Die koue wind huil om die verlate hoeke van die opstal en sny deur die alleenlyf mensehopie wat hurkend teen sy aanslae skuil. Dit waai haar hare uit haar gesig en byt aan haar nek en ore, knaag aan die ontblote, naakte vel waar eens, in vergange passie, sy asem warm was. Bleekwit hartseertrane
yskristal op haar wange en die hande wat warm aanslae op ‘n lyf kon maak, is in vuisies voor haar mond gedruk. Hulle smoor die snikke wat uit wil bars. Iewers het die vol rondings van haar lyf, wat sy sinne so bedwelm het, verander in ‘n brose, beenmaer mens merk hy op terwyl hy stilstom na haar staar.
Sy lig haar gesig en kyk hom swyend aan. Die blinkbly oë wat hom tot slaaf kon dwing, is nou dowwe nikssiende spieëls wat die onreg en hartseer in sy gesig terugkaats. Geskok snak hy na sy asem toe hy in hulle kyk. Is dit wat van haar geword het? Is dit wat oorgebly het van die vrou wat hom verafgod het? Die vrou wat jare lank saam met hom hierdie grond bewerk het?
Dit voel soos gister toe hy haar met trots na sy plasie gebring het. Vol beloftes van oeste wat gaan wees en vet jare waarin hy vir haar sou sorg. Haar vrolike lag as sy tussen die lammers is of haar singende stem wanneer sy besig was, het hom altyd moed laat skep. Nooit het sy gekla of iets vir haarself gevra. Net altyd aan sy sy gewerk. Saam het hulle die lug dop gehou vir wolkie wat reën moes bring, saam gejuig die enkele kere wat dit wel sou kom. Saam gejuig oor die seun in die wiegie en ‘n paar maande later saam langs sy graf gestaan.
Hoe is dit dan moontlik dat hy nooit agter gekom het hoe sy vrou onder sy oë wegkwyn nie? Was hy dan werklik so besig om ‘n verlore stryd te stry dat hy van haar vergeet het? Hy het wel opgemerk dat sy stil word, dat die musiek verdwyn. Hy het opgemerk dat sy nie meer vrae vra nie. Heimlik was hy verlig, want nou was dit nie meer nodig om kortaf antwoorde te blaf nie. Hy kon maar net swyg en treur.
Hoe meer hy dink, hoe duideliker weet hy nou dat die tekens reeds lankal daar was. Sy vrou wat nooit ‘n rit dorp toe gemis het nie, het skielik allerhande verskonings gehad hoekom sy nie kon saamgaan nie. Sy het nie meer gaste oorgenooi nie. Selfs Jan, die plaashulp het nou die dag gevra hoekom mevrou so alleen bly en met niemand praat nie. Hy het dit as moegheid voorgehou. Jan se antwoord op sy vraag wat Mevrou dan doen as hy dorp toe gaan, was nie vir hom vreemd nie. Mevrou sit by die graffie van die baba Meneer, dan gaan sy huis toe en niemand sien haar nie.
Terwyl hy na die hopie mens voor hom kyk, voel hy die selfverwyt. Hy was so vasgevang in sy stom hartseer oor sy kind en die plaas en die droogte en die gesukkel dat hy nooit sy vrou beskerm het nie. Nooit gedink het dat sy ook treur nie. Dit was dan sý seun, sý erfgenaam vir wie hy die plaas opgebou het. Na die kleintjie se dood het hy soos ‘n outomaat deur sy dagtaak gegaan. Gedoen wat hy moes, maar nie met die vuur van vroeër nie. Daar was geen sin meer in nie.
Die droogte het die laaste oes tot stof verdor en die diere moes verkoop word. Hy het nie meer omgegee toe hulle die plaas moes verkoop nie. Net stom gestaan en kyk hoe sogenaamde vriende skynheilig simpatiseer en dan met winskopie pryse sy besittings as eie opeis. Nadat die laaste mense vertrek het, het hy na haar kom soek en nou kyk sy vrou met dooie oë na hom, steek die stil verwyt soos dolke in sy hart. Dis net hy en sy en die huis op die dorp wat wag.
Stadig staan sy op en sonder om te praat, stap sy by hom verby. Hy kyk haar agterna toe sy by die graffie stilstaan, sien iets blink en hoor die knal. Hy sien hoe haar liggaam slap oor die graf val, sien hoe die rooi bloed die spierwit steen vlek. Dan sak hy inmekaar.
Hartaanval vertel die manne aan mekaar waar hulle by die koöperasie oor hom praat. Skuldige gewete fluister die vrouens nydig waar hulle by die tuisnywerheid skinder. Tragiese gebeure sê Mevrou Dominee wyl sy vir Dominee sy middagtee en ‘n koeksister aangee en hy meerwaardig knik. Blink Stefaans bly een minuut stil voor hy sy glasie in die kroeg lig en ‘n heildronk drink op die winskopieprys wat hy vir die grond betaal het. Die lewe gaan aan.