Dit was vir my nog altyd so insiggewend hoe ons kinders tydens hulle eerste skooljare die eerste tekeninge van ons gesin weergee het. Almal weet dat daardie onskuldige ogies baie dinge waarneem en alles word verklap in die kinderlike strepies en krulletjies. So was dit dan nou ook ons klein cowboy se beurt om sy gesinnetjie te teken in die eerste brose skool jaar.
Sy pappa het op 19 sy been verloor a.g.v kanker en dit is bokant die knieg afgesit en hy dra nou 'n ysterbeen waarmee hy dinge aanvang wat my en Outop se monde laat oophang. Hy staan terug vir niks nie. Natuurlik is hy ook ons kleinmannetjie se hero. Stilletjies het ek gewonder hoe die knapie wat nou deel vorm van die laslapfamilie (joune, myne en ons sin) hierdie gesinsverband gaan weergee. Hy is mal oor sy 2 groot boeties en kan nie wag om ook deel te wees van die kadette soos hulle.
Toe hy nou gevra word om sy gesin te teken het die prentjie so gelyk:
Van links na regs is dit hy, dan pappa en regs is mamma. Op haar vraag waar is die boeties dan het hy ewe kordaat geantwoord: They were not invited. Let daarop dat hy vir pappa twee bene gegee het! Vir hom is sy held so normaal soos almal om hom. Die bree glimlagte en hande vashou terwyl hulle saam ontspan was vir ons so kosbaar.