• Welcome to Die Afrikaanse Forum.
 

News:

NEEM KENNIS ASB :
Om lid te word van die forum, stuur 'n epos aan pm@afrikaanseforum.co.za, waarna jy deur die administrateurs geregistreer sal word.

Vir hulp met die forum se werking, lees "Help" op die balkie onder hierdie inskrywing.

Enige inteken probleme ondervind deur lede van die forum: andre@trusoft.co.za / willa@trusoft.co.za

Main Menu

*Goudstafies-kleinnode: Gewilde kinderversies en ♫ liedjies ♫

Started by Meraai vannie Baai, September 21, 2011, 04:08:18 AM

Previous topic - Next topic

0 Members and 2 Guests are viewing this topic.

Meraai vannie Baai

Vingerling
Duimpie het in die water geval,
Lekkepot het hom uitgehaal,
Langeraad het hom huis toe gedra,
Fielafooi het hom neergelê,
en Pinkie het vir Ma gaan sê.

******

Trippe trappe trone
Trippe trappe trone,
die varkies in die bone,
gansies op die groene gras,
eendjies in die waterplas,
ek wens dat kindjie
groter was
om Ouma se eendjie
op te pas.

******

Apie
Daar is 'n apie
op 'n stokkie
voor my ma
se agterdeur,
daar's 'n gaatjie
in sy broekie
en sy stertjie
loer daardeur

******

Klap, klap, klap!
Klippertjie kappertjie
kap, kap, kap.
Mondjie
happertjie
hap, hap, hap.
Voetjie skoppertjie
handjie klappertjie.
Happertjie
skoppertjie
klap, klap, klap.

******

Handjies klap (1)
Handjies klap, koekies bak,
bring die meel,
nie te veel,
klits die eiers gou-gou-gou,
lekker eet ons nou-nou-nou

******

Handjies klap (2)
Handjies klap, koekies bak,
Oupa kom in die langpad aan.
Mientjie speel met die kind
in die bos,
Daniel maak sy skoenrieme los,
en Katjies skree:
Mieu, mieu, mieu, mieu, mieu!

******

Kennewippie
Kenne-kennewippie mondjie fluit,
traantjie in die ogie, neusie snuit,
tikkie op die kop; my storie is uit!

******

Hoendertjie speel
Vyf fraai vingertjies,
poffertjies dik;
hier kom die hoendertjie
pik, pik, pik!

Maak gou 'n vuisie,
vingertjies vyf;
vat vas die vingertjies
styf, styf styf.

Vyf fraai vingertjies,
vuisie so sterk;
weg vlug die pikkertjie,
weg, weg, weg!

******

Tik- en drukspeletjie
Traantjie-ogies,
frummelneusie,
krummel mondjie,
handvol grondjies
beentjies rietjies,
bloukolknietjies,
nerf-af toontjies.
Skiet hom in die magie!
Soen hom in sy kragie!

******

Treinrympie
Sakke, pakke
sout en peper;
gee my stoom
dan loop ek beter.

******

Wielie-Walie
Wielie-wielie-walie,
die aap sit op die balie.
Tjoef-tjaf val jy af.
Wielie-wielie-walie

******

Hoedjies van papier
Een, twee, drie, vier,
hoedjies van, hoedjies van,
een, twee, drie, vier,
hoedjies van papier.
Het jy dan g'n hoedjie meer?
Maak dan een van koerantpapier!
Een, twee, drie, vier,
hoedjies van papier

******

Tortelduifie
Tortelduifie sit in die eikeboom,
sing die lied van sy lewensdroom.
Koer, tortelduifie, koer,
tortelduifie by die waterstroom!

******

Perdjie
Hop, hop, hop!
Hop my perdjie, hop!
Oor die klippe, oor die slote,
trap versigtig met jou pote!
Altyd op galop!
Hop my perdjie, hop!
Draf, draf, draf!
Draf my perdjie, draf!
As jy my wil afgooi, perdjie,
gryp ek gou-gou aan jou stertjie,
dan val ek nie af!
Draf my perdjie, draf!
Ho, ho, ho!
Ho my perdjie, ho!
Kom ons eet eers gou 'n stukkie
en dan rus ons net 'n rukkie.
Hokaai, hokaai, ho!
Ho my perdjie, ho!

