Ons was vandag by Lox en vroulief en ons het 'n fantastiese dag beleef.
Uit die aard van die saak is ons daarheen met hoë verwagting, maar toe ek hulle huis sien, van die pad af, wat swart gebrand is, kon ek nie my emosies onder beheer kry nie. Ek het skaam vir my eie trane, agter die voertuig weggekruip. Lox moes MY troos!
Sy eerste woorde aan my was: PM, ons leef! Kyk! Die son skyn!
Maar al wat ek kon sien was 'n huis, 'n huis waar ons skaars ses maande gelede besoek het, vol van vreugde, vol van lewe, nou, dood gebrand. Die stank is oorweldigend. Die reuk van "alles afgebrand" oorweldigend. Ek glo, 'n reuk waaraan hulle intussentyd moes aanvaar as "die norm".
Ag fok verskoon my, maar ek snik my hart uit!
Ons stap saam met Lox deur die huis en hy wys waar wat was, maar ek is so verslae, ek vang net hier en daar wat hy sê. Ons stap in sy seun se kamer in en ek sien die mure vol geskroeide foto's van vervloë helde en my hart klop vurig in my keel. Die prentjie van my eie kinders en hulle helde, en hoeveel hierdie helde vir hulle beteken het, speel die Currycup voor my oë af en my hart snik. Lox vertel van Springboktruie en ander truie en ek vang net hier en daar, want my hart huil homself stukkend!
Buite voor die deur, ek bedoel buite die gebou, staan 'n klomp "scrap". Dit, verduidelik Lox, is die ou Remmington tikmasjien, dit was die waaiers, dit was vroulief se omkapmasjien en dit was ons lugreëling, dit was die musieksentrum en dit was.... en daar breek my hart weer aan stukke.
Buite blom die rose asof hulle betaal word. Die vyeboom dra hom dood aan die wonderlikste soetste vrugte. Die plantegroei is "lush" en ek verwonder my aan die "lewe" buite en om die huis.
Wat my die meeste verstom is AB en Antoinette se wonderlike uitkyk, hulle is so positief, hulle het dalk materiële dinge verloor, maar hulle is so dankbaar dat hulle nog lewe, dat hulle mekaar nog het, dat hulle 'n nuwe toekoms ingaan. Ons het vandag soveel van hulle geleer! Dit is ongelooflik.
Al wat ek kan sê is dat julle 'n wonderlike voorbeeld vir ons is en dat dit vir ons 'n groot voorreg is om mense soos julle te ken.
Ons weet dat die volgende paar maande nie vir julle maklik sal wees nie. Weet net dat ons julle elke dag in ons gedagtes sal hou. Hou ons ook maar op hoogte van julle doen en late. Ons sal dit baie waardeer!
Lief vir julle,
Ons almal.