Dit is nóg ‘n winternag
en koue gaan lê oor die veld.
Selfs die dag se woeste suidewind
soek rus teen die ysige temperatuur
wat sneeuwit oor die lande lê.
Ek is toegedraai in sybokhaar
en sit op die breë vensterbank waar
die melkweg dwarsoor die nok inskuif.
Rondom aan alle kante skitter planete
en sterrestelsels in dieper blink as marmerwit.
Dit is tussen hierdie naghemelliggame
in suider-sterligwit geklee,
wat ek my gedagtes aan herinneringe oorgee.
En ek voel ‘n troostelose traan
saggies uit my oog oor my koue wang gaan.
‘n Duisend vaatjies seer
daal op my skouers neer
en ek wonder hoeveel daarvan
is in vreugde vasgevang?
Want soveel in die lewe, Heer
het my tot lof en sang beweeg,
elke keer waar ek deur diepe waters sink.
Soms was iemand saam met my
en het ons mekaar selfs lief gekry.
Tussen vriende en kinders en hulle ouer as ek,
het ons soveel gelag en gespeel
en deur riviere en seestrome
hand en skouer na mekaar gereik.
Maar ander kere het ‘n ewige alleen
my vasgegordel in ‘n kluisenaarsgrot,
‘n skerm van klip om my gebou en versterk.
Ek het besef dat seer in die lewe,
deel is van jou lyf en jou persoon
en selfs jou hart se strewe.
Geen geluk is honderd persent,
volmaak geslaagd as die doel gestel
om jou hier op aarde agter te laat,
wanneer ander die hier vir die Ewige verlaat.
Daarom vind ek ‘n traan in elke geluk,
‘n hartseer tot platform waarop jy bou,
eer jy in vreugde en lofgeluk
die vrugte op jou Evangelie-liefde pluk.
©adéle theron