******

Slaap, my kindjie, slaap sag
Slaap, my kindjie, slaap sag, onder rose vannag.
Eers die armpies om my nek en dan warmpies toegedek.
Môre vroeg, as God wil, word my kindjie gewek;
môre vroeg, as God wil, word my kindjie gewek

Slaap, my kindjie, slaap sag, onder eng'le se wag;
hulle toon jou in 'n droom kindjie Jesus se boom.
Slaap nou soet, hulle wys jou 'n droomparadys,
Slaap nou soet, hulle wys jou 'n droomparadys.

******

Met 'n mandjie rose
Woorde: A.G. VISSER
Musiek: JOS. SCHUMACHER; verwerk: G.G. CILLIÉ

Liefste Tannie, ons bring rosies, rosies blink met môredou;
mooie kleurtjies, soete geurtjies, en dis alles net vir jou!
Rosies fluister: "Liefde, soentjies", in verbloemde blommetaal;
rosies fluister: "Liefde, soentjies", in verbloemde blommetaal.

Rosies wat ons uit ons tuintjie, liefde uit ons hartjies haal.
Rosies wat ons uit ons tuintjie, liefde uit ons hartjies haal.
Maar die soentjies ... in geen mandjie; nêrens in wil dit geluk.
Liefste Tannie, ons is raadop: soentjies moet jy self maar pluk!
Liefste Tannie, ons is raadop: soentjies moet jy self maar pluk

********

ESELTJIE RY
Woorde: SAAR ENGELA
Musiek: J. KROMHOUT

Ka-poe-te, ka-poe-te, ka-pat,
die eseltjie ry ná die stad.
Hy pluk aan sy toompie
en sukkel met oompie
en trek sy twee lang ore plat.

Ka-poe-te, ka-poe-te, ka-pout,
maar kyk so 'n esel is stout!
Toe, roer jou, Jan-dooi,
loop vinnig, loop mooi,
en klaps! kom 'n raps op die bout!

Ka-poe-te, ka-poe-te, ka-pat,
maar nou laat so 'n eseltjie spat.
Dit spring en dit skop,
en dit wip agter op,
en oompie lê plat in die pad!

**********

FEËLIED
Woorde: MAXIE DE VILLIERS
Musiek: MAXIE DE VILLIERS; verwerk: PIERRE MALAN

Daar is feetjies, kleine feetjies in my tuintjie.
En ek wonder wie kan raai waar hulle woon.
Hulle huppel heen en weer op die blaartjies sag en teer;
hulle huisies is die blommekelkies skoon.

Daar is feetjies, kleine feetjies in my tuintjie.
Hulle vlerkies skitter fraai in sonneskyn.
Hulle fladder hier en daar, speel so lieflik met mekaar;
hulle rokkies is gemaak van blou satyn.

Daar is feetjies, kleine feetjies in my tuintjie.
Op hul hofies dra hul elk 'n blommekroon.
Elke keer as hulle lag klink dit helder, lief en sag.
O, ek wens dat hul vir altyd hier wil woon.

***********

DIE KABOUTERTJIES
Woorde: ADELE JOOSTE; gewysig: P. MCLACHLAN
Musiek: Volkswysie; verwerk: H. PIETER VAN DER WESTHUIZEN

"Kyk Mammie, ek wil gou eers groet voor ek gaan ry.
My houtperd staan daar buitekant en wag vir my."
"Ai, houtperd, jy kan skop! Kom, laat ons weggalop!"

Klop, klop, klop, klop ry ons nou aan tot by die dam.
Ek maak my perdjie vas daar aan 'n boom se stam.
Hier woon my vriendjie Klaas, Kabouterland se baas.

Sy matertjies is almal besig om te naai.
Gebukkend sit hul daar en stik aan skoentjies fraai.
Daar's rye kant en klaar; dalk gee hul my 'n paar.

Ou Klasie, die kaboutertjie, stap na die kas.
Hy haal daaruit 'n paartjie wat vir my net pas.
"O, baie dankie tog! Nou sal ek lekker spog."

"Kaboutertjies, dit is al laat, ek moet nou gaan.
As ek nog langer bly sal Mammie nooit verstaan.
Totsiens Kabouterspan! Bly lekker by die dam!"

Volkswysie uit "Loelie se liedjies" van Adele Jooste.

************

KABOUTERMAN
Woorde: P. MCLACHLAN
Musiek: Duitse Volkswysie; verwerk: WALTER SPIETHOFF

Daar onder in die bos woon kabouterman.
Hy het 'n tuitpunt hoed en 'n jassie aan;
In sy mond g'n enkel tand,
towerfluitjie in sy hand.
Wie kan hy tog wees, daardie ou kalant?

