Haar struikellewe
Sy struikelval alweer en verwens die nat, lomp skoene as sy verder strompel. Die blaremat is nat en die grond is plek-plek watermodder. Die reën het lankal opgehou, maar haar lyf is sopnat gesweet. Die mis is nou so dig dat sy nie ver voor haar kan sien nie.
“Loop ek al in die rondte?” wonder sy skielik en gaan staan stil.
Trane vul haar oë, want die vrees omhels haar nou totaal. Die stilte slaan stom teen die dik, knoetsige boomstamme om haar vas. Sy haal diep asem om die histerie wat in haar groei, te bedwing.
’n Paar treë verder raak ’n koeligheid aan haar wange. Haar lippe proe sout teen haar tong. Sy vee oor haar wange en voel die trane. Dan sak sy op haar knieë neer en voel-voel om haar rond; stut haar kop teen die stomp wat voor haar lê. Haar spiere trek saam wanneer sy, deur die moegheid, haar kop oplig. Die koel wind wat oor haar waai, laat haar vol verwagting rondkyk.
“Uiteindelik!”
Sy staan op, so vinnig as wat haar moeë bene kan regop kom. ’n Sonstraal klim oor die stomp en streel oor haar bene. Die mis lig stadigaan in die wind en sy kan al die plante om haar uitken.
Sy gaan sit op die stomp en keer nie meer die trane nie, want nou weet sy dat sy verdwaal het … nie bietjie of baie nie … net verdwaal. As jy verdwaal het, weet jy nie waar jy is nie. Jy weet nie bietjie meer, of baie minder, waar jy is nie. Jy weet net nie. Soos in niks. Sy snik deur haar trane heen en vee haar neus met haar t-hemp se soom af. Met die ander kant vee sy haar trane af.
Wanneer sy opstaan, hoor sy vaagweg haar naam.
“Hier is ek,” probeer sy antwoord, maar hoor skaars haar eie stem.
‘Wie sal hier na my roep?’ Sy skud haar kop en besef dat sy haar kop vrek hard moes gestamp het toe die kar gerol het. ‘Nou sal ek nog hallusineer ook. Laat ek liewer by ’n pad probeer uitkom, ’ dink sy. Die lug om haar is nou helder skoon en die son straal warm op haar neer. Sy probeer ’n rigting bedink deur die son en skadu’s teen mekaar op te weeg.
‘Wat sal dit tog help? Ek weet nog steeds nie watter kant die dorp lê nie. Waar het ek verkeerd afgedraai?’
Stella loop verder en dink aan die brief wat sy van ’n prokureur gekry het. Soveel deurmekaar gegewens … soveel vreemde inligting. Hoe kon sy weet dat sy ’n ouma had? Sy het dan net voor haar ma se dood, twee jaar gelede, eers gehoor dat sy ’n aangenome kind is. Haar moeder, wat haar met soveel liefde alleen grootgemaak het nadat haar pa in haar graad een-skooljaar vermoor is, het hortend met haar laaste asem, die skoknuus aan haar gegee. En nou het sy, Karookind, oppad na ’n onbekende ouma in Witrivier, die kar gerol en in ’n vreemde boswêreld verdwaal. Daardie trok wat op die skerp draai op haar afgekom het, haar laat uitswaai het…
“Stellaaaa!”
Hierdie keer klink die stem baie nader. Sy staan versteen, maar besef dan dit is haar enigste kans. As iemand haar kwaad wil aandoen, sal hulle nie haar naam roep nie.
“Ek is hier, hierso … hier,” roep sy met verligting in haar stem terug.
©adéle theron