"Sien jy kans?"
Ek het, soos gewoonlik, hierdie plek op die internet raakgeloop. 'n Pragtige selfsorgeenheid, 200 meter van die hoofhuis af. Ongelukkig is dit reeds bespreek maar ons kan by hulle in die baie ruim plaashuis bly.
Ek sal liewers verder soek, seg ek vir manlief.
Die dame skakel hom weer en hy bespreek die saak met my en ek stem in.
"Sien jy kans om by vreemde mense in 'n huis te bly?" vra Raaitjie vir my.
"Ek sien kans." antwoord ek met 'n benoude gevoel wat my keel wil toetrek.
Watter ander keuse het ek? Ons kan 50 kilometer verder in 'n beter plek bly, waar ek privaatheid het, maar dit is 100 kilometer per dag wat manlief verder moet ry en die paaie is in 'n liederlike toestand. Wanneer dit droog is is dit nie so erg nie. As dit reën is die potgate vol water en dan is dit nag. Nou ry hy 10 kilometer werk toe, dit is grondpad maar dit is nie te sleg nie.
Manlief ry vroeg en kom laat terug. Dit steur hom nie.
Sy het nie ander gaste nie en ons sal privaat wees.
Ek sal alles hê wat ek nodig het. Die gasvrou sê sy het ook 8-ta bebruik en dit werk.
'n Ruim slaapkamer met 'n private badkamer.
Sy sal vir my 'n privaat sit-eetkamer gee waar ek kan werk.
In die kamer is n yskas, net vir ons, waarin ons ons goed kan koud hou.
Ons onderhandel oor ontbyt en aandete, 'n redelike prys, so ek het nie 'n kombuis nodig nie.
As ek nou nog wil kla sal dit net met 'n witbrood onder elke arm wees.
So gesê so gedaan.
Ons koop kaas, kouevleis, groente en vat ook 'n geskenkie saam vir die gasvrou.
Toe ons stilhou word ons hartlik verwelkom en kry 'n toer deur ons blyplek.
'n Ruim slaapkamer met 'n badkamer wat ons met die gashere deel. ???
Dit is nog aanvaarbaar en ons pak uit.
Toe ek die yskas soek om ons water en wyn in te pak, wys sy vir my 'n yskas wat so oorvol is dat daar nie veel plek is vir my nie. Toe begin ek wonder...
"Sien jy kans?" wonder ek.
"Ja, hoe dan nou anders?"
Ons raak aan die gesels, maar gasvrou hou die hek dop. Sy wag vir twee ander mans wat die vorige dag bespreek het. Kort-kort skakel sy, maar hulle antwoord nie. Nou is sy baie benoud. Sy het genoeg gekook vir hulle ook.
Toe dit tyd is vir 7de laan stol die gesprek. Die klank vul die hele huis. Gasheer is effens doof. Ek en Hannes gaan soek 'n plekkie onder die boom. Daar kan ek ten minste rook. Rook mos soos 'n stoomtrein.
Na die nuus kan ons eet. Half agt. Dit pla ons nie. Ons eet gewoonlik sewe uur in die week. (As ons nie kuier nie.)
Gasvrou is baie omgekrap dat die ander gaste nie opgedaag het nie.
"As hulle nie more opdaag nie dan sit ek julle in "daardie" kamer."
(Privaat met sy eie badkamer.) ???
"Baie dankie, maar ek sien nie kans om alles weer in te pak en uit te pak nie."
Ek maak my rekenaar oop, sit 8-ta in, maar niks.
Nou vertel sy dat sy wel 8-ta gehad het maar dit nooit gebruik het nie. Sy het gedink al die bedieners is maar dieselfde. "Sorry!"
"Ek sal maar weer Hannes se apparaatjie gebruik."
Hulle het ook ongelukkig nie DSTV nie. Net die gewone kanale. Die DSTV is net in die selfsorgeenheid beskikbaar, maar sy glo nie die mense wat daar bly sal omgee as ons saam met hulle wil gaan kyk nie. ???
Gisteroggend is gasvrou dorp toe. Sy vat die elektriesiteit saam. *lag* Sit sonder krag tot half twee.
Half ses is sy terug. Geen probleem, die bediende kook en haar kos is smaaklik. Sy het vergeet om te sê dat hulle kort-kort sonder krag sit. ???
Die ander gaste het nie opgedaag nie.
Gewoonlik eet hulle sesuur in die aand, vertel sy.
Dit is nie 'n probleem nie, ons hoef mos nie saam te eet nie. Die kos is in 'n bain mari. Hannes kom eers half ses by die huis en dan wil hy met 'n glasie rooiwyn ontspan voordat hy eet. Sy lyk nie baie ingenome daarmee nie.
Ons eet sewe uur. Die kos is smaaklik.
Vroegoggend sê gasvrou vir my dat die kamer wat sy vir ons gegee het, eintlik hul gastekamer is waar haar kinders slaap as hulle kom kuier. Ek vra toe of sy hulle verwag? Nee, maar sy en haar man is bang dat hulle ons pla in die nag en hulle moet op hulle tone loop omdat die plankvloere so kraak.
Goed, ek sal na die ander kamer trek.
So gesê so gedaan.
Sowaar as wat padda manel dra: klop sy aan die deur. Haar man sê sy moet eers weer die ander gaste skakel om te hoor of hulle nie dalk vandag sal opdaag nie voordat ons in hierdie kamer kan bly. ???
Ek is raadop! Hoe nou?
Sien jy kans?