Author Topic: Geselsverse (Praatpoësie)  (Read 14809 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Geselsverse (Praatpoësie)
« on: August 30, 2018, 11:14:47 PM »
In hierdie versvorm is daar nie ’n spesifieke dissipline soos in ’n vaste rymskema, versreëllengte of strofes bou nie en kan hierdie vorm selfs afwyk van die gewone toepassing van hoofletters, leestekens en sinskonstruksie. Daar word voorgestel dat geselsverse ook bindende elemente bevat soos byvoorbeeld herhaling van klanke/woorde/beelde/gedagtes/rëels en tipografie (wit spasies).

Danie Marais het die volgende mening: "Wanneer ’n verhalende of anekdotiese gedig daarin slaag om ’n reël, ’n beeld of ’n paar gewone woorde so te raam dat dit begin galm en spook in die binneste van die leser, is dit poësie.”

Hier wil ek graag Adele se vers as voorbeeld gebruik:

het jy vir my 'n madeliefie

het jy vir my ‘n madeliefie
met hy-het, hy-het-nie blaartjies
oranje     geel     wit
ek wil dit aan iemand gee
en agter wag-‘n-bietjie gaan skuil
sodat ‘n piet-my-vrou
so fluit-fluit haar boodskap
oor die wind na my kan sein   

© adéle theron

Breyten Breytenbach is bekend vir sy praatpoësie.

met ’n bossie bergblomme

nederige blomme van ’n vreemde berg
vir jou verjaarsdag
sodat jy berghelder kan lag
en jou hande kan klap by die venster
pers blomme — die angeliere van dwerge -
om ons huis se skaduwees te terg,
skurwe klein kelkies van kyk
wat die wind en die vog in hul dra
hulle brand net vir jou
want jy is mos jarig,
hulle geur net vir jou
hulle berge soet geur
oeillets du poète: klein oë van die digter,
en as jy lank genoeg daarín kan kyk
sal hulle nog dieper en vuriger blom, verryk
tot die vlerke waarmee jy óór skaduwees gaan vlieg
na die vreemde berge deur die venster

(breyten breytenbach)

Hier is nog 'n paar voorbeelde uit ons maters se woorskatkiste:
 :book1: :notworthy: :hello2: :icon_salut:

uit ons mosaïeknote

en hier sit ek met
’n veer en ink
en mymer oor
ons jare saam…
daardie eerste skugter
weke het jy mos met
suiwer sy geraam
en dit later in ons
hartsmuur ingevleg
hand aan hand deur
die lang gras gestap
gewonder hoe lyk
die plato se ander kant
in ’n koelgroen kloof
het jy wondersade
aan jou geliefde
akasia ontdek
een oopgebreek
en die vonkels in
die lug op gegooi
en asof onder
sterrereën se skitter
het liefde om ons
gesirkel en met
jou vreugdelag
’n strik om ons voltooi

©adéle theron

ná milde reën

ek stap ná milde reën
langs velde vol vygies
wat toevou wanneer als
binne jou verdonker
maar juigend oopmaak
uitsprei in malse kleurespel
wanneer sonlig jou hart omarm
liefde jou wese vul
oor die vaal damwal stort
en wegvloei om elkeen
wat jou sfeer binnekom
langs jou lewe aan te raak

©adéle theron

spikkelhoenders.

Jinne, maar julle is mooi
gooi ek die woorde in die bondel spikkelhoenders.
Ek hou sommer baie van julle kleurpalet, sê ek
Lêlle en bêlle is pragtig in...
violet, sê hy
Lyk vir my eerder na aqua, sê ek
whatever, sê hy
Waar gaan julle heen?, vra ek
Stap om die dam soos jy, sê hy
Nie op jou bek geval, sê ek
Nou hoekom is julle voete so vuil?, vra ek
Paadjie is vol modder, sê hy
Nou waarom stap julle nie om die modder nie?, vra ek
Paadjie is die paadjie, sê hy
Daar agter lê klomp mielies gegooi, sê ek
Ons weet, sê hy, Kolgans het gesê
Verstaan jy dan wat Kolgans se?, vra ek
Natuurlik, sê hy, ons is voëls van enerse vere.
Kom ek agter, sê ek
Ek soek 'n spikkelveer.
Kom kry wanneer dit uitval, sê hy.
Wanneer is dit?, vra ek
Wanneer die seisoen draai.
Eers dan?, vra ek.
Vra vir Kolgans 'n veer.
Ggghhhh, ggghhhh, se Kolgans vir Mevrou
Kolgans, sê ek, ek soek jou veer
Om wat mee te doen, vra Kolgans
Vir 'n boekmerk, sê ek.
Eers as die seisoen draai, sê Kolgans.
Aag gaan tjorts in die water, sê ek.
Ek doen alreeds, sê Kolgans.
Ek loop, sê ek.
Suits me fine, sê Kolgans. 
Onbeskof, dink ek
en vat die modderpad.
++++
© Angelica
« Last Edit: November 04, 2021, 12:07:25 AM by Meraai vannie Baai »

