Die Biblioteek > Die komiese hel van hallusinasies

Die komiese hel van hallusinasies

(1/18) > >>

Meraai vannie Baai:
*As jy enige kommerwekkende simptome ervaar - besoek jou geneesheer.

Die afgelope ruk het ek soveel navrae gehad oor die voorkoms van hallusinasies dat ek besluit het om met hierdie 'artikel' oor ons eie pad weer hier te vervat na 'n lang tyd van stilswye.

Die laaste paar jaar was die ouvrou soms gevaarlik na aan opgee. 'n Nuwe simptoom het kop uit gesteek waarmee ek reeds 4 jaar lank wroeg.  Op aanbeveling van dierbare mater Gawie, het ek besluit om dit te deel, toe afgehaal in die hoop dat dit slegs 'n te kort aan suurstof was en besluit om dit nog kans te gee. Nou het die besef deurgedring dat hierdie (on)werklike deel is van my lewe soos die Asemdief en die oorsaak ewe onbekend.

Ek het alle moontlikhede ondersoek. Intussen dokumenteer die uwe so getrou moontlik en probeer moed bymekaar skraap om weer deur die lang reeks toetse te wroeg met gepaardgaande frustrasies en ongeskikte medici (daar is nagmerrie getuienisse van pasiente wat worstel met hallusinasies en soek na die oorsprong).

Entertainment met slaaptyd is okey, maar net as jy self die genre kies.  (Gawelina) 

as sien nie meer glo is nie
en jou oog se kyk nou oënskynlik
net 'n drukgang van onvermoë
tussen illusie en die werklikheid is
in my wêreld van neongehulde
kronkelslange deur vreemde strate
in swart en wit op ons kamerdeur

en iewers teen die muur
rank 'n plant sonder naam
tussen niks en nêrens
hang 'n graflose gipskruidkrans
en my oog vang die handskoen
wat met vyf vingers naderkruip
op die vloer vanuit ons studeerkamer

glashelder kom vlieg'n goudgeel helikopter
geluidloos van Wes na Oos oor 'n padkaart
van vreemde stede op die gangmuur

om net daarna te spog met groen sifdraad
in diamantvorm wat stelselmatig verander
in die kleinste blokkies, verstommend sekuur.

En nog was dit die einde niet:

Kom 'n boeppens wasgoedmandjie deur die muur
met rietdun armpies wat weerskante klou
aan handvatsels en melankolies trippeltrap
van links na regs asof deur modderplasse
en vervaag dan in die skyn
van gegote ystertraliewerke...

Hoe verduidelik jy hierdie kreatiewe onsigbare aan ander en probeer die skewe kyke en vetgedrukte vraagteken miskyk op hulle gesigte?

Een nag terwyl Outop opstaan om badkamer toe te gaan waarsku ek hom dat daar 'n sifdraad voor ons kamerdeur is en toe hy deurstap is daar 'n opening in die vorm van sy lyf. En langs die spieël gluur 'n reuse spinnekop na al die gedoentes met gestreepte pote in oranje en swart rugbykousies.

Verdwyn dan agter die skildery terwyl Outop met Doom soek na niks en ek histeries beduie presies HOE groot die spinnekop was. Dit het 'n paar keer gebeur tot ons besef het - daar was en is niks....

Drie jaar later en niks van hierdie  'gratis vermaak' in ons pandok  was tot onlangs skrikwekkend nie TOT ek omring was met spierwitte mure  reg om ons bed, sonder deur of vensters.

Was ek vir die eerste keer angsbevange ingehok deur die onwerklike... (Het ek al genoem dat die uwe aan engtevrees ly wat die duiwel sal laat bekeer?)

Ek het reeds die mees kreatiewe skeppings aanskou teen die mure, deure en selfs ons gordyne. Ek weet dat aaklige geblomde gordyne in maaggriepgeel, beslis nie my smaak is nie

Sou ek in staat wees om hierdie verskynsels getrou vas te vang met kwas of pen, sou daar "Meraai in Wonderland" die lig kon sien. Daar was DIE mooiste muurpapierskeppings en mure wat van kleur verander in die ongelooflikste kleurskemas wat ek nooit ooit met iemand fisies sal kan deel nie want dit is slegs geskep deur 'n verwarde brein.

