Ek wou al lankal hierdie stukkie kennis deel. Nou het ek gou ‘n tydjie ingeruim om dit te doen.
Klemtekens - akuut (´)
Die akuut-teken (´) word slegs op vokale gebruik.
Op een klank: ná, só, nóg.
Op albei vokale van ‘n tweeklank: móét, méér, wéér en nóú,
behalwe waar een vokaal i is: dié en nié,
maar wel op ‘n enkele i: dít.
Net op die eerste van twee vokale waar daar ‘n deelteken op die tweede vokaal is: réën.
Op twee van drie vokale as daar ‘n deelteken op die derde vokaal is: kóéël, behalwe waar een van die vokale ‘n i is - spiéël.
Soms word met behulp van die akuut tussen woorde se betekenisse onderskei:
Al meer is reeds meer, - maar ál meer is steeds meer.
Die is ‘n bepaalde lidwoord, - maar “dié” is “hierdie”.
Na (onbeklemtoon) Ek gaan na die opvoering kyk. - Ná (beklemtoon) Ná die opvoering gaan ek koffie drink.
So is ‘n vergelyking - só is “op dié manier.
Net waar verwarring van die woord se betekenis kan ontstaan, soos in gesel en verspring, word die akuut aangebring.
Moenie akuuttekens onnodig gebruik nie, en tog net nie op net, nog, slegs en te nie.
Hier het ek ook gebruik gemaak van Dalene Müller se pragtige handleiding: Skryf Afrikaans van A tot Z.