Author Topic: Ou Koeie  (Read 1439 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Assie

  • Regular Members
  • Snuiter
  • Posts: 480
  • Gender: Female
Ou Koeie
« on: December 10, 2015, 11:29:23 AM »
My oupa sê altyd: “As jy met ou koeie ploeg krap jy net laas jaar se stront oop.”
Vanoggend loop die koue weer op krukke oor die lande om die ryp op die grond te vermy.
Ek en Oupa staan op die stoep, elkeen met ‘n blikbeker moer wat sukkel te stoom deur die koue.
Die appelbome wil wil so ‘n pienk skynseltjie gooi om die lente te groet.
Toe Oupa nou so diep sug besef ek hier kom nou weer ‘n ding.
Ek moet nou eers verduidelik. Ta Stienie is laas week weer sak en pak terug Wellington toe agter die skelm Jood aan. Die kom toe mos hier aan met sy blinkwit Beemie en sy Colgate smile. Draai weer ‘n paar skelm woorde in die rondte en maak leë beloftes tot Ta Stienie hom glo en...
Nou ja... Ons is weer alleen, ek en Oupa.
So tussen die proe aan die warm moer deur kom Oupa se gedagtes ook kuier.
Jy weet Assie, ‘n mens moet seker maar glo dat die mak honde jou nie sal byt nie want hulle byt mos gewoonlik die seerste omlat jy dit nie verwag nie. Ek wonder net of die mak hond se byt die tweede keer weer so seer gaan wees as die eerste keer. Die slag moet jy dit mos so half verwag.
Ek wil eers wonder hoekom Oupa praat van honde wat byt want hier op die plaas byt ‘n hond net een keer en gaan dan dood aan loodvergiftiging.
Jou Ant Stienie is nou weer by-in-die-hol hier weg agter die Jood aan maar ek is seker daai hond het nog nie klaar gebyt nie.
Nou verstaan ek skielik die hond storie.
Ek hoop net dat die tweede byt nie seerder gaan wees as die eerste een nie.

Twee weke later lui die plaaslyn.
Dis Ta Stienie.
Vra snikkend om met Oupa te praat.
Oupa sit die foon neer en sug: “As ‘n mak hond jou die tweede keer byt is dit jou eie skuld.” is al wat hy sê terwyl hy die bakkie se sleutels vat.
Oupa moes haar op die stasie gaan haal met al haar bagasie en twee toegeslaande oë.
Ta Stienie terug op die plaas. Sy gaan die Jood skei nadat sy ‘n saak van aanranding teen hom oopgemaak het.
Nou lê ek wakker en luister na die gesnik in die kamer langsaan en ek besef dat die tweede byt seerder maak as die eerste omdat dit dwarsdeur jou vertroue kou.


Assie

©
 :mumum:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Ou Koeie
« Reply #1 on: December 10, 2015, 11:52:16 AM »
Ai, Oupa is 'n goeie man Assie.  Ek is baie bly om jou weer hier te sien, ons het jou gemis. 
Om te weet is om te verstaan.

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Ou Koeie
« Reply #2 on: December 14, 2015, 04:40:56 AM »
Die tweede byt kou dwarsdeur jou vertroue... die wysheid tussen lyne soooooooo gemis!

Offline Fransi

  • Regular Members
  • Melkbaard
  • Posts: 1274
Re: Ou Koeie
« Reply #3 on: December 15, 2015, 10:42:57 AM »
Die "tweede byt se deur-kou"  het my ook getref.