Ek deel graag hierdie onverwagse nuus...
Ek was nog nooit lid van die VLU nie. Die tak op Ventersburg is een van die kleinste in die Vrystaat [soos ek verstaan] en hulle doen baie goed met hul jaarlikse deelname wat blykbaar alle kunsvorme en handewerk ens insluit. [ek leer nou so tussen die lyne ...]
Verlede jaar November bel vriendin Annatjie my met die versoek dat ek vir hulle 'n prosa/skets [kan nie mooi onthou nie] moet skryf. Hulle verloor altyd punte op daardie item. So stem ek in en ek het wel al 'n paar idees in my agterkop bymekaar gemaak maar vergeet toe daarvan. "n Rukkie gelede kontak sy my en vra of dit klaar geskryf is. Julle, toe griffel ek daardie 'moeilike' tema met tussen 300 en 350 woorde. Enige iets is mos moeilik as dit 'n opdragwerk is.
Seisoene van my Lewe.... en e-pos dit vir haar, maar vergeet toe weer daarvan. Ek het werklik gehoop dit sou hulle net die paar punte besorg wat hul nodig het om vir 'n keer eerste te kom.
Verlede Saterdagmiddag bel sy toe met die nuus dat ek nou moet aansluit. My prosa het daardie oggend op hul konferensie in Welkom eerste prys gekry met 90% en moet nou later in die jaar in Bloemfontein na die provinsiale kongres toe gaan. En JA! hulle het nog 'n rits ander eerste en tweede plekke verower en loshande gewen!
En ek haat die kollig, julle weet dit nou al. So weet ek nog nie wat om te doen nie. Maar nou ja .... julle is deel van my griffel-liefde se fondasie ...