +
* 1 strofe met 10 versreëls.

Verskillende rymskemas word gebruik:
* Strofe 3 en 5 gebruik kruisrym (abab);
* die res is paarrym (aabb).

Let op hoe die gedig leestekens gebruik:
* Dubbelpunt: Verduideliking volg.
* Ellips: Laat jou gedagtes gaan.
* Aanhalingstekens: Direkte rede (stories het direkte rede)
* Komma: Tussen 2 kommas, inlassin. Gee meer inligting.

Kontraste is volop:
* die mense se spot teenoor die hanswors se pyn;
* misvorming vs. sy behendigheid in die sirkustent;
* diere aanvaar hom, maar nie mense nie;
* hy word gehaat en vermy, maar is 'n aanwins vir die sirkus.

Dit bevat 'n retoriese vraag: "Met klere wat gedurig gaar is, wat doen die vent met sy salaris?"

Teen die einde word dit duidelik dat hy briewe met sy ma gewissel het, en moontlik sy geld aan haar gestuur het (die boggelvroutjie - let op die verkleining). Sy ma het dieselfde gebrek as hy gehad en op sterwe gelê. Sy was die enigste persoon wat werklik lief was vir hom. Sy oë was met trane "verblind".

Inligting op internet verkry. Skrywer onbekend.

  :icon_bigsmurf:
Ek is maar net een, maar ek ís een.

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Die Hansword SJ Pretorius
« Reply #2 on: October 25, 2021, 10:58:35 PM »
Dankie vir deel van die opsomming Naas. Ek het dit geniet en weer geleer  :notworthy: :icon_salut:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Die Hansword SJ Pretorius
« Reply #3 on: October 26, 2021, 03:30:36 PM »
Om alles bymekaar te hou, het ek hierdie van Raaitjie hier geplaas om te sien watter hiervan betrekking het op Die Hanswors,

Ek vra dat almal asseblief sal deelneem en saamwerk.  Kies een en bespreek dit.

Ek sien niks wat met 'n akroniem gepaard gaan nie.  Die volgende is alliterasie.  Dit word ook letterryn of stafrym genoem. 

Alliterasie  (Opeenhoping van konsonante of beginklanke.)
In reels 1, 2, 4 en 7 is die letter g van toepassing.

1 Oor sy afsigtelike boggel,
2 en kromheid, het hul hom gekoggel,
4 as sy vergroeide ruggraatpyn.
7 "Met klere wat gedurig gaar is,

In Reel 4, 7, 8, 11, en 13 is die letter er herhaal.
4   as sy vergroeide ruggraatpyn.
7   "Met klere wat gedurig gaar is,
8   
wat doen die vent met sy salaris?"
11  by die dierkratte, oor en oor:
13 En daardie ewige reuk van drank:

In reel 17 en 18 is die letter K herhaal. 
17 hoog teen die takelwerk, kon klouter,
18 die dood uittart, en klein kabouter,

« Last Edit: October 26, 2021, 03:44:46 PM by PM »
Om te weet is om te verstaan.

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Die Hansword SJ Pretorius
« Reply #4 on: October 27, 2021, 01:29:56 AM »
Ek wil graag uitbrei op die pragtige uiteensetting wat Naas gedeel het. Wat my opval is die gebruik van leestekens om gevoel/stemming te gee aan die gedig.  Dit is so doeltreffend gebruik deur Pretorius dat ek dit beskou as die 'kwas' van 'n woordkunstenaar. Leestekens is daar sodat ons 'n natuurlike rusplek het wanneer ons die gedig lees. Ons praat nie almal dieselfde nie, daarom is die gebruik van leestekens so verskillend in ons onderskeie skeppings. Soms help dit om die gedig hardop te lees om agter te kom hoekom die spesifieke leestekens juis daar voorkom. Dus kan ons byvoeg dat daar nie konkrete reëls spesifiek bestaan by die toepassing van leestekens nie.