Kabouter, stouter, maak jy die kinders bang?
Is jy die tokkelos wat die kinders vang?
Arrie, ek is bang vir jou;
kyk hoe beef my broekie nou!
Wag, ek moet laat spat, net-nou kom die ou.

***********

DAAR DANS 'N BIBA-BOETSIMAN
Woorde: WALTER SPIETHOFF
Musiek: Volkswysie; verwerk: WALTER SPIETHOFF

Daar dans 'n Biba-Boetsiman in ons ou huis alom-di-dom,
daar dans 'n Biba-Boetsiman in ons ou huis alom.
Hy maak 'n vreeslike boehaai, hy laat die stowwe aaklig waai.
Daar dans 'n Biba-Boetsiman, hy dans net wat hy kan.

**********

DIE MEUL
Woorde: A.D.E. GUTSCHE; gewysig: P. MCLACHLAN
Musiek: Duitse Volkswysie; verwerk: DIRKIE DE VILLIERS

Ek hoor die ou meul by die waterval raas: klip-klap!
Die heerlikste speelplek op vader se plaas: klip-klap!
Ons swem in die water en spat mekaar nat,
ons klim in die boom en gooi klei met die lat.
Klip-klap, klip-klap, klip-klap.

Die waterwiel draai en die wieletjies klein: klip-klap!
Die meulstene maal en die meel is so fyn: klip-klap!
En moeder bak koekies, beskuitjies en brood--
dit bly vir ons lekker, al word ons ook groot.
Klip-klap, klip-klap, klip-klap.

Kom somer en son word die koring gou ryp: klip-klap!
Die oes ingesamel, die meulsteen geslyp: klip-klap!
Die hemelse Vader gee daaglikse brood;
so ly ons nooit honger en ken ons geen nood.
Klip-klap, klip-klap, klip-klap.

**********

HASIE IN DIE BOSSIE
Woorde: Tradisioneel
Musiek: S.A. Volkswysie; verwerk: CHRIS LAMPRECHT

Hasie in die bossie, sit en slaap.
"Arme hasie, is jy siek?
Waarom lyk jy so komiek?"
Hasie spring! Hasie spring!
Hasie spring, spring, spring!

S.A. Volkswysie, soos opgeteken deur Chris Lamprecht by mev. Hettie Cillié van Stellenbosch.

**********

DIE GEVEERDES
Woorde: PIERRE MALAN
Musiek: PIERRE MALAN

Ou Kalkoentjie, maak vas jou skoentjie,
jou vere sleep rond op die grond.
Ou Makoutjie, gaan soek tog 'n vroutjie,
of anders loop jy heeldag deur vir kwaadgeld hier rond.
Ou Eendjie, jou kleertjies is spierwitte veertjies,
die waters is nooit baie ver.
En ou meneer Kraan, wat eenbeen staan,
jy dink seker jy's miljoenêr!

********


Meraai vannie Baai

#1
DIEREVERSIES SOOS AANGEDRA DEUR PIET MAGRIET EN NAAS

Die verkluimde akkedis
Net hier voor my op die grond
Het ek die liefste ding gekry-
Stertjie rooi, en verder bont
En nie die minste bang vir my!

Kyk, ek neem hom in my hand.
Foeitog, kleinding, wat is jy?
Hier-jy, haai! Jou klein kalant!
Kyk nou hoe laat skrik jy my!

My Skilpad
Dit is my skilpad (maak vuis met duim vorentoe)
hy woon in sy dop (steek duim in vuis weg)
Wanneer hy kos kry, dan loer hy daaruit (uit met duim)
Maar dis nie lank nie, of in is sy kop. (in met duim)

Trippe Trappe Trone
Trippe trappe trone,
varkies in die bone,
koeitjies in die klawer,
perdjies in die hawer,
gansies in die groene gras
eendjies op die waterplas.
Ek wens dat kindjie groter was,
om al die diertjies op te pas.

Die honger hasie
Ek sien 'n honger hasie (steek twee vingers soos hasie-ore in die lug)
en 'n groen koppie kool. (bal die ander hand in 'n vuis)
Toe begin die ander hasie
lekker knibbel aan die kool. (regterhand knabbel aan linkervuis)
Maar nou hoor die hasie iemand ("spits" twee hasie oor vingers)
en hy sien 'n boer kom aan.
Toe sê daai hasie haastig:
Ek sal liewer huis toe gaan (hand huppel weg)

Die wind die waai
Die wind die waai,
Die haan die kraai,
die bok staan op sy tone
en steel die boer se bone.
Die boer kom met 'n kweperlat
en slaan hom op sy linkerblad.
Wielie, wielie, walie

Wielie-wielie-walie,
die aap sit op die balie.
Tjoef-tjaf val hy af;
tjoef-tjof
klim hy op!
Wielie-wielie-walie.

