2:1:16
Die nuwe jaar het sy eerste skrape weg. Ek, Oupa en Antie Stienie sit op die stoep en kyk hoe die Langkloofklopse op die werf feesvier. Dis tradisie hier by ons dat die werkers tweede nuwejaar bietjie uithaak. (Ou Ta haak meer as een keer 'n jaar uit maar hy maak darem nooit moles nie.)
Die spulletjie het 'n kitaar (wat blykbaar op 'n stukkende klavier ingestem is) en 'n bekfluitjie wat deur 'n uitasem Ans geblaas word en hulle dans dat die werfstof wolke maak in die son se hitte. As ek so vir Ta kyk wonder ek of dit dans genoem kan word as jy net nog heweig vibreer van die vorige aand se wingerdsap.
Antie Stienie wat gister oggend hoog en laag gesweer het sy het opgehou rook en drink suig aan haar kameel en dobber reeds saam met haar twee skippies op die stoel rond. Wonder of se nog gaan dobber as die derde skippie oor die lippe verdwyn het.
Ja nee. Die nuwe jaar het al sy eerste skrapie weg.