Author Topic: ‘n Ringmuur om haar seer  (Read 87 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline adele

  • Bouspan
  • Hardebaard
  • Posts: 1908
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
‘n Ringmuur om haar seer
« on: September 07, 2021, 03:58:12 PM »
‘n Ringmuur om haar seer

      Hy stap met geboë skouers na die waterkant toe. Dis taamlik klipperig en sy stokke is daar tussenin staangemaak. Hy lig een stok van die mikkie af, skud dit so bietjie en plaas dit weer terug. Dan staar hy die niet in.

      Antje laat die verkyker sak en wonder waar sy gedagtes rondswerf. Dis duidelik dat sy aandag nie by visvang is nie. Maar dan skud sy die beeld van die vreemdeling van haar af en stap restaurant toe om iets ligs te eet. Sy wil voor donker terug wees in haar chalet want sy het geen erg aan die giggelende jong paartjies en die uitbundige vreugde van skoolkinders nie. Die jaar was lank en moeilik en sy wil rus. Afsluiting probeer kry van wat verby is en die nuwe jaar met vrede instap.

      Dit is al amper twee jaar gelede wat haar verloofde verdwyn het. Een week voor hulle huwelik. Sy was later rasend. Die uitgawes en voorbereidings wat sy meestal self versorg het, was geensins ‘n kwessie nie. Dit was vir haar eenvoudig ondenkbaar om sonder hom aan te gaan. Na drie maande het sy totaal ingegee. Sy wou nie meer lewe nie en was ‘n nul op ‘n kontrak in die kantoor van hulle privaatspeurdermaatskappy. Dit is in daardie tyd wat haar kollega en sy vrou, Ans, aan haar deur kom klop het.

      “Antje, ons het nou elke leidraad opgevolg, jy weet dit ook.”

      “Ja, Hermann, maar ek weet ook ons het nog geen idee waar André hom bevind nie,” het haar antwoord sag gekom.

      “Jy het nou ‘n maand verlof, maar dit gaan niks help as jy hier sit en tob nie,” het hy gesê.

      “Nou, waarheen sou jy dink moet ek uitwyk?”

      “Na my ouers naby Howick?”

      Sy het haar kop geskud. Hoe moes sy dan naby mense wees wanneer sy nie meer wou eet of asemhaal nie?

      “Ek sien mos jy eet nie eers nie en hulle wil jou graag daar hê. Ek het reeds gereël dat jy oormôre daar gaan inklok,” het San gesê.       “Dis hoog tyd dat ons ook weer gaan kuier, daarom gaan ons agter jou aan ry en ten minste Saterdagaand oorslaap.”

      Daardie nag het Antje haarself moeg gehuil en die volgende dag haar besluit geneem. Sy sou gaan rus en as daar na ‘n week of twee, nog geen tyding van André is nie, sal sy haarself bymekaar moet kry en aangaan met haar lewe.  Net sy het geweet van André se hunkering na ‘n jeugliefde in die kinderhuis waar hulle opgegroei het en al het sy geglo dat hy haar liefgekry het, het sy die saadjie van twyfel nou begin voed.

      En dit was toe die einde. Sy het na twee weke by Hermann se dierbare ouers, teruggegaan en haarself met ywer in die sake in hul besigheid begrawe. Sy het selfs ‘n saak of drie, waarvoor Hermann geen raad geweet het nie, opgelos. Maar die jaar het weer sy tol geëis. Sy is oormoeg en tam. Gelukkig kan sy nou rus. Dit gaan ten minste al beter as verlede jaar se Desember, glimlag sy by haarself.

      Die volgende oggend, Saterdag, is die eetsaal skielik oorvol. En sy het gedink dis ‘n stil oord hier in die wildernis waar sy kon kom wegkruip!

      “Kan ek asseblief hier by jou sit? Dis omtrent al tafel wat nog ‘n plekkie oop het.”

      Sy kyk verbaas op en sien ‘n man voor haar staan. Donkerbruin hare en nog donkerder oë. Hy glimlag nie juis nie; sy gesig is eerder uitdrukkingloos stil. Net in sy stem is ‘n effense verleë nuanse. Sy knik.

      “Mag ek jou naam vra?” Hy gaan sit. “Ek is Stefanus Wijland.”

      “Antje. Antje Brits”

      “Hallo Antje.” Sy glimlag. Dan tref dit haar: die man langs die water. Hulle eet in stilte, maar dit raak nie ongemaklik nie.

      “Ek is al ‘n week hier langs die water,” sê hy skielik net toe sy wil opstaan,“ maar het nog nie juis iets gevang nie.”

      Sy giggel en besef nie hoe haar oë vonkel nie. “Jy is ook so min geïnteresseerd in jou visstokke dat dit nie snaaks is nie,” verklap sy dat sy hom al dopgehou het.

      “O ja! En hoe weet jy?” Hy voel skielik lus om iets uitdagend te doen en vra: “Wil jy nie saam met my Wildtuin toe gaan nie? Dis nie regtig lekker om alleen te gaan nie, daarom was ek nog nie daar nie, al is ek al ‘n week hier.”

      Sy wil eers weier, want die muur om haar is nog te broos. Maar dan stem sy in. En laatmiddag is sy dankbaar daaroor. Stefanus het oor alles en nog wat gesels, wanneer hulle nie diere gesien het nie. Hy het haar nie uitgevra oor haar lewe nie en niks oor homself verklap nie, maar tussen lighartige humor ook filosofies oor die lewe geredeneer. En stadigaan het die besef tot haar deurgedring dat die lewe buite haar eie ringmuur nog bestaan. Dat ander ook seer het en die lewe vrees. Maar om op ‘n hopie te gaan sit, bring jou nêrens nie.

      En noudat hy haar na aandete by haar chalet afsien, wens sy dat die dag nog kon aanhou. Sy kyk hom ‘n paar oomblikke agterna toe hy wegstap, dan stoot sy die deur toe en sluit dit. Tog lê daar ‘n warmte oor haar hart.

©adéle theron

adéle  :grommit:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10654
  • Gender: Female
Re: ‘n Ringmuur om haar seer
« Reply #1 on: September 07, 2021, 09:26:27 PM »
Ek lief jou skryftrant.  Dit gryp my aan en hou my gedagtis vasgekryp.  Dankie vir die deel my vriendin.   :love7:
Om te weet is om te verstaan.