Author Topic: Die lewe gaan aan  (Read 4956 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Gawelina

  • Guest
Die lewe gaan aan
« on: May 03, 2011, 08:54:37 PM »
Die koue wind huil om die verlate hoeke van die opstal en sny deur die alleenlyf mensehopie wat hurkend teen sy aanslae skuil. Dit waai haar hare uit haar gesig en byt aan haar nek en ore, knaag aan die ontblote, naakte vel waar eens, in vergange passie, sy asem warm was. Bleekwit  hartseertrane
yskristal op haar  wange en die  hande wat warm aanslae op ‘n lyf kon maak, is in vuisies voor haar mond gedruk.  Hulle smoor die snikke wat uit wil bars. Iewers het die vol rondings van haar lyf, wat sy sinne so bedwelm het, verander in ‘n brose, beenmaer mens merk hy op terwyl hy stilstom na haar staar.

Sy lig haar gesig en kyk hom swyend aan.  Die blinkbly oë wat hom tot slaaf kon dwing, is nou dowwe  nikssiende spieëls wat die onreg en hartseer in sy gesig terugkaats.  Geskok snak hy na sy asem toe hy in hulle kyk.  Is dit wat van haar geword het?  Is dit wat oorgebly het van die vrou wat hom verafgod het?  Die vrou wat jare lank saam met hom hierdie grond bewerk het?

Dit voel soos gister toe hy haar met trots na sy plasie gebring het.  Vol beloftes van oeste wat gaan wees en vet jare waarin hy vir haar sou sorg.  Haar vrolike lag as sy tussen die lammers is of haar singende stem wanneer sy besig was, het hom altyd moed laat skep.  Nooit het sy gekla of iets vir haarself gevra. Net altyd aan sy sy gewerk.  Saam het hulle die lug dop gehou vir wolkie wat reën moes bring, saam gejuig die enkele kere wat dit wel sou kom. Saam gejuig oor die seun in die wiegie en ‘n paar maande later saam langs sy graf gestaan.

Hoe is dit dan moontlik dat hy nooit agter gekom het hoe sy vrou onder sy oë wegkwyn nie?  Was hy dan werklik so besig om ‘n verlore stryd te stry dat hy van haar vergeet het?  Hy het wel opgemerk dat sy stil word, dat die musiek verdwyn.  Hy het opgemerk dat sy nie meer vrae vra nie.  Heimlik was hy verlig, want nou was dit nie meer nodig om kortaf antwoorde te blaf nie.  Hy kon maar net swyg en treur.

Hoe meer hy dink, hoe duideliker weet hy nou dat die tekens reeds lankal daar was.   Sy vrou wat nooit ‘n rit dorp toe gemis het nie, het skielik allerhande verskonings gehad hoekom sy nie kon saamgaan nie.  Sy het nie meer gaste oorgenooi nie.  Selfs Jan, die plaashulp het nou die dag gevra hoekom mevrou so alleen bly en met niemand praat nie.  Hy het dit as moegheid voorgehou.  Jan se antwoord op sy vraag wat Mevrou dan doen as hy dorp toe gaan, was nie vir hom vreemd nie.  Mevrou sit by die graffie van die baba Meneer, dan gaan sy huis toe en niemand sien haar nie.

Terwyl hy na die hopie mens voor hom kyk, voel hy die selfverwyt.  Hy was so vasgevang in sy stom hartseer oor sy kind en die plaas en die droogte en die gesukkel dat hy nooit sy vrou beskerm het nie.  Nooit gedink het dat sy ook treur nie.  Dit was dan sý seun, sý erfgenaam vir wie hy die plaas opgebou het.  Na die kleintjie se dood het hy soos ‘n outomaat deur sy dagtaak gegaan.  Gedoen wat hy moes, maar nie met die vuur van vroeër nie.  Daar was geen sin meer in nie.

Die droogte het die laaste oes tot stof verdor en die diere moes verkoop word.  Hy het nie meer omgegee toe hulle die plaas moes verkoop nie.  Net stom gestaan en kyk hoe sogenaamde vriende skynheilig simpatiseer en dan met winskopie pryse sy besittings as eie opeis. Nadat die laaste mense vertrek het, het hy na haar kom soek en nou kyk sy vrou met dooie oë na hom, steek die stil verwyt soos dolke in sy hart.  Dis net hy en sy en die huis op die dorp wat wag. 

Stadig staan sy op en sonder om te praat, stap sy by hom verby.  Hy kyk haar agterna toe sy by die graffie stilstaan, sien iets blink en hoor die knal.  Hy sien hoe haar liggaam slap oor die graf val, sien hoe die rooi bloed die spierwit steen vlek. Dan sak hy inmekaar.

Hartaanval vertel die manne aan mekaar waar hulle by die koöperasie oor hom praat.  Skuldige gewete fluister die vrouens nydig  waar hulle by die tuisnywerheid skinder.  Tragiese gebeure sê Mevrou Dominee wyl sy vir Dominee sy middagtee en ‘n koeksister aangee en hy meerwaardig knik.  Blink Stefaans bly een minuut stil voor hy sy glasie in die kroeg lig en ‘n heildronk drink op die winskopieprys wat hy vir die grond betaal het. Die lewe gaan aan. 

Offline Naas

  • Hardebaard
  • Posts: 2283
  • Gender: Male
  • K.N.A.P. (Kan Naas Afrikaans Praat of wat?)
Re: Die lewe gaan aan
« Reply #1 on: May 04, 2011, 06:49:44 AM »
Wow! Flippen WOW!!
Ek lees verwonderd en ek wonder en ek besef: "SY mag maar skryf!"
Dit gaan maar moeilik wees vir my om die volgende twee dae pen op papier te sit. Ek is nou te nederig na DIT.    :notworthy: :notworthy: :notworthy:



 :icon_bigsmurf:
Ek is maar net een, maar ek ís een.

