Toe ek jare gelede begin skryf het oor my hand en tand bekgeveg teen die Asemdief, het ek nooit verwag dat ’n half verborge forumdraad meer as ’n miljoen keer gelees sou word nie. (Read 1062362 times) Hierdie getal is nie ’n pluimpie vir my nie - dit is ’n stafmaat van nood.
Dit wys hoe min Afrikaanse inligting daar oor Pulmonale Hipertensie bestaan, hoe baie mense in die donker soek na antwoorde, en hoe dringend ons geliefde taal ’n stem vir hierdie ongeneesbare asemnood benodig. Elke lees is nie ’n kliek nie; dit is iemand wat probeer verstaan, iemand wat bang is, iemand wat alleen voel. En dit is juis waarom ek bly skryf het.
Maar nou het het tyd geword om nog meer bewusmaking te doen en die nuwe tegnologie in te span. Ek is besig met die saamstel van E-boek. Dit sal die vorm aanneem van 'n
BiograPHie van Pulmonale Hipertensie (Die Asemdief).
Ek het weer die opskrif by een van die fotos gelees: Na die vonnisoplegging in Julie 2012 het dit nou in 'n eksklusiewe onderhoud met die woorddief, aan die lig gekom dat daar gewoeker word met die saamstel van 'n biograPHie en die naakte feite word openhartig bespreek:
• die opdraandes
• die asemrowende dae
• die wagkamers
• die uitslae
• die volmane wat verby snoer
• die bewusmakingsveldtogte
• die drang na oorlewing
In 2012 toe die Asemdief gediagnoseer was hier in Australie, was daar net 25 gevalle in Suid Afrika bekend. Dit was 'n skok om te besef Pulmonale Hipertensie is 'n raar, nare skeet.
Daar het soveel tyd verloop na my diagnose en ek het besef my pad met die Asemdief nie net in jare gemeet word nie, maar in asem-seisoene:
• 2012: die vonnis
• 2013–2015: die oorlog
• 2016–2020: die aanleer van oorleef
• 2021–2023: die terugkeer na die wêreld
• 2026–nou: die herskryf van die verhaal
Aan elke mater wat daar was vir ons, wat saam gehuil en saam gelag het deur die afgelope 14 jaar, 'n stywe drukkie en baie liefde.
