Die rangskikking-uitdrukking van Outop kom eintlik al 'n lang pad
Ek't alweer 'n sinkplaatgiggel aan my hiehiehiehie. Outop het mos baie jare gelede die 'slim' idee gekry dat ons weer moet 'date'. Ag mens nastasia, was dit 'n storie. Ek weet nie of jy daardie tyd wat ons dit op die ander blad gedeel het, betrokke was nie.
Hier is Outop se weergawe van daardie onvergeetlike aand (en ja ons het amper meer afgebyt as wat op die bord was lol).
As 'n vrou haar web spin is dit tiekets met jou BoetieHaar strikke was gespin
soos die web van 'n spinnekop
en ek weet daai ou sing ware ding
as sy jou eers beetkry in haar kloue
is dit tiekets met jou Boetie.
Die deur klokkie die lui,
ek staan getof en getaai,
want vir my kom kuier
Meraai vannie Baai.
So flits die woorde deur my kop terwyl ek ewe gespanne en senuweeagtig deur toe stap. Ek het ‘n ‘Date’ vanaand en dit met my lewensmaatjie van byna agt en twintig jaar.
Hoe het dit begin die “ge-datery” tussen my en Meraai? Dit het seker so week of wat terug gebeur. Ons het ‘n vleisie gebraai en ‘n soet wyntjie gedrink. Toe word ek mos slim. “Ek het ‘n plan” sê ek met ‘n breë glimlag! Nou moet ek ook sê dat as ek planne maak, raak Meraai maar bekommerd!
“Kom ons reel ‘n date vir ons!” Sê brawe ek.
Man is mos 'n snaakse ding. Sê vroulief nee dan kerm hy ja. So daar moet betyds planne gemaak word. Kreatiewe strategie.
Donderweer en blitse pyl op my af. Ek koes en proes, die oumens het my verkeerd verstaan.
“Ek bedoel nou, jy kom haal my vir ‘n date. Jy reël alles en ons maak of mekaar nie ken nie. So moet ons mekaar leer ken vir die aand” kry ek benoud uit!
Die deurklokkie roep my terug in die hede.
Ek maak die deur oop en daar staan ‘n pragtige vrou met ‘n senuweeagtige gegiggel. Sy lyk te seksie in haar uitrusting en dierbaar bekend. Die vroulike rondinge verbasend uitlokkend. Dit maak 'n honger in my wakker vir aanraking en die Adam in my ontwaak onwillekeurig.
Nog nooit my vrou in sulke gewaagde vyeblare getooi gesien nie.
“Goeie middag” Groet ek ewe formeel . “My naam is Jan Anderland”
‘n Skaam stemmetjie sê: “Meraai vannie Baai”
“Kom binne” Nooi ek baie vriendelik uit en ons stap na die sitkamer toe.
Nou ek moet sê ek en Meraai sit elke aand en gesels vir ure aaneen, bespreek alles van A tot Z. Maar daai aand sukkel ons om te gesels, sulke ongemaklike vragies word gevra en beantwoord. Amper soos om op eiers te loop.
Tussendeur het Meraai die sporadiese giggelbuie onder beheer gekry en kon ons die pad vat hotel toe. Sy aan die stuur van die tierkarretjie. Ek sit en verkyk my aan die maat van 28 jaar wat my kom 'optel' het. Wat hou die aand vir ons in?
By die outydse hotel met sy kaggelvuur aangekom voel dit toe so vreemd om nie onmiddelik my lewensmaatjie by my arms te voel inhak nie, dat ek dink hierdie “bright idea” was nie so skerp nie. Ek wil haar vashou en net weer die bekendheid voel. Hierdie 'date' van my het ander planne.
Ek gaan uitgehonger word en ek hoop die bloemiste draad hou die stingeltjie hele aand regop in die brose menslike rangskikking.
Wil nie halfpad verlep voorkom nie.
Vir die res van die aand was daar net lekker gesels en gekuier met 'n wonderlike verwagting. So leer ons mekaar vooraf ken. En ek sit en top met een vraag - hoe vêr mag 'n ordentlike vryer nou weer gaan met die eerste afspraak?
By die huis gekom het ek vir ons musiek opgesit en nooi my blosende maat vir die aand om te dans.
Weggevoer na die paradys. Suspenders en mooiste kantgoedjies het die koets se wiele geolie laat voortsnel en my asem laat wasem maak teen my brilglase.
En toe laat my Eva die vye blaar val. En ons het gewandel deur die tuin van goed en kwaad. En dit was spring gety en die manlikheid het gedy. Eb en vloed afgewissel. Die vuur se vlam gloei ...
Maar weet dit, om weer te "date" is nie maklik nie! Al is dit met jou lewensmaat.