Apie
Daar is 'n apie op 'n stokkie
voor my ma se agterdeur,
daar's 'n gaatjie in sy broekie
en sy stertjie loer daardeur.

Kat en Muis
'n Kat sê eendag vir 'n muis:
"Ek voel tog so alleen,
kom speel hier met my in die huis,
dan gee ek jou 'n been!"

"Nee dankie," se die slimme muis,

"Ek bly maar weg van jou -
by katte voel ek glad nie tuis,
hulle wil my beentjies kou"

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Naas

Jakkals nooi vir gansie
Kom eet vanaand by my
Daar's heerlike kossies
en uintjies uit die vlei.
Nee dankie se die gansie
as ek vanaand by jou kom eet
vreet jy my sekerlik op.

Piet Magriet
Jakkals nooi vir gansie
Kom eet vanaand by my
Daar's heerlike kossies
en uintjies uit die vlei.
Nee dankie se die gansie
al staan jy op jou kop
as ek vanaand by jou kom eet
vreet jy my sekerlik op.

VINGERVERSIES SOOS AANGEDRA DEUR PIET MAGRIET:
Huisrympie - 'n Vingerrympie vir al tien

Anna du Raan, uit DJ Opperman se Kleuterverseboek

Hierdie outjie vee die huis uit,
hierdie outjie was die ruit.
Hierdie ene was die skottelgoed,
hierdie ene skuur die messegoed.
Hierdie outjie skink die tee,
en almal drink dit met hom mee.

Hierdie ene stof die rak,
hierdie ene help om reg te pak.
Hierdie outjie help vir Ma,
hierdie outjie help vir Pa.
Hierdie een help kos opdra -
al die werk is klaar - hoera!

Weet jy van die huisie
in my kleine vuisie?
Hier woon die pappa.
hier is die mamma.
Hier is ousus - en haar boet,
en die baba - stroop-stroopsoet.

Vingerspel 1

Druk op elke vinger van die kleinding se hand,volgens die rympie - en kielie met die laaste reeltjie :-)

Hierdie varkie gaan mark toe,
hierdie varkie bly tuis,
hierdie varkie eet 'n bord vol vleis,
hierdie varkie kry niks nie,
en hierdie varkie skreeu: "Wee-wee-wee,
ek kan my mamma nie kry nie."

Vingerspel 2

Pinkie,
Goue ringetjie,
Lange lier,
Potteskraper.
Ketellapper, Kielie kielie Winkelier!

Vingerspel 3

Duimpie,
Duimpie se maat
Langeraat,
Fielafooi,
Vang-'n-Vlooi

Vingerspel 4

Duimpie het in die water geval,
Duimpie se maat het hom uitgehaal.
Langeraat het hom huis toe gedra,
Fielafooi het hom neergelê
en Pinkie het vir Ma gaan sê.

Vingerspel 5

Dit is my pappie (duim omhoog)
dit is my mammie (wysvinger)
dit is my ouboet Braam (middelvinger)
Dit is my sussie (ringvinger)
dit is ons baba (pinkie)
en ons woon almal saam (vou vingers saam)

Tien soldaatjies

Hou die tien vingertjies op en vou hulle op soos die sodaatjies minder word)

Tien soldaatjies vier 'n sege -
een val neer, toe bly daar nege.
Nege soldaatjies loop heeldag -
een word moeg, toe is daar agt.
Agt soldaatjies vol lus en lewe -
een verdwaal, toe bly daar sewe.
Sewe soldaatjies stap reg wes -
maar een gaan oos, toe bly daar ses.
Ses soldaatjies staan stokstyf -
een word flou, toe is daar vyf.
Vyf soldaatjies drink hul bier -
een word vaak, toe bly daar vier.
Vier soldaatjies lig die knie -
een gaan huis toe, en nou is daar drie.
Drie soldaatjies loop by die see -
een gaan swem, en toe is daar twee.
Twee soldaatjies stap in die reen -
een soek skuiling, en toe bly daar een.
Een soldaatjie het gekul -
Hy het sommer gaan sit, en toe was daar nul

SPEELVERSIES SOOS AANGEDRA DEUR PIET MAGRIET:
Kniespel

Hop, hop, hop! Hop perdjie hop!
Oor die klippe, oor die slote,
trap versigtig met jou pote
Hop perdjie hop!

