Show up, Shut up and Wear Beige..
Not te dinges… dink ek. Ek gaan beslis nie beige aantrek nie. Ek is alreeds so vaal soos ‘n spook, beige gaan my soos ‘n ge-Jikte vadoek laat lyk. Show up, nie te bewyfel. Shut up.. weet darem nie. Ek kon dit nog nooit 100% regkry nie. Ek kan baie vinnig my sê sê as dit moet. Maar ek sal my tong moet byt tot op die béén om nie iets te sê.
Die geleentheid? Ma se enigste se troue.
Nou kyk, hierdie ma is soos ‘n tierboskat oor haar enigste. Sy het oor berge geloop en deur oseane geswen vir haar enigste. Nou verwag hulle dat sy moet shut up!! Hulle vergeet dat dit ook háár kind se troue is. Haar enigste’tjie se TROUE. En as die venue en die blomme en die musiek en die koek en die tafels en die kleurskema en die en daai en die ander nie ‘n geheel vorm nie… then what??
Ek het al horror stories gehoor van moeders van die bruid en moeders van die bruidegom wat nie eens by die kerk groet nie of die een is met opset per ongeluk by ‘n tafel in die verste hoek geplaas. Horror stories het ek al gehoor. Sê ek jou.
Gelukkig het hierdie tweetjies se families al jare met mekaar te doen. Die kinders is darem al agt jaar bymekaar. En as dit nie was dat hulle die neste móét verlaat nie, sou hulle nou nog so aangekarring het onder een dak.
Hierdie ma sal darem nou ook nie die limelight wil steel nie. Ek is nie baie lief vir die limelight nie. Het nóg horror stories gehoor van ma’s van die bruidegom wat so uit voel, dat sy stilletjies beplan om op die nippertjie op te daag net sodat almal in die kerk haar rok kan sien. Gehoor van een wat, toe sy by die kar moet inklim, kamtig haar hak breek. Sy moes toe weer terug om ‘n ander paar te gaan aantrek, maar dié kon sy nie kry waar dit nog altyd weggepak was nie. Die hele huishouding moes toe kom soek net om later by haar te hoor sy onthou nou dat sy dit vir tant Adrie geleen het vir die dinee toe die burgemeester ingehuldig is. Wat nou? WAT NOU?? Wel, ma, ek moet gaan. As ma nie die ander hak ook wil afbreek en met ma se nuwe plat skoene na my troue wil kom nie, moet ma dit maar mis. Arme vrou? Nee, sy het haar moment gehad toe sy net voor die bruid ingestap het amper op maat van die troumars. Skoonma’s!! Horribale goed soms. Die Moeder van alle Hoofpyne.
Nee, hierdie ma sal glimlag terwyl haar oë traan van die pyn soos sy op haar tong byt. Haar splinternuwe skoondogter ken sy by hierdie tyd baie goed. Hierdie nuwe skoonma sal shut up sodat haar enigste hom nie hoef te stress oor ‘n ma wat inmeng nie.
En daar is een ding waarmee ek saamstem, die kleurskema. Heerlike sagste van sagte pastelle en die sagvloeiendste materiale…. So romanties as kan kom. My enigste laat maar die dinge oor aan sy nuwe vroutjie. As sy gelukkig is, is hy gelukkig.
En ek het nog nie oor die venue vertel nie. Dáár is nou vir jou ‘n ding wat ek nié mee saamstem nie. Ek is prakties en dink ‘n plekkie hier naby sal doen .. of wat van in die tuin ? Dis tog groot genoeg vir ‘n troue. En ons maak al die versierings self. Tooi die groot ou bome in die tuin met silwer stringetjies en lanterns en gooi ‘n rooi mat tot by die gazebo en bind groot strikke om die stoele en alles is te pragtig en binne die budget. Maar nee, die bruid wil uitwyk wingerde en damme en bome toe. En my enigste luister maar met ‘n uitdrukking wat jy nie kan peil nie.
En daar moet nog huis ook opgesit word.
Oee.. die kinders weet nog niks van hoeveel dit kos om plekkie te huur en key deposits en aansluitingsfooie vir dit en vir dat en nuwe meubels en gordyne en groceries…
Ek sal show up, shut up, maar om die dood sal ek nie beige dra nie. Mag ek maar swart dra?