Vanoggend kom ons tuinjong in en later kom vra hy of ek "het gesien die man daar by die tuin hy het geval".
Ek kon nie help om te glimlag nie, hy was na aan trane. Ek sê toe vir hom ons het gesien, maar hy is te swaar vir ons.
"Djirre, ek kry hom ok nie op nie."
Sy vrou vra so ewe of sy kan kom help. Toe skater ek.
Die twee oumense slaap in die bediendekamer. Maria werk vir die buurman tot so twee-uur in die middag. Sy is elke oggend sesuur by haar werk, eers 'n bus en dan die trein. Dan stap sy so 4 kilometer tot by die werk en sy is al 60 (maar ek dink dit is nader aan 75) en het 'n gebreklike voet. Sy werk al 30 jaar vir hom. Hy self het breinskade opgedoen met sy geboorte en hy loop met 'n loopraam, baie moeilik. Sy maak vir hom ontbyt, maak sy knope vas, trek sy skoene aan en dan help sy hom tot by sy kar.
Sy kla toe so twee weke gelede by my dat sy nie meer so ver kan loop nie en wens hy wil net vir haar 'n houthuisietjie opsit waar sy haar kop kan neerlê. Sy sal sommer in 'n skotteltjie was.
Haar man soek ook al maande werk en hy kry niks, want die mense sê hy is te oud om te werk.
Ons sê toe hulle moet maar hier in ons houthuis intrek. Dit staan mos leeg. Hy werk nou elke dag in die tuin, was die skottelgoed en die vloere. Hy kry nie veel nie. R1 200.00 per maand en dan gee ons vir hulle kos.
Twee keer in 'n week kom skarrel sy gou deur die woonstelletjie. Dit vat haar 'n hele uur en 'n half, van hoek tot kant. Daarvoor betaal ons haar R400.00 'n maand.
"Djirre Oumiesies, djulle is nog wit witmense", seg Frans.