My weergawe was 'n bietjie anders:

Hop my perdjie hop
hop so op gallop
oor die klippe deur die slote
trap versigtig met jou pote
hop my perdie hop
hop so op gallop!

Kieliespel 1

Hier kom 'n muis,
hy bou 'n huis (vat aan ken)
Hier kom 'n muggie,
hy bou 'n bruggie (vat aan neus)
Hier kom 'n vlooi,
hy spring in die kooi (kielie kleinding)

Kieliespel 2

Dinker (raak aan voorkop)
blinker (regteroog)
traneskinker (linkeroog)
suiker (regteroor)
ruiker (neus)
kussingduiker (linkeroor)
kuller (bolip)
smuller (onderlip)
harde bruller (tong)
kinneke-kennetjie-tien (kielie kleinding onder ken)

Pannekoek bak

Allawiek! Allawak!
Ons gaan pannekoek bak
met suiker en melk en eiers
met regtige eiers en regtige melk,
met 'n lepeltjie suiker en botter vir elk.
Allawiek, Allawak!
Ons gaan pannekoek bak!

Trein ry 1

Tjoeke-tjoeke-tjoek! (vryf handpalms teenmekaar)
Hier ry die trein (plaas gebalde vuisies langs mekaar)
bult op tjoek-tjoek (strek arms op)
oor die berg tjoek-tjoek (staan op tone en rek)
bult af tjoek-tjoek (laat hande sak)

Meraai vannie Baai

#2
Naas:  HANDJIES KLAP (3)

Handjies klap
koekies bak
Lewer en long
vir die siek ou jong
daar kom die krappie
Kielie, kielie, kielie

Gesig versie

Toktokkie, toktokkie loop rondom die huisie (Trek met jou wysvinger 'n sirkel rondom kleinding se gesiggie.)
Loer by die venstertjies (Wys met jou vinger na sy/haar ogies)
Klop aan die deurtjie (Tik liggies teen voorkoppie)
Draai hom oop (Draai liggies die neusie)
en gaan binne (Druk vinger op lippies. As die kindjie gewoond raak aan die speletjie sal hy/sy selfs sy/haar mondjie op die staduim oopmaak.)

Piet Magriet:  Nog 'n vingerling:

Duimpie
Duimpie se maat
Langeraat
Filafooi
Piepie in die kooi

Slaap, Kindjie, slaap

Slaap, Kindjie, slaap,
daar buite loop 'n skaap,
'n skaap met witte voetjies,
hy drink sy melk so soetjies,
skapie met sy witte wol,
Kindjie drink sy magie vol.
Slaap, Kindjie, slaap.

Slaap, Kindjie, slaap,
Papa gaan na die Kaap,
Papa het gaan koekies koop,
En more maak jy jou ogies oop,
Dan sit jy in die hoekie
En kry 'n klein soetkoekie;
Jy vat dit met jou handjie
En byt dit met jou tandjie,
Slaap, Kindjie, slaap

Slaap, Kindjie, slaap,
jou pa is na die Kaap,
jou mamma skud
die boom se top,
dan val 'n droompie
op jou kop,
slaap, Kindjie, slaap.
Slaap kleine babatjie

Slaap, kleine babatjie
bo in die boom;
slaap, kleine babatjie
sonder 'n droom.
As die wind waai,
sal die babatjie swaai,
maar as die tak breek,
lê hy onder die boom.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Fransi:Ek onthou my ma het die volgende woorde vir my sussie gesing op die wysie van Nils Holgersson:

Nicolien,
klein kleine Nicolien
Mamma Nonna-nooientjie
Pappa klein Patroontjie
klein, kleine Nicolien.

Die robotliedjie soos wat ons dit geleer het:

Ek ry in my mooi motorkar
en saam ry ook my pop
en as ek by die rooi lig kom
dan weet ek ek moet stop

(Koor)
Stop sê die rooi lig
ry sê die groen lig
oppas sê die geel lig.
Oppas wat jy doen
(Pampoen!)

Naas
Oom Olifant
Jou reuse dier
die mense lag van pure plesier
want waar het jy al ooit gehoor
van 'n stertjie van agter
en 'n stêêêrt van voor.