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Geselsverse
« Reply #1 on: August 31, 2018, 12:19:02 AM »
Ek het 'n klompie vreemde woorde op 'n erf gedeel en Naas het die uitdaging aanvaar om die taal-osse in te span.
http://forum.afrikaanseforum.co.za/index.php?topic=4215.msg28513#msg28513

Sy pragtige voorbeeld het woorddief se hart gesteel en ek kon nie help om te loer hoe dit sou vertoon as geselsverse nie.
 :notworthy: :icon_salut:

Ek wil nou nie
koeterwaals praat nie
maar gisteraand
kom hier so ‘n jakkalsreentjie
oor die plaas getrek
ek besluit toe om
so ‘n flensie of twee
aanmekaar te slaan
saam met ‘n paar
slaphaakskeentjies
en kampernoelies
Ek hoop nie
dit gee nou
‘n gebral af nie
maar ek
kan mense
mesmeriseer
met my gebak.

Laasjaar se droogte
het vir my en oupa
so gepouperiseer
dat ons dit al oorweeg het
om onsself
as bankroetiere
te verklaar maar
toe die eerste reen
hier by ons val
gebeur daar iets
kurieus
die wereld le vol
ghallaghielies
wat se stertjies
ittereer op die droe grond
ek hardloop uit
om die harlaboerla
van nader te aanskou
en voel ewe skielik
asof daar biebies
op my kop is.
Ek vee oor my hare
en besef toe
dat my kop
nou ook nat en vol
ghallaghielies is.

Oupa is so bly oor die reen
dat hy die willewragtagriel
in die modder dans
en sy komhalertjie
spring op en af van blydskap
saam met hom.
Ons was net terug in die kombuis
besig om elkeen
‘n warm koppie moer te geniet
toe daar ‘n teuellose geraas
by die driesland
agter die opstal uitbars
Oupa raak daar
‘n paar wyse woorde kwyt
gryp sy paddaslagter
en storm by die agterdeur uit.
Buite gekom sien ons
dat ‘n vreemde ronkedoor
met ‘n plettertoets
die knotheining
tussen die opstal
en die driesland
poer des merstes
gehardloop het.
Oupa is tandeknersend daar weg
om vir Ou Ta
te gaan haal.   

 © Naas Breytenbach 

*Die volgende is saamgestel uit 'n kommentaar van ons eie Langenhoven  :notworthy: :book1:

In die beenkamer
van my geheue
is daar boekrakke
vol seer
die enigste pleisters
is die stoflaag
van vergeet
hoe graag wil ek
daardie deur toesluit
en die sleutel
in die see verdrink
maar heellaas
wanneer eensaamheid
kom kuier
stof ek self
die boeke af
en blaai
deur gedagtes
liefs vergeet. 

© Naas Breytenbach   
« Last Edit: August 31, 2018, 12:45:26 AM by Meraai vannie Baai »

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Geselsverse
« Reply #2 on: August 31, 2018, 01:13:54 AM »
Hierdie is gegaps uit 'n geselssie van ons forum moeder (en ek het jou leestekens gelos soos jy dit gebruik het)  :toothy4:

Fôkkôlie

Hierdie kant van die see
wat daaikant lê,
was die ark oop.
Ons was so besig
dat die winter
ons stilletjies
bekruip het. 
Vanoggend
toe ek my voete
uit daai bed sit 
toe weet ek,
PM,
jy gaan bars
van die koue. 
Hierdie winter is nie
vir sissies nie.
Ek sal 'n paar stelte
moet aanskaf
om effens verder
van die koue vloere
af te loop. 

Nou is dit dan ook tyd
dat die twee ou spoke
'n paar dae verlof neem
en Manlief se kop
staan Tsitsikamma toe. 
Maar dit is dan winter dan?
Wat van die bosveld?
Daar skyn die son ten minste. 
Ek dink ons sal die brood
maar in die helfte
moet deel. 
Of hoe? 
Of is iets beter
as fôkkôllie?

