Author Topic: Petrus se ergste nagmerrie  (Read 629 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline adele

  • Bouspan
  • Hardebaard
  • Posts: 1922
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Petrus se ergste nagmerrie
« on: February 23, 2019, 09:35:27 PM »
Hy staan verslae; kan nie glo wat besig is om te gebeur nie. Maar sy oë bedrieg hom nie. Die groep stap weg, raas en gesels opgewonde, sommiges se woede bereik ‘n hoogtepunt en hul slaan en stamp die arme Man heen en weer.

Dan slaan Petrus met sy vuis teen die boomstam naaste aan hom en leun ‘n paar oomblikke met sy kop daarteen. Hy kom nie eers agter dat bloed deursyfer waar sy kneukels oopgebars het nie. Hy wil net maak en breek, soos toe hy nog Simon, die woeste visserman, was. Maar dan besef hy dat hy sy Vriend moet volg, en gou ook. Met hierdie spul wat so barbaars hier in die tuin ingebars het, weet mens nooit wat kan gebeur nie. En hy het mos gesweer hy sal Jesus nooit alleen laat nie.

Maar hoe? Wat moet hy maak om in die skadu’s van die nag te bly, om nie ook in die moeilikheid te kom nie, sodat hy Jesus kan red, sou die kans dalk kom. Hy haal diep asem, draai dan om en stap na waar hy die fakkellig sien gloei, wat aandui waarheen die groep stap. Hy trek ‘n sluier oor sy oë; masker sy vrees en lam-gevoelens agter ‘n stoïsynse, verveelde uitdrukking weg.

So drentel hy die agterplaas van die paleis van die Joodse hoëpriester binne tot in die binnehof. Daar neem hy ongemerk tussen die mense plaas wat ‘n vuur gemaak het en nou daar rond sit. Sy oë bly gesluier, maar hy mis niks van die gesels en gebeure om hom nie. Dis egter toe hy effens opkyk, skuins na waar ‘n groep om Jesus staan en Hom bespot, dat ‘n diensmeisie naby hom opmerk:

“Hierdie man, ja jy, jy was ook saam met Hom.” Petrus wys niks van die skrik in sy binneste nie, maar antwoord net gelykmatig:

“Vrou, jy maak ‘n fout, ek ken Hom nie.” Sy kyk hom weer aan, glad nie oortuig deur sy woorde nie.

Petrus verskuif na ‘n ander groepie toe en staan maar so rond tot iemand anders hom raaksien.

“Jy is ook een van hulle, van daardie Nasarener se vriende,” sê die meisie en wys in die rigting waar die groep mense in ‘n breë kring om Jesus staan.

“Nee, ek is nie. Waar kom jy daaraan?” Simon Petrus wil-wil hom net vererg.

Die volgende uur of wat kalmeer Petrus weer agter sy masker wat sy vrees verberg. Die gesels om hom duur voort. Maar dan wys iemand pertinent na hom en roep uit:

“Jy, sowaar!” In die stilte wat skielik neerdaal, sê hy: “Hierdie man was ook saam met Hom, want hy is ook ‘n Galileër.”

Maar Petrus vererg hom toe heeltemal en sê: “Ek weet nie waarvan jy praat nie, ek sweer ek ken Hom nie!”

Net toe kraai ‘n haan, hard en duidelik in die stilte wat nog in die vroegoggendlug hang en Petrus besef dat Jesus omgedraai het en stip na hom kyk. Hy onthou sy woorde. Die besef ruk deur hom dat hy werklik gedoen het wat hulle Vriend en Meester gesê het hy sal doen. Hom drie keer verloën het.

Sy masker kraak; sy binneste breek stukkend. Hy storm uit die binneplaas uit, buitetoe en weg van die paleis af. Trane stroom oor sy wange, hy kan sy snikke later nie meer keer nie. Berou skeur deur hom. Eers baie later kom hy weer tot rus …

©adéle theron

adéle  :grommit:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10672
  • Gender: Female
Re: Petrus se ergste nagmerrie
« Reply #1 on: September 17, 2021, 04:53:13 AM »
Jy het dit pragtig verwoord Adele. 
Om te weet is om te verstaan.