Goeie môre vriende
Vandag is al die hoeveelste dag in die grendelstaat van ons mooi land. Ek het nooit die dae getel nie. En of daar nou ‘n einde in sig is, of dalk nie, maak nie saak nie.
Sommige mense was - en is - gelukkig om regdeur te kon werk, om heeltyd versorg en sonder die eensaamspook te kon wees, maar ander is minder gelukkig. Daarom vandag ‘n gebed vir julle.
VaderHeer, ons enigste HemelHeer wat ons lief het, deur Christus en u Helige Gees ons lei en dra en versorg, ons kom na U toe met ons alleenheid en ons bekommernis, ons glimlaggies wat ons met niemand kan deel nie. Ons is dankbaar as iemand net by die hekkie verbystap. Ja, vanoggend kom lê ons ons hartseer en ons vrese voor U neer. By die waterstroom wat by u voete verbyvloei, kom koel ons ons hande en gesigte af. Dankie Here, dat ons na ander kan uitreik, kan afbuk na iemand om hulle op te tel.
Here, laat ons vanoggend ons Bybels oopmaak en daarin klim om ‘n pad met U te stap. Dankie dat ons lig in hierdie tonnel kan ervaar, ‘n liggie wat al hoe helderder word hoe verder die dag en week en maande aangaan. Moet nie dat ons agterbly in die skaduwee van vrees en eensaamheid nie.
Ons bid vir elkeen wat swaarkry, vir elkeen wat bang was vir hongerly en wil ook dankie sê vir elke hand wat ander versorg en voed. Dankie vir u oneindige wye genade. dankie dat ons deur Christus, ons liefde ook vir U kan bring.
Amen, amen Here