Haai volstruis
met jou lang nek
en jou plat bek
na wie vry jy?
Na Jan Kolêlê

Piet Magriet
Volstruis volstruis met jou lang nek,
kan jy hom nog langer rek,
kan jy hom nog langer maak,
tot jy aan die dak kan raak.
Kyk dan 'n bietjie daar
of jy nie my bal gewaar
kyk 'n bietjie mooi volstruisie hoor!

of so iets!


Meraai vannie Baai

#3
UIT DIE SA-SKATKIS: PIKANINIE-WIEGELIED

Slaap Pikaninie, ons vee's in die kraal--
almal ons skapies en bokkies.
Môre vroeg kry jy van soetpap 'n maal,
en 'n paar spierwitte sokkies.
Doe-doe, doe-doe!
Doe-doe, doe-doe!

Slaap Pikaninie, die ou bobbejaan
ken mos vir jou vantevore.
As jy nie slaap, kan jy seker wees, man,
byt hy jou neus af en ore.
Doe-doe, doe-doe!
Doe-doe, doe-doe!

Pappie kom môre terug van die dam;
ry op sy vet ou kapater.
As hy dan hoor hoe jy soet was, my lam,
hoe sal jou Pappie dan skater!
Doe-doe, doe-doe!
Doe-doe, doe-doe!

Kruip nou maar diep in jou velkombers in;
Mammie bak lekker vars tertjies.
As jy nie slaap kry ou Mombak sy sin,
slaat Pikanien op sy stertjies.
Doe-doe, doe-doe!
Doe-doe, doe-doe, doe!

Slaap nou my prinsie
Slaap nou, my prinsie so klein; daglig het lankal verdwyn;
buitekant is dit al nag, moedertjie hou by jou wag.
Skapies en voëltjies rus, word deur die windjie gesus.
Slaap wyl die sterretjies skyn, slaap nou my prinsie so klein.
Doe-doe, doe-doe.

Wie's so tevrede soos jy? Wat jy wou het jy gekry;
maatjies het met jou kom speel, nooit het die tyd jou verveel.
Nou's jy versorg en gevoed, rustig en stil jou gemoed.
Wyl maan en sterretjies skyn, slaap voort, my prinsie so klein.
Doe-doe, doe-doe.

Dié lied staan ook bekend as die Mozart-wiegelied.

Meraai vannie Baai

'n Wiegeliedjie CJ Langenhoven

Lamtietie, damtietie, doedoe my liefstetjie,
moederhartrowertjie, dierbaarste diefstetjie!
Luister hoe fluister die wind deur die boompietjie,
heen en weer wieg hy hom al oor die stroompietjie.
"Doedoedoe bladertjie,
slapenstyd nadertjies;
doedoedoe blommetjies,
nag is aan't kommetjies."
So sing die windjie vir blaartjies en blommetjies.

Bo in die bloue lug flikker die sterretjies -
hemelse brandwaggies, lampies van verretjies,
wakend oor windjies en wolkies en stroompietjies,
wakend oor mensies en diertjies en boompietjies.
"Wees maar gerustetjies,
slaap maar met lustetjies!"
So sing die sterretjies -
stilletjies, verretjies:
Vuurvliegies, lugliggies, ewige sterretjies!

Onskuldige ogies en voetjies en handetjies!
Wie weet hoe ver moet my kleintjie nog ganetjies,
ver deur die wereld se kronkels en gangetjies!
Bly tog maar kleintjies en bly dit maar langetjies.
Bly maar by moedertjie,
kindlief se hoedertjie -
slaap in haar arrempies,
saggies en warrempies,
Doekies, dan, doekies in moeder se arrempies


PM

Dankie Raaitjie.  Dit is nogal opvallend dat hy warm en arm met twee erre gespel het nê.
Om te weet is om te verstaan.

Meraai vannie Baai

#6
Meester van sy taak ne PM! Daar is soveel skatte in hierdie wiegeliedjie versluier! ln die spesifieke weergawe is daar 'n verandering van die lettergrepe. Ek wonder hoeveel lesers het al die verskille agtergekom in die verskeie weergawes van die skat?

Die woorddief sal die ander twee weergawes ook vassit dat die lesers self kan vergelyk hoe dit verskil van mekaar.

Opvallend vir my in hierdie weergawe van die wiegeliedjie met sy verbuiging van woorde (sodat die lettergreeptelling van die onderskeie 9 versreels) met gedwonge 'verkleinings-eindrym' deurgaans so vertoon:

Die eerste 4 reels van elke strofe  is 12 lettergrepe, (uitsondering van strofe 3 se 1ste reel - waar ek 13 tel)  :icon_scratch:
dan die koorgedeelte van 4 reels, met slegs 6 lettergrepe per reel (arrempies, warrempies en doedoedoe help hom hier)
en laaste reel van elke strofe weer 12 lettergrepe.

