
Hierdie bydrae het omtrent so lywig geword as die uwe haarself

Maar vanoggend se plasing is die einde van die laaste hoofstuk in hierdie biografie van skeet en kwaal. Ek het na nege lange lange jare besef dit is tyd vir halt roep met my soektog na antwoorde en oorspronge. Die gewag op uitslae en soeke na antwoorde knak ons almal se kniege keer op keer.
Die afgelope lang naweek was ons by die kinders op die Goue Kus en was dit die eerste keer na die nuwe uitslae dat ons hulle vrae probeer beantwoord het. Ek glo nie ek sal ons seun se gesig in die spieel ooit vergeet toe hy van agter die stuur vir ons vra "Do we have a time frame mum?" en Outop strak antwoord: "No time frame."
Ek het net gese dat nie een van ons dit het nie. Daar is 'n tyd om gebore te word en jou lewensstrepie hou nie vir ewig aan nie. Vanoggend het die uwe besluit dit is tyd om te aanvaar en net aan te gaan. Antwoorde daal nie letterlik uit die hemel neer nie en ek grawe gate in my geloof op soek na antwoorde wat nie daar is nie.
Elkeen dra sy of haar kruis en ek is uit Genade bevoegd gevind om myne te kan dra en nou blymoedig te aanvaar.
Sela.