Offline Fransi

  • Regular Members
  • Melkbaard
  • Posts: 1274
Re: Die lewe gaan aan
« Reply #2 on: May 04, 2011, 07:26:16 AM »
 :hello:

Aangrypend! Hierdie voel soos heilige grond.
Briljant geskryf.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10713
  • Gender: Female
Re: Die lewe gaan aan
« Reply #3 on: May 04, 2011, 08:05:28 AM »
'n Diep verhaal wat werklik treffend is.  Ek stem saam hoor,  jy mag, want jy kan!   :icon_salut:
Om te weet is om te verstaan.

Gawelina

  • Guest
Re: Die lewe gaan aan
« Reply #4 on: May 04, 2011, 05:07:30 PM »
Baie dankie.  Ek waardeer julle kommentaar.  Ongelukkig is die ding te kort om in te skryf vir die kompetisie en ek is nie lus om aan hom te karring nie.  Dus is dit nou net vir julle tot plesier.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10713
  • Gender: Female
Re: Die lewe gaan aan
« Reply #5 on: May 05, 2011, 09:37:16 AM »
Hoeveel woorde het jy nog nodig?  Dit is beslis 'n wenner en ek dink dit sou die moeite werd wees om 'n bietjie by te sit.

Hierdie storie het my nog steeds aan die tob. 

Hy was so vasgevang in sy stom hartseer oor sy kind en die plaas en die droogte en die gesukkel dat hy nooit sy vrou beskerm het nie.  Nooit gedink het dat sy ook treur nie.

Dink ek toe so:  As hulle maar net hulle hartseer met mekaar kon deel! 
Om te weet is om te verstaan.

Gawelina

  • Guest
Re: Die lewe gaan aan
« Reply #6 on: May 05, 2011, 04:08:57 PM »
Is dit nie maar die persepsie by baie mense dat mans nie emosie mag toon nie?  Dat hulle die sterk ene moet wees?  Dalk die dat hy in homself gekeer het. 

Ek kort nog omtrent 700 woorde.  Te veel om uit te dink.  Ek is so bang die bysit van nog goed, verander dit in 'n gorrelstuk, vat sy trefkrag weg. 

Offline Naas

  • Hardebaard
  • Posts: 2283
  • Gender: Male
  • K.N.A.P. (Kan Naas Afrikaans Praat of wat?)
Re: Die lewe gaan aan
« Reply #7 on: May 05, 2011, 08:07:14 PM »
Dan se ek ook maar soos die vinkmannetjie: "Hier te kort, daar te lank... tje tje tje dêêêmit!






 :icon_bigsmurf:
Ek is maar net een, maar ek ís een.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10713
  • Gender: Female
Re: Die lewe gaan aan
« Reply #8 on: May 05, 2011, 10:57:10 PM »
Ek moet met jou saamstem Gawie,  nog sewe honderd woorde is heeltemaal te lank.  Ek dink ook dit is wat "digkuns"  die "kuns om woorde dig te maak"  my geleer het.  Ek kan nou 'n storie in die helfte van die woorde vertel. 
Ek het geleer dat my leser nie 'n moroon is nie.  Hy/sy kan self, sonder die hewige omskrywing van duisend woorde, besef/verstaan,  wat ek wil sê.  Jou kort en kragtige storie vertel die hele verhaal.  Dit leer my ook om nie 'n beperking te plaas op 'n kortverhaal nie!   Ek wil net weereens vir jou 100 uit 10 gee.  Jou verhaal, of storie,  is 'n   WENNER!

Ja my maatjie,  ons arme mans is geleer dat emosie 'n ding vir vrouens is.  Natuurlik stem ons nie met hulle saam nie.  Emosie is vir mense.  Maak nie saak wat jou geslag is nie!

Ek het 'n mansvriend wat snot en trane kan huil oor emosionele sake.  Ek lief die man 'n hond uit 'n bos uit!

Naas,  nou verlang ek eers weer 'n vreeslike verlang na jou.  Jou woode voer my terug na net 'n paar dae gelede,  toe jou lakens nog warm was voordat ek dit in die was gegooi het!   :icon_biggrin:  Ongelukkig,  ongelukkig het die ander lesers nie 'n benul van jou "tje tje tje dêêêmit!" nie!  Was hulle maar hier om die groot plesier te beleef!  "tje tje tje dêêêmit!"

Om te weet is om te verstaan.

Gawelina

  • Guest
Re: Die lewe gaan aan
« Reply #9 on: May 06, 2011, 06:15:36 AM »
PM, ek het gisteraand probeer om komtaar hier te los, maar verniet of ek dit kon regkry.  Die wieletjie het net bly draai en draai en draai.  Ek het my storie ingeskryf.  Hulle seg daar die woordtelling is net riglyn, maar die maksimum mag nie oorskry word nie.  Toe dog ek dis dalk die moeite werd om te traai.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10713
  • Gender: Female
Re: Die lewe gaan aan
« Reply #10 on: May 06, 2011, 07:22:56 AM »
Mooi so!  Ek hou vir jou duime vas.  Watter gedigte het jy ingestuur.  Het jy die nuwe "pakketprys" raakgelees?
Om te weet is om te verstaan.

Gawelina

  • Guest
Re: Die lewe gaan aan
« Reply #11 on: May 06, 2011, 08:10:42 PM »
Ek het gesien. maar ek het nie regtig nog goed wat die moeite werd is nie.