Let ook op na die herhaling van die laaste woord (D) van elke 7de reel in elke 9de reel:

Strofe 1: blommetjies
Strofe 2: sterretjies
Strofe 3: arrempies

As ek so vinnig na die rymskema kyk lyk dit vir my so:

(a) Lamtietie, damtietie, doedoe my liefstetjie,
(a) moederhartrowertjie, dierbaarste diefstetjie!
(b) Luister hoe fluister die wind deur die boompietjie,
(b) heen en weer wieg hy hom al oor die stroompietjie.
(c) "Doedoedoe bladertjie,
(c) slapenstyd nadertjies;
(D) doedoedoe blommetjies,
(d) nag is aan't kommetjies."
(D) So sing die windjie vir blaartjies en blommetjies.

in die 2de strofe word boompietjie en stroompietjie net omgedraai:

wakend oor windjies en wolkies en stroompietjies,
wakend oor mensies en diertjies en boompietjies.

Ek lief hierdie uitdrukkings: sterretjies as hemelse brandwaggies, lampies van verretjies
vuurvliegies, lugliggies, ewige sterretjies.


Moederhartrowertjie - is die nie tongkieslekker woordjies nie?

:notworthy: :love7: vir oom Langenhoven!
"Om ons één eie taal tot nut te gebruik is groter kuns as om sewe vreemdes by te leer."

Meraai vannie Baai

#7
Hierdie weergawe is die lettergeeptelling deurgaans 12 en slegs 7 reels per strofe. En die ekstra lettergreep van strofe 3 (*onskuldige in vorige weergawe) kom nie in hierdie weergawe voor nie  :icon_biggrin:

Die hinderlike toepassing van die vorige weergawe se leestekens (Doekies, dan, doekies in moeder se arrempies),
is in hierdie weergawe vir my ook baie meer vloeiend en korrek:  Doekies dan, doekies in moeder se arrempies!

Afrikaanse Wiegeliedjie

Composer: Emil Hullebroeck
Writer: C.J. Langenhoven

Lamtietie damtietie, doedoe,my liefstetjie
Moederhartrowertjie, dierbaarste diefstetjie!
Luister hoe fluister die wind deur die boompietjie.
Heen en weer wieg hy hom al oor die stroompietjie.
'Doe-doe-doe bladertjies, slapenstyd nadertjies.
Doe-doe-doe blommetjies, nag is aan't kommetjies',
So sing die windjie vir blaartjies en blommetjies.

Bo in die bloue lug flikker die sterretjies,
Hemelse brandwaggies, lampies van verretjies,
Wakend oor windjies en wolkies en stroompietjies,
Wakend oor mensies en diertjies en boompietjies:
'Wees maar gerustetjies, slaap maar net lustetjies!'
So sing die sterretjies, stilletjies, verretjies,
vuurvliegies lugliggies, ewige sterretjies!

*Onskuldig ogies en voetjies en handetjies,
Wie weet hoe ver moet my kleintjie nog ganetjies?
Ver deur die wêreld se kronkels en gangetjies...
Bly tog maar kleintjies en bly dit maar langetjies.
Bly maar by moedertjie, kindlief se hoedertjie.
Slaap in haar arrempies, saggies en warrempies;
Doekies dan, doekies in moeder se arrempies!

*hier is ook 'n vertaalde weergawe van die liedjie:
http://www.gretelcoetzee.com/index.php?option=com_content&view=article&id=59:afrikaanse-wiegeliedjie&catid=34:thula-baba&Itemid=28

EN HIER IS NOG 'N WEERGAWE VAN EEN VERSIE  :evil6:
Wiegeliedje 1

Lamtietie, damtietie, doedoe my kindetjie ...

Onskuldig ogies en voetjies en handetjies!
Wie weet hoe vér moet my kleintjie nog ganetjies,
Ver deur die wêreld se kronkels en gangetjies!
Bly tog maar kleintjies en bly dit maar langetjies.

Bly maar by moedertjie,
kindlief se hoedertjie
slaap in haar arrempies,
saggies en warrempies.

Doekies dan, doekies in Moeder se arrempies!

