Radeloos en moerig verby het ek besluit, genoeg is genoeg. 'n Pil vir die newe effekte van die pil wat jy gedwing word om te sluk met 'n doelbewuste opmerking van presies HOE gevaarlik na aan die doodskrans jy dans as dit nie geneem word nie.
Hoe meer ek verduidelik dat die statins my kranklik laat op my goeie dae hoe meer grawe die dokter na nog 'n middel om te probeer. Hoeveel van die persentasie van die belaglike prys stop hy in sy jas se sak, kan ek en miljoene ander net bespiegel na aanleiding van 'n loer na 'onder die tafel gebeure in die spreekkamers van sommiges'. Skokkend om die minste te skryf. Die skuldenaars spook dat die program nie op ons TV hier in Aus gewys word nie maar het die stryd verloor - en ons kon net kop skud soos julle oor die gebeure in SA die afgelope jare. Genoeg om mens slapelose nagte te gee.
Vir my is slaap alreeds 'n nagmerrie. Dwalend deur die pandok se gange bedink ek my sondes snags terwyl Outop saggies snork. Nou is hierdie dwalende uitweg 'n dêm pyniging want skielik is dit ongemakliker om te loop as om horisontaal te verkeer. Alles wat nie voorheen gepyn het as ek asemhaal, pyn nou of hulle betaal word. My heupe, kuite en enkels voel of ek in die bose stad op spykerhakkies elke donkerhoek kruis en dwars beloer het en nou die wrange vrugte pluk.
Sou jy nalaat om die voorskrif getrou te gaan ingee by die apteek, wag daar 'n roskam wat skrik vir niks op jou. Voel ek soos 'n tiener wat betrap is met 'n brandende stompie. (Ons apteek hier in die gopse het so ewe die prys gewen as die beste, wag vir dit... 'Guilt-Care-Pharmacy' in Queensland.)
Die apteker som jou op - asof hy dink jy lyk beslis nie siek genoeg om dit wat op jou voorskrif staan, te ontvang nie. Dit wat jou sieker maak, vryf hy onder jou neus en vra ongeskik of jou dokter weet WAT jy besig is om te doen? Hy het geloer na vorige voorskrifte, sien jy herhaal nie die voorskrifte nie. HOEKOM nie? Ongeskik verby man.
Daar kan ek nie op een Engelse verduideliking kom van hoe die gif my liggaam affekteer nie en staan met bek vol van my eie tande.
Die apteker het twee van die gewigtige manne wat saam Outop op die 'lektriese lande woel, probeer vertel dat hulle te jonk is vir hartkwale. Ja, hulle het altwee die Banting-gedoente slaafs gevolg en gesmul aan die vetjies en room. Gewig verloor dat hulle laters bleek soos geeste was en woeps - permanente hartskade onder andere. Groot gedoentes. Die manne sielsongelukkig want apteker hou sy lyf dokter en laat jou voel jy moet bedel vir pille wat jou aan die lewe hou terwyl dit wat gif is vir jou liggaam, in jou keel afgedwing word! Daar hou ek van nou af liefs verby.
Terwyl ek nou afgaan - liewe skrywersmater lewer so ruk gelede kommentaar op my gevreetblad en se as jy nie genoeg antwoorde kry by jou dokter nie, vra jy nie genoeg vrae nie. Ek vra toe dat die nuwe dokter asseblief net seker maak dat die nuwe medikasie wat die newe effekte van PH onder bedwang moet hou, hernu is. Wag ek tot die voorskrifte klaar uitgeskryf is en vra weer of dit op die voorskrif is en hy skud sy kop half ongeduldig op en af vir jaaaaaaa.
Kom by apteek. Die gif is daar, maar die hulpmiddel wat ek twee keer voor gevra het is nie daarop nie. Terug dokter toe. Ek verduidelik vir haar medikasie wat ek baie nodig het, is nie op voorskrif en ek het gevra. Verdwyn sy agtertoe. Kom terug en antwoord kliphard: Dokter se jy het so baie gepraat dat jy hom deurmekaar gemaak het!" Die geselsskap van die pasiënte oor hoeveel duim reën geval het, droog net daarop.
Toe besluit ek - genoeg is genoeg. Van nóú af dokter ek myself.