Hierdie Than Bauk gedig is geskep in Mei 2012. Dit was 'n paar maande voor my diagnose en kennismaking met die Asemdief (Pulmonale Hipertensie).
Weet jy dat herinnering
slegs 'n inbeelding is,
waar verwarring baie delikaat
soms beelde ontgraat en
die formaat ongesiens fnuik?
© Meraai vannie baai
In 'n gewone sin sou dit so vertoon: Weet jy dat herinnering slegs ’n inbeelding is, waar verwarring baie delikaat soms beelde ontgraat en die formaat ongesiens fnuik? Wanneer suurstof min raak, begin die brein presies só werk - hierdie beelde is so verwarrend dat jy jouself nie meer kan vertrou om te gesels oor 'onthou jy nog?' Hierdie 'nuwe onthou' het jou brein saamgestel uit brokkies van 'n legkaart wat geen verband met mekaar hou nie maar vir jou so eg voel dat jy dit onbewus deel in 'n verdraaide weergawe van wat eens werklik was. Blaai jy om en begin 'n nuwe hoofstuk skryf.
Maar daar is een hoofstuk in die BiograPHie van die Asemdief wat so donker en vreesaanjaend was, dat dit nie net gesensor is nie maar in geheel, uitgeskeur was.
Na vyf lange jaar van studies en $50 000 studieskuld besef ek met 'n versplinterde wete dat hierdie beroep wat ek van kinds af gedroom het oor 'n skielike dood gaan sterf.
Wie gaan 'n terapeut nader wat eers weer die handboeke moet nadersleep as die Asemdief jou kennis steel? Getrou aan my aard het die uwe vir 'n jaar of drie gratis 'berading' via die tegnologie aangebied, meestal mede immigrante wat emosioneel en sielkundig gesukkel het met die aanpassing in 'n vreemde land. Daar kon ek staatmaak op my eie ervaring na twee immigrasies.
In gesels-trant kon ek rustig luister en dan naslaan wanneer asemnood 'n kennis-dief word. Intussen doen ek elke moontlike kursus om kennis in te win en sodoende nuwe neuron-verbindinge vorm in die proses om nog 'myself te bly' solank moontlik. So word Meraai 'n sertifikaat-vraat om eendag terug te kyk wanneer ek befonkfaaid in verwondering staar na 244 courses completed. Congratulations.
Maar daar was nog een bultjie wat ek moes uit kruip - op 'n dag besef die uwe dat 'aftree' 'n veiliger hawe sal wees vir die een met gefnuikte drome. Of hierdie hoofstuk ooit opgeneem sal word in die E-boek is 'n ope vraag. Maar dit was goed om dit voorlopig hier op my eie blad te kom bewaar voor ek beroof word en ek die onsigbare dief, hof toe sleep in die laaste hoofstuk. Wie weet?