*Hier kan julle gaan luister hoe die wiegeliedjie klink. Daar is ook 'n magdom ander lirieke en deuntjies. GENIET!

http://www.gabrielkolbe.co.uk/musiek/AFRIKAANSE_WIEGELIEDJIE_Lamtietie_damtietie_/310.html

PM

Eendag as ek groot is sal ek ook 'n wiegeliedjie skryf en een van my kunstenaarsvriende vra om dit te toonset en te speel, ja, en te sing.  Ek is amper groot.   :icon_biggrin:
Om te weet is om te verstaan.

Naas

Eendjies

Eendjies, eendjies
stap in 'n ry.
Die middelste een het maagskuttery


Hompie kedompie

Hompie Kedompie
sit oppie wal
Hompie Kedompie
het af geval.
Al die koning se mense
en al die koning se man
het roereier vir ontbyt daarna.



:icon_bigsmurf:
Ek is maar net een, maar ek ís een.

Meraai vannie Baai

hahahahahahh....ek bulder alweer onvroulik en Outop loer om die hoekie  :icon_biggrin: Naas jou humorsin is stergehalte en PM, myse plek is geboek vir daardie wiegeliedjie hoor  :notworthy: :book1:

PM

Ai Raaitjie, ek sit met my neus in die boek van half drie in die oggend tot my oë dit nie meer kan hou nie. 
Dit is ongelooflik hoeveel ek al geleer het.  Gee my 'n rukkie kans tot ek groot is!   :icon_biggrin:
Om te weet is om te verstaan.

Meraai vannie Baai

Juffrou Gawie het gevra om te help soek na ou gewilde liedjies en toe onthou ek van hierdie afdeling en ook by ons kabouter-erf is daar hoeka mos 'n klompie aangedra en bewaar. Watter voorreg om weer hier te kom dwaal  :book1: :notworthy:

Naas

Hierdie gedig van AG Visser bly vir my die mooiste, hartseerste wiegie-lied van alle tye.

Amakeia
('n Voorval uit die Sesde Kafferoorlog)

In die skadu van die berge,
Bos-beskut aan alle kant,
Staan alleen die hartbeeshuisie
Op die grens van Kafferland.

Saggies neurie Amakeia
Op die wal van Kei-rivier,
Tot hy slaap, die tere wiggie
Van die blanke pionier:

'Stil maar, stil maar, stil, Babani,
Kyk hoe blink die awendster.
Niemand sal vir kindjie slaan nie -
Stil maar, al is Mammie ver.'

Amakeia had belowe
Toe haar nonna sterwend was,
Om die hulpelose kindjie
Tot hy groot was, op te pas.

Liefd'ryk sorg sy vir die wit kind,
Tot vir hom die lewenslig
Straal uit aia Amakeia's
Vrind'lik-troue swart gesig.

Onheilspellend sien sy tekens,
Oorlog kom daar in die land:
Snel die inval, huis en hawe
Uitgemoor en afgebrand.

Selfvergetend, doodveragtend,
Met die wit kind op haar rug,
Na die Amatola-berge
Het sy ylings heen gevlug.

'Stil maar, stil maar, pikanienie,
Oor die bergtop rys die maan.
Niemand sal vir ons hier sien nie;
Môre sal ons huis toe gaan.'

Ag, dat oë van verspieders
Ook haar skuilplaas moes ontdek!
'Spaar hom, hy's so klein nog,' smeek sy
Met die hande uitgestrek.

Woedend tier die wilde bende:
'Sterf of gee die wit kind hier!'
'Oor my lewelose liggaam...'
Antwoord Amakeia fier.

'My belofte aan my nonna -
Beste wat daar ooit nog was -
Waar hy gaan, moet Amakeia
Saamgaan om hom op te pas.'

'Is jul lewend nie te skei nie,
Bly dan in die dood vereen -
Kort proses met haar, 'Maxhosas,
Laat die blink asgaaie reën!'

In die Amatola-klowe
Sing nog net die winterwind
Deur die riete in die maanskyn:
'Tula - Tula - stil, my kind!'

Ek hoor weer hoe sing my ma dit vir ons... :crybaby2:



:icon_bigsmurf:
Ek is maar net een, maar ek ís een.

PM

Pragtige eievolkse gediggies. 


Ek is besig om John Gordon Davis se boek  Roots of outrage   The epic novel of South Africa   te lees.  Daar is ook 'n heel paar ongemaklike waarhede in.  Die geskiedenis pragtig uiteengesit, van voor Jan van Riebeek in die Kaap geland het.  Werklik interessant. 
Om te weet is om te verstaan.