Die staking
Gisteroggend bring Anton vir my groen tee en toast. (Ek herstel nog na die dorp toe gaan storie)
Rustig eet ek my toast met botter bedruip. Dis toe ek die eerste mondvol tee neem waar die moeilikheid begin!
Geskok reageer my smaakbekertjies en my tong krul om om die tee in my keel af te druk. My keel laat weet my tong: “Jou dinges pêl. As jy dink ek gaan daai strooi wat jy daar vashou toe laat om teen my wande af te glip … forget it!”
My lippe wil ook nie aan die tee raak nie en ek moet met alle mag en geweld hulle op mekaar vasknyp en dwing om daar te bly, want die toilet gaan ek nie haal nie.
“Sluk!” beveel my brein my keel, na my mond by hom gaan hulp soek het.
“Not a dem” sê my keel en trek net stywer toe. Smaak my hy het iewers ‘n cable tie in die hande gekry.
Anton kom in die kamer om te hoor of alles na my smaak is. Ek skud my kop, waag dit nie om te praat nie, te bang ek bemors alles.
“Wat’s fout?”
“Nou moet jy sluk laat ek kan my storie, storie.” beveel my mond my keel.
“Sluk!” gil my brein en ek knyp my oë toe en sluk.
“Sies man, van wanneer af drink mens melk in groen tee? Die goed is klaar so sleg.” kla ek by Anton.
“Skies. Moet ek ander gaan maak?”
“Nee, gits ek wil nie nou al die emmer skop nie.”
Groen tee is goed vir mens sê die wat weet.
©Orange Blue
©ALLE REGTE VOORBEHOU Geen gedeelte van hierdie skrywe mag op enige manier gereproduseer word sonder die skriftelike toestemming van die kopiehouer (skrywer) en uitgewer nie.