As ons elkeen hierdie gedig sonder sonder enige leestekens ontvang het en ons eie moes toepas, sou daar gewis verskillende variasies wees. By hierdie skakel is daar 'n wonderlike uiteensetting oor leestekens:
https://www.dbnl.org/arch/roux004taal02_01/pag/roux004taal02_01.pdf

Die onderbreking met die gebruik van die komma in hierdie gedig, skilder 'n duideliker beeld vir ons oor die voorkoms van die nar in reël 1 en 2 van vers 1.

'Oor sy afsigtelike boggel,
en kromheid, het hul hom gekoggel,'


Die sinonieme gebruik van die woord 'afsigtelike' boggel vir onooglike, afstootlike gebrek, was vir my nuut en verfrissend. (Ek praat net hier met julle, bietjie op die gevreetboek en natuurlik met  Outop Afrikaans vir die afgelope 21 jaar. Weet dit geen verskoning. Bloos. )

Die plasing van die dubbelpunt is kundig ingespan ter verduideliking van die skaamte weens sy verflenterde voorkoms:
Tussen die diere in 'n hoek
het hy die eensaamheid gesoek:
"Met klere wat gedurig gaar is,
wat doen die vent met sy salaris?"


In vers 4 se 9de reël gebruik Pretorius die komma weer om klem te lê op elke woordkeuse wat die mankoliekige gevoel/emosie van die gedig weerspieël:
'..is hy, hoeseer verag, verlate,'

In die uiteensetting wat Naas gedeel het word die doel van die komma so beskryf: * Komma: Tussen 2 kommas, inlassin. Gee meer inligting.

Met die gebrek aan leestekens word die digter se gedagtes vloeiend oorgedra (enjambament) in reëls 7 en 8 in die 9de vers:
'...sy duiwelstreke uithaal onder
dat almal skater vir die wonder'.


In vers 3 kan ons, wanneer die gebruik/gebrek in een vers voorkom, die beklemtoning van hoeveel keer die brief gelees word, asook sy honger na kontak weens die eensaamheid ervaar:

Hy't maandeliks by die poskantoor
'n brief gepos of een gelees
by die dierkratte, oor en oor


Waar hy die brief gaan lees (dierkratte) dui daarop dat hy hom noodgedwonge skaar by die dier en nie die mens, weens sy gebrek. Die term 'klein kabouter' in die 4de vers reël 6 wat hier simbolies gebruik word vir 'nar' skep die stemming van meegevoel/simpatie. En met die skare se venyn wat as bitterder ervaar word as die fisiese pyn van verkromde ruggraat ervaar ons die nar se emosionele en fisiese pyn.

Met die gebruik van ellips in die laaste vers, reël 1 - 'toe het 'n brief gekom eendag...'  word die inversie (omgekeerde woordorde) terselfdertyd gebruik as beklemtoning dat iets belangrik gaan gebeur in die verhalende gedig.

In die laaste reël van die gedig laat Pretorius ons toe om na te dink oor die verhouding tussen moeder en seun wat vir die eerste keer erkenning kry.
"Dankie my kind..."

Die nar se liefde vir haar, die enigste persoon wat hom liefgehad het soos hy is en haar bedanking op die sterfbed, beantwoord die vraag oor wat hy gedoen het met sy salaris. Ons weet ook dat daar oor en weer kommunikasie was met sy ma en hulle kontak behou het - 'n brief gepos of een gelees. Sy liefde vir haar word verder weerspieël in verduring van die spot en venyn in die proses om haar finansieël te bly ondersteun.

Die verwysing na 'ewige reuk van drank' in die 1ste reël van vers 4 onthul (?) aan ons dat hy in sy verslawing, ontvlugting en heling probeer vind het teen die emosionele skade, selfs doelbewus die dood sou verkies met sy gevaarlike toertjies. Die feit dat daar nou niemand meer oor was wat hom liefhet/verstaan het nie, kan ek nie help om te bly wonder oor hierdie verbloemde selfmoordneiging nie...






« Last Edit: October 27, 2021, 04:42:34 AM by Meraai vannie Baai »

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Die Hansword SJ Pretorius
« Reply #5 on: October 27, 2021, 02:30:23 PM »
Dankie dankie dankie.  Dit is ragtig uiteengesit en duidelik om te verstaan.  Dankie Raaitjie.   :love7:

Om te weet is om te verstaan.