Dit is wat eintlik soveel die kroon span, Meraai. Soveel het my al as totaal 'af' geskryf, omdat ek nie meer my geloofslewe en spirituele sy 'konvensioneel' uitleef nie. Maar hier neffens ons, so 200m vanaf waar ek hier sit en tik op my tikkertjie, is die mooiste rots strand. Dit is my 'kerk' wanneer die bene my toelaat om tot daar te skuifel. Die wind is die orrellis, en daar sal nooit enige wanklank of vals noot opklink nie. Die voëls van die hemele, krappe en as ek gelukkig is, 'n rooi- of blouduikertjie, is die ander gemeentelede. Geen een sit heel voor in die kerk se ry en kyk verergd om as jy inskuifel nie. Geen fronsende ouderling wat jou anderdag se sondes se vuil spatsel nog gewaar op jou neus se punt of voorkop nie. Die stil klanke van brander na brander wat uitrol en teen die rotse vas slaan, is stille getuie van die Waarheid, die groot' Ek Is'. Die versekering dit was nog altyd daar en sal altyd daar wees. My gesinslede het 'strict marching orders' dat dit, presies net daar, die kerk is waar my laaste eerbetoon en 'koebaai party' gehou gaan word.