Hoe verklaar jy andersins dat die Liewe Heer sit en kaart speel in miniatuur vorm op jou spieëlkas of dat 'n apie (swaaiend op 'n stokkie) vir jou loer in die wieletjieshuis en Outop in die deur staan met sy vinger wat wys na niks, terwyl hy in werklikheid rustig langs jou slaap?

Die laaste strooi in hierdie 'onwerklike' is die verskyning van aggressiewe persone reg langs ons bed en begin ek twyfel aan dit wat ek selfs proe want soet word sout en andersom. (On)welriekende reuke laat my giggelend wonder of voorbodes wel bestaan en die werklikheid van die gevoel wanneer onsigbare goeters rondkruip onder my vel laat my ernstig twyfel aan die ouvrou se geestesgesondheid.

Ek bevind myself gereeld uitlit-en-geloof wanneer die houtogies op ons vloer my wil bespring, en Outop sweer hy gaan nog 'n hartaanval beleef agter die stuur as ek bome en motors sien wat skielik voor ons in beweeg. Stywe ledemate het dan geen probleem om my voete hemelwaarts te laat lig nie.

Maar dan is daar ook die Ligpuntjie in hierdie (on)werklikheid - die onverklaarbare, skaars hoorbare hemelse musiek - pure Genade Gawe vanuit Sy Hand vir wanneer ek vreesbevange wag op die onbekende.

Tog kan ek nie help om soms onheilig te wonder wie van die twee diewe wat hulle self ongenooid kom tuis maak het, gaan 'n finale streep kom trek op my lewenspad...die asem- of breindief?

Ek hoor my ouma se stem:
"trek altyd skoon onderklere aan
jy weet nooit of 'n bus of trein jou
gaan trap nie..."

en so doet ons voort; steun getrou op die humorkruk as kniege wil knak.

Sela.


Assie:
Aai my eie Ta Raatjie. Ek is spraakloos sonder woorde. Ek en jy weet en verstaan die asemloosheid Die geestesoog se beelde wat nie bestaan nie maar ook 'n werlike bedreiging is los bang tralies in onwerklikheid.

Op 'n ligter noot... Ek dink Ta Raatjie is in goeie geselskap. Ons hele kakistocrasie ly aan daai drogbeelde. Hulle sien veral geld met vlerke.

 :mumum:

Meraai vannie Baai:
Assie, jou dierbare mensie. Hoe diep jou insig. Ek staan verstom oor die perfekte opsomming wat jy in een kale reeltjie gemaak het en oudergewoonte sprankel dit ook versvorm vir my:

Die geestesoog se beelde
wat nie bestaan nie
maar ook 'n werklike bedreiging is
los bang tralies in onwerklikheid.
© Assie

WOW!  :book1: :notworthy: :icon_salut:

PM:
Jy hanteer dit goed Raaitjie, ek sou van my kop af raak. 
Hulle sê dat Lewis Caroll  dwelms gebruik het toe hy Allice in Wonderland geskryf het.  Daar is natuurlik geen bewyse daarvan nie, maar nou wonder ek of hy nie dieselfde siekte gehad het nie.  ???

Antjie Patat:
My liefste Raaitjie

Ek lees nou al twee maal, nee drie maal.
Skop my hakke skoon nerfaf teen mekaar soos ek op aandag vir jou probeer spring, my regter hand ferm teen my kop in saluut, en ek mind nie die ou bril wat in my opregte stywe vingers se saluut, skoon skeef sit nie.
Groot respek, omdat jy weet wat is, en sin probeer maak uit wat kom, en steeds in jou oneindige talentvolle skrifte, die humor-woorde vind om jou en ons te maak glimlag.
Ek dra jou styf teen my oge, en breed in my hart, en weet ons (skrywers) besweer saam die ongenaakbare, en ons lag saam vir die onuithoubare wat Hy ons verleen het. En ons bid saam in die liefde, n verbond bo ons denke, om jou toe te vou en te beskerm teen elke onbekende beweging.
Ons lief jou
Antjie Patat

Navigation

[0] Message Index

[#] Next page

Go to full version