Author Topic: Dawid en Miena kry stry.  (Read 2288 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Assie

  • Regular Members
  • Snuiter
  • Posts: 480
  • Gender: Female
Dawid en Miena kry stry.
« on: August 27, 2016, 06:43:23 PM »
Dawid gooi die inhoud van die glas diep agter in sy keel. 
Oupa wil Dawid se glas weer volmaak maar hy hou sy hand oor die glas. “Dis nog bietjie vroeg Oom” is sy kommentaar.
Oupa ignoreer dit, bewe nog ‘n trippel van die Drie Skippies in sy eieglas en gooi dit met een sluk in sy keel af.
“Die pad deur die drif sal nooit weer dieselfde wees nadat Ou Miena die nag daar deur die weghol sleepwa van haar kop en lewe vervreemd is nie.”
Dawid, wie se bleek gesig weer bietjie kleur begin kry van die skippies se byt, sit nog stomgeslaan na sy asem en snak.
Ek wonder stilweg of dit nog van die hardloop is en of dit nou die skippies is wat so oor sy longe trek.
“Wat het dan daar gebeur?” wil ek nuuskierig weet. Ek kom nooit in die nag deur die drif nie so ek weet nie waaroor die gedoente nou eintlik gaan nie.
Oupa vertel: “My ouer broer, Ignaas (Dis nou jou Oom Naas se Oupa) en sy vrou Ousie, het hier gekuier. Ek het vir Naas gesê hulle moet die sleepwa saambring sodat ek ‘n paar bokse appels kan aanstuur Kaap toe. Ek het op die ou end die sleepwa bietjie swaar gelaai en moes die ding toe met die trekker uitsleep dorp toe omdat Ignaas se ou ford nie die sleepwa oor die grondpad se middelmannietjie kon sleep nie en die bult annerkant die drif was te styl. Intussen het Miena, Ta se ma, laataand loop kuier by die bure en middernag teruggeslinger huis toe. Nou soos die Langkloofduiwel dit beplan het, is sy toe mos nou onner in die drif toe Ignaas se sleepwa sy A-raam wip vir die trekker teen die bult en met volvrag appels terughol drif toe. Toe ons nou onner in die drif kom sien ons hy en Miena het mekaar verkeerd opgesom en ‘n onderonsie gehad. Miena was nie opgewasse teen die oorlaaide sleepwa nie en het letterlik kop verloor. Alhoewel ons ou Miena se oorskot in die plaaskerkhof geplant het, het haar siel nie rus gekry nie. Sy pas nou nog daai driffie op en bewaar enigeen wat tien voor twaalf snags deur daai drif probeer gaan.”
“Ja,” seg Dawid, met die blikbeker moer wat ek intussen in sy hand gestop het.”toe ek nou vannag onwetend daar deur die drif gaan op pad huis toe toe vlieg daar ‘n liggaam voor my op. Ek skrik vir my in ‘n bevrore hoender in. Maar dit hou nie daar op nie. Daai gewaad se oge gloei soos twee kole vuur en die gil wat dit los vibreer nou nog deur my gebeentes. Daai ding gryp haar eie kop en gooi dit na my toe soos ‘n voetbal. Die kop kom reguit na die motor se voorruit maar die voorruit stop dit nie soos ek gedink het dit sal nie. Nee! Dit kop trek los deur die ruit en val langs my op die sitplek... En dit skreeu terwyl die hel se doodsruik die motor inwalm. Dis toe nou ook op die staduim wat ek besluit die duiwel gaan my vannag hier vat. Toe ruk ek daai deur oop en ek hol.”
Oupa steek pyp op. “Kom laat ons die trekker vat en jou terugry na jou motor toe. Dis nou twee uur. Ou Miena het nou al tot rus gekom vir die nag en sy is elk geval skrikkerig wanneer sy die trekker hoor aankom. Jou mense gaan wonder wat van jou geword het.”


 :mumum:

Offline Ans Botha

  • Regular Members
  • Snuiter
  • Posts: 362
Re: Dawid en Miena kry stry.
« Reply #1 on: August 29, 2016, 08:51:21 AM »
Nou wonder ek: Toe hulle daar kom was die voorruit nog stukkend of het daai kop deur daai ruit gegevlieg soos spoke deur mure loop sonder om 'n bewys agter te laat. Goed geskryf Assie my aandag was heeltyd by die storie.

Offline Assie

  • Regular Members
  • Snuiter
  • Posts: 480
  • Gender: Female
Re: Dawid en Miena kry stry.
« Reply #2 on: August 29, 2016, 10:30:53 AM »
Soms is dit maar beter om nie te weet nie. As ek die waarheid skryf gaan julle my elk geval nie glo nie.  :dontknow:


 :mumum:

Offline Assie

  • Regular Members
  • Snuiter
  • Posts: 480
  • Gender: Female
Re: Dawid en Miena kry stry.
« Reply #3 on: August 30, 2016, 11:09:56 AM »
Ek sal maar se. Die voorruit was ongeskonde maar Dawid sukkel nou nog om die onverklaarbare rooi kol van die passasierssitplek te verwyder.
Ek wonder of dit van Miena se kop af kom en of hy dalk rooiwyn daar gemors het.



 :mumum:

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Dawid en Miena kry stry.
« Reply #4 on: August 31, 2016, 12:57:05 AM »
Ek lief spookagtige stories. Groot geword met dit op die delwerye en as jy met blaker in die hand padvat kleinhuisie toe was dit 'n nagmerrie van sy eie, soos ou Miene aan haar einde gekom het, was daar ook afkopspoke en deur een driffie het my pa onheilig gesweer was daar 'n sekere tyd van die nag een perd meer wat die wa deur die drif help trek!