Dis asof my hele lewe my voorberei het om met myself te praat. Toe raak ek nog verslaaf aan 'n forum waar vier mense en 'n gedagte nou en dan iets sê.
Feite is, in my lewe het ek stil geraak, alleen geraak tussen mense.
Mens kan elke dag met honderde mense werk maar as daar nie 'n dieper saamwees is nie vergader skares alleen in jou grysmassa en dan kry die lewe die oorhand.
Genugtig, na 42 jaar se huwelik en kinders kan ek saam vakansies op een hand tel. Kan ek vriende op een hand tel (en hulle is letterlik oor die wêreld gestrooi.
Kennise... legio... vriende... min.
Maar die teerpad tot hier het ek self geteer met besluite wat ek self geneem het.
Ek kan net nie meer in gange loop en hoop om elke nou en dan iemand raak te loop nie. My lewe is vol van daai alleen loop.
Ek het dit die laaste tyd weer besef toe ek reëlings probeer tref en die eindresultaat is "of alleen of glad nie. "
Skryfwerk is 'n toevlugoord maar soos Assie is dit net verbeelding.