 © PM
« Last Edit: August 31, 2018, 01:29:25 AM by Meraai vannie Baai »

Offline Anton Louw

  • Regular Members
  • Snuiter
  • Posts: 295
  • Gender: Male
  • Passievol Afrikaans!
    • Kampforum.co.za
Re: Geselsverse
« Reply #3 on: August 31, 2018, 04:35:11 PM »
Ek sit hier heerlik en lees die goeters kliphard!  Geniet vreeslik om te hoor en voel hoe die woorde van my tong afrol!
Kamp is koning!

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Geselsverse
« Reply #4 on: August 31, 2018, 11:08:26 PM »
Ek is met jou my kampvriend. Hierdie geselstrantverse smeek vir hardop voorlees. So bly jy geniet dit ook. Ek is 'n selferkende woordverslaafde!

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Geselsverse
« Reply #5 on: September 10, 2018, 03:51:53 PM »
Dit is groot pret om te vra om die bladsy te vertaal en dit is hoe dit lees:




This is the result of a chat from our forum mother (and I left your punctuation as you used it). 

Fôkkôlie

This side of the ocean
lay intact ,
the ark was open.
We were so busy
that winter
we quietly
stalked. 
This morning
when I put my feet
off that bed, 
I know,
PM,
you're going to burst
the cold. 
This winter is not
for sissies.
I will have
to acquire some stalls to
walk a little further
from the cold floors


Now it is time
for the two old ghosts to
take a few days off
and man's head heads
Tsitsikamma. 
But this is winter then?
What about the bushveld?
There the sun shines at least. 
I think we will have to share the bread
in half

Or how? 
Or is something better
than fôkkôllie?

 © PM

Om te weet is om te verstaan.

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Geselsverse
« Reply #6 on: October 03, 2018, 08:40:14 PM »
Oe lieven loven ek is verkrukkeld gelag.  :toothy4: :headbang:

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Geselsverse
« Reply #7 on: October 18, 2018, 11:47:54 PM »
Saamgestel uit 'n gesteelde gesels van ons forummoeder  :bootyshake:

Dikker as bloed

Djarre der djarre gelede,
dit is nou toe oom Paul
nog vir Diggers
skrumskakel gespeel het,
het ons 'n kuiertjie gereël
daar by ons ou huis
in Valhalla. 

Die geleentheid
was Adéle, of Annie,
soos sy destyds
bekend gestaan het,
het kom kuier
en ek het probeer
om 'n paar ouens
bymekaar te kry. 

Karin, of Juenka,
Stof en Kabouter,
ek en Hannes
(ek hoop nie
ek het iemand
vergeet nie),
het saam
gekuier.
 
Dit was mielietyd,
nee eksuus,
ek bedoel
groenmielietyd,
net so hierdie tyd
van die jaar
wat jou lus
vir groenmielies
uitgehang het
maar jy kon dit
nog nêrens
te koop
gekry het nie. 

Hannes het in "Timbaktu" gewerk
en was oppad huistoe. 
Langs die pad
sien hy toe
hierdie lieflike
groenmielielande
en toe
hou hy stil
en steel
'n paar groenmielies,
net genoeg vir die pot,
en hy bring dit saam.

Daardie aand
toe eet ons
groenmielies
dat die spoeg
so spat! 
Niks so lekker
as gesteelde vrugte nie!
Ons het gekuier
en gekuier
tot so ek weet nie
hoe laat nie. 
Die wyn
het gevloei
soos wat die Kaap
dit nog nooit
geken het nie! 
Dikker as bloed
seg ek
vir u. 

Dit was in daardie
vroege oggendure
wat ek besef het,
nou sal koffie
dalk net
die regte ding wees. 
Toe slaat ek
daai moerkoffieketel
dat hy 'n "knight in armour" is
tot die son opkom. 

Sustertjie,
dit was 'n gekoffie
uit die boonste rakke. 
Ons het al die vogeltjies
wakker geraas!
Hoe Adéle
die volgende aand
nog gevolkspele het
is 'n raaisel,
maar
sy het dit gedoen!   
So het ons
bloedbroers
en susters geword
tot vandag toe,
gesteelde mielies
en boeretroos
en al! 

 © PM
« Last Edit: October 19, 2018, 12:09:16 AM by Meraai vannie Baai »

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Geselsverse
« Reply #8 on: October 19, 2018, 10:48:51 AM »
Ek sal nooit daardie aand/nag vergeet nie.  Dit is nou een ding wat ons Afrikaanseforumers kan doen en dit is kuier.  Daar is geen einde daaraan nie.   :bootyshake:
Om te weet is om te verstaan.

