Die ou tannie kyk stadig om, daar is ‘n traantjie wat teen haar wang af loop … sy glimlag vir die vygieblommetjies tussen die grafstene.
“Julle bont vygies is ook die enigste wat elke keer glimlag, nê? Heeldag, tot die laaste sonstrale voor julle gaan slaap, nê?” By die hekkie maak sy seker die slotjie is toegedruk. Wanneer sy met haar arms op die hekkie leun, ruk snikke deur haar skouers.
“Wouter, julle moet mooi na mekaar kyk, jy en Sussa en… en … Pa en Ma, Oupapa en Ouma Sara is lankal vertroud met die gewoontes Daarbo maar julle moet nog leer.” Dan plooi haar glimlaggie weer om haar oë.
Haar gedagtes haak vas by die laaste vakansie toe Sussa kom kuier het. Die kosbare laaste dae draai voor haar verby. Hulle het gelag en gesels en die solder leeg gesoek vir skatte uit haar ouers se tyd. Sussa het op ’n krat met boeke in die eerste Afrikaanse era afgekom. Met haar bene gekruis het sy later op die klein stukkie groen grasperk onderkant die breë stoep gaan sit en lees. Carolientjie het geskaterlag en skeef bollemakiesie geslaan van lekkerkry vir die rympies wat haar ma speelgewys aan haar voorgelees het.
Die rolprent draai verder in haar kop, maar eers kyk sy na die laaste vars hopie grond waarop die groot bos wit angeliere lê. Snikke bewe nou deur haar hele lyfie. Vanoggend het sy die laaste angeliere in die voortuin gepluk en hiernatoe gebring.
“Here! Help my om te vergewe … en aan te gaan.” Dan skeur sy haarself weg van die plaaskerkhoffie en stap vinnig huistoe voor haar moed haar begewe.
Tannie Antjie tel haar handsak van die ingeboude ontbythoekie-tafel op en glimlag weer sag as sy dink aan die laaste keer wat hulle hier saam geëet het. Krummelpap en wilde heuning was Sussa en Wouter se gunsteling-ontbyt en Carolientjie het net geëet wat Oupa-Wout geëet het. Daarna het Wouter hulle stasie toe geneem.
By die binnedeur na die gang kyk sy vir oulaas terug na die leë kombuis en loer in die verbygaan na die leë kamers. Die blink geelhoutplankvloere klink hol wanneer sy deur die voorhuis stap en dan die swaar voordeur agter haar toetrek. Haar nuwe motortjie blink in die middagson. Die meeste van haar klere en alles waarvoor sy kon plek kry, is reeds in die woonstelletjie wat by die aftree-oord op haar wag. Die res is verkoop … uitgedeel … weggegee.
Sy draai in die grootpad in en ry stadig dorp se kant toe. Sowat vyftien myl verder trek sy langs die pad af. Trane rol oor haar wange en sy kan skaars sien waar sy moet ry. Versigtig, om nie die blomme daaraan te beskadig nie, tel sy die kruise van die sitplek af en stap na die bome langs die pad. Teen die dikste stam maak sy hulle staan – een vir Wouter, een vir Sussa en die kleinste een vir Carolientjie.
Wanneer sy terugklim in die motortjie, speel die laaste tonele van die rolprent voor haar geestesoog verby. Daardie dag, nou ’n paar weke gelede, het haar buurman haar hiernatoe gebring. Noodpersoneel het ure lank gesukkel om die wrak met haar drie geliefdes onder die lorrie, aan sy verkeerde kant van die pad, te bevry.
©adéle theron