Author Topic: 4.2.2018  (Read 1504 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
4.2.2018
« on: February 04, 2018, 10:10:44 PM »
Goeie môre Vriende,

 (Lukas 2)  En terwyl hulle daar was, is die dae vervul dat sy moes baar …
En daar was herders in dieselfde landstreek, wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het. En meteens staan daar ‘n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn …

Ek dink aan die landstreke daar in  Palestina en Sirië en wonder hoeveel sand het daar weggewaai; hoeveel reën het deur die eeue geval; hoeveel volkstellings is intussen daar gehou?

Keiser Augustus het bevel gegee dat die volk getel moes word. Almal het na die stede van hul voorvaders gegaan, daarom moes Josef en Maria na Bethlehem toe gaan, die stad van Dawid, uit wie se nageslag hulle was.

In die velde buite om die stede het herders hul skape opgepas. Is hulle ook getel? Moes hulle dalk beurte maak om ook na hulle plekke van herkoms toe te gaan, om deel van die telling te wees? Ek weet nie, maar dis nie belangrik nie, anders sou dit in die Bybel gestaan het. Wat wel vir ons vertel word, is dat hulle in die veld was. Daar het hulle gebly en hulle skape opgepas. ‘n Baie belangrike taak, sou ek dink. Skape-oppas is verseker ook nie maklik gewees nie. Hulle moes hul dag en nag in die oog hou, roep wanneer hulle afgedwaal het, gesorg het dat daar genoeg weiding en water naby was. Roofdiere was seker hul grootste bedreiging. Tog is herders as minderwaardig beskou. Maar die geskiedenis wys ons dat hulle in God se oë, belangrik was.

Abraham, Moses, Dawid, Amos en nog meer was almal herders gewees. Selfs Ragel het haar vader se skape opgepas, voordat Jakob haar sy vrou gemaak het. Jesus sê ‘n goeie herder sal sy lewe gee vir sy skape. Dit loop soos ‘n draad dwarsdeur die Bybel, maar só terloops, dat ons dit nie eers meer agterkom nie. Tog word dit as kernpunt deur God gebruik, want sy Seun word dan ons Herder, ons Verlosser uit die kake van die roofdiere nl satan en die sonde wat ons gedurig aanval, op loer is na ons swak plekke om ons te laat swik in sy slagysters. Hy pas ons dag en nag op. Hy sorg dat ons genoeg het om van te leef, beskut en beskermd teen natuurelemente.

As ‘n skaap afdwaal, gaan die herder hom soek; as hy siek of beseer is, dra die herder hom op sy skouers. Is dit nie wat Christus ook doen nie? Hoeveel keer het Hy jou al opgetel en gedra en nie moeg geword nie? Hy het jou eers neergesit, toe jy sterk genoeg was om self te staan, maar Hy hou ons nog teen Hom vas sodat ons nie weer iets oorkom of wegraak nie. Kom ons sing vandag ‘n danklied, ‘n loflied vir die Heer!

Geniet ‘n wonderlike Sondag met die wete Hy hou ons teenaan Hom, onder sy Vader se beskerming vas.

Foto: Internet
adéle  :grommit: