Author Topic: 24 Junie 2018  (Read 1696 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
24 Junie 2018
« on: June 24, 2018, 03:06:41 PM »
Goeie mooi môre vir elkeen van julle!

Ek blaai gistermiddag deur fb-blaaie op soek na tuin-idees. Iewers het iemand gevra wanneer hy wingerde, perske- en appelkoosbome kan snoei en hoe ver hy dit kan terugsnoei. Ek lees verder deur my Bybel en gaan soek die verse op waar Jesus van wingerde vertel o.a. Joh 15:2
Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra.

Hoe weet ons watse boom ons is? Ons weet nie, maar dis nie van belang om ‘n naam te hê nie, want ons is elkeen uniek. Uniek aan wortel, stam, blaar, blom en saad. Dalk op pad om groot koningskryk-kremetarte of -bloekoms te word; dalk kleiner soos soetdorings in die Vrystaat of kleiner struike met geurige rose. Miskien kom ons op verskillende plekke dalk met ander ooreen, maar ek glo dat soveel as wat ons voorkoms en vingerafdrukke verskil, so verskil ons ‘boomgenetika’ ook.

En dat God ons snoei om ons beter te laat groei om in sy Boord te gaan blom en vrugte dra, moet vir ons eintlik ‘n belewenis wees, al is dit soms hoe swaar. Ons verstaan nie ons beproeweninge nie; aanvalle op ons nie; teleurstellings in ons harte nie; seerkry en dood nie. Maar in Hom, met die soom van sy Kleed in ons hand, kan ons dra wat ons ervaar.

Ek het ook ‘n pad van verloor en vernietiging gestap. Meer as een keer, en daardeur met ander mense in aanraking gekom wat baie meer klippe en dorings op hul paadjie gehad het. Soms het ons langs mekaar gaan sit en dorings uit mekaar se voete gehaal. Ander kere het ek by iemand gekom wie se voete al so gebloei het, dat dit moeilik was om die rou, stukkende blase te verbind. Soms het ek alleen neergeval en gewonder of iemand my ooit gaan vind en kan help om op te staan.

Maar elke keer het ek God se getrouheid ervaar, aan bas en blom gevoel. Littekens bly sigbaar teen die bas van my stam, maar my blare val later af. Tog, voor my takke kaal, verdor en wit teen die hemelsblou lug sigbaar raak, spruit nuwe blaartjies weer uit en oordek Christus se liefde my.

Here Christus, dankie vir U liefde, vir wat U elke dag doen en die siele-plantvoedsel waarmee U ons wortels natmaak. Neem ons blomme na God, die Vader, asseblief.  Laat ons sade ryp word en gesaai word in die akker wat U gereed hou vir nuwe gelowiges wat saam met ons kan groei en elke snoeiseisoen saam met u Heilige Gees tot U eer kan beleef. Amen amen Here.

©adéle theron
Foto: Internet
adéle  :grommit:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: 24 Junie 2018
« Reply #1 on: July 23, 2018, 10:55:13 AM »
Dankie dat jy hierdie pragtige gedagtes met ons deel Matertjie.   :book1:
Om te weet is om te verstaan.