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Geselsverse
« Reply #9 on: October 19, 2018, 10:49:56 AM »
Of dit nou fisies of in die kuberruimte is - ek stem saam PM. Ons KAN kuier  :bootyshake: :love7: :icon_salut:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Geselsverse
« Reply #10 on: October 19, 2018, 10:56:06 AM »
Die probleem is net om almal bymekaar te kry.  Ek dink ons moet weer die vliegtuig vat en 'n bietjie Kaap toe.  Nou dat ek nie meer daar is nie ruk die klomp handuit!   :toothy4:
Om te weet is om te verstaan.

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Geselsverse
« Reply #11 on: January 14, 2020, 11:39:31 PM »
Die volgende geselsvers het ek saamgestel uit 'n plasing by die asemdief se bewusmakingsblad en Lidi se gedig het dit verwoord wat ek nie kans gesien het om neer te pen nie.

die man aan haar sy
word al hoe stommer
humorsin kwyn
soggens wag sy gulsig
vir die regterwangpiksoentjie
saans bou hy emosiemure
op tabletskerm en so
verrys platoniese klipmuur
tussen adam en eva
met vetlettergraffiti
sy die pasient
hy die versorger

sy mis haar man
haar lover
haar nar
en smag stom stommer stomste
na sterke hande
oppie ronde lyfie
terwyl sy wonder
is dít hoe te veel omgee lyk

© Meraai vannie baai

Lidi de Waal Art&Poems
9 December 2019
 
bok bok staan styf hoeveel vingers op jou lyf
all in all kan die vrou
amper op haar een hand tel hoeveel vingers
op haar lyf was die laaste paar jaar
nou tel sy die tandarts se vingers
en desmond die haarkapper s'n
en die voete en naelsvrou s'n
maar dis net op haar hare en hande
en haar voete en tande
maar op haar lyf kom veels te min vingers
en geen bok bok staan meer styf
oor hierdie ou lyf nie
en dis die very very sad and ugly truth
van te veel eensame ou wyfiesiele

© Lidi de Waal

NS: Vir hierdie ou wyfiesiel was daar nie voete-, hare- of naelshande of vingers wat bietjie kan vat nie want die asemdief en skerp reuke van salonne is aardsvyande. Demmit, die lewe is soms niekerbol hard  :icon_bigsmurf:
« Last Edit: January 16, 2020, 10:50:48 PM by Meraai vannie Baai »

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Geselsverse (Praatpoësie)
« Reply #12 on: January 19, 2020, 06:22:32 AM »
Wat 'n voorreg, dink ek weer, wanneer iemand met respek in haar wese ingevleg, jou help en leer, jou woorde waardeer, saam met jou kan lag en jou toelaat om saam met haar te huil, haar asempies soms te kort soos wat jou arms te kort raak vir ordentlik siene in die noteboek waar die lewe se emosies opgeteken is en die orrelstoeltjie al hoe verder agtertoe geskuif moet word, en wanneer jou vingers nie meer die note kan bykom nie, jy 'n artsie moet gaan sien (al kan die oge dan reeds nie meer sien) vir van daai glasies wat jou weer nader kan laat sien, ja so is haar asempie te kort, moet sy ook 'n artsie gereeld gaan sien om (soos glasies) iets te kry om beter te kan asem, ja vir haar wil ek dankies pluk in my roostuin en in 'n boksie pak en dit oor die water sein want dankies het nie kleur of geur (wat sleg is vir asem) maar is vol emosie van waardering vir hulp en ondersteuning oor baie jare reeds in ons onthou-mandjies ingepak.
adéle  :grommit:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Geselsverse (Praatpoësie)
« Reply #13 on: March 09, 2020, 03:01:38 PM »
'n Boek vol deernis!
Om te weet is om te verstaan.

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Geselsverse (Praatpoësie)
« Reply #14 on: July 21, 2020, 05:41:43 AM »
Liefste Adele, ek lees nou weer jou fiskriklike mooi kommentaar. Dankie mater vir dit wat jy ook vir ons almal beteken. Jou geloof hou my op die regte pad. 'n Warm drukkie spesiaal ook vir jou PM'pie vir ons forum. 'n Hoekie waar ons kan kom wegkruip en harte leegmaak tussen lyne en net soms lekker laf kan lag en skerts. Geseend is ons inderdaad.