Author Topic: Toe my lewe miniatuur  (Read 4931 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Toe my lewe miniatuur
« on: June 22, 2011, 08:57:07 AM »
Drie maande.
Drie maande? Is dit al?   
Drie maande vandat ek uitgetrek het en my huis verkoop is. My kinders het versigtig-soekend hulle woonsteltoekoms ingeval, opgewonde hul eerste treë gegee in hulle soeke na selfstandigheid. Onafhanklikheid. Uit ma se huis maar nie uit haar hart nie. Pakkies vol kommer word soms voor my hart se deur afgelaai, soms soos petrolbomme deur my hartsvensters gegooi, maar ek bêre dit elke keer op elkeen se spesiale boekrakkie waar hul name in goue liefdesletters uitgekerf is. Daar teen die sykant van my hart, naaste aan my borsbeen. Daar waar ek dit kan lees wanneer ek op my knieë neersak. Dit is so maklik om dan in my bed in te skuif.

En ek het alleen agtergebly...
 
Ek het weke lank rondgesoek na ’n blyplek. Klein, maar groot genoeg om in asem te haal. Ek leef immers nog. Ek wil nie elke keer uitgaan wanneer my gedagterigting verander nie. Ek het al begin moed opgee en wou sommer die eerste volgende huis vir my vat. Toe bel vriendin Ems my.
“Ek het jou huisie gekry!” Van pure opgewondenheid het haar asem amper weggeraak. “Onder in Kastaiingstraat, teenaan die spruit.”
“En wanneer dit reën, dan moet ek alles aan ’n wasgoeddraad vasknip.”
“Nee, Freda. Die huis lê bokant die hoogste watermerk. Maar soggens gaan die sonstrale een-een skuins oor jou vensterbank klim.”
“Ja?” My stem ontmoedig selfs die skadu’s om my. Maar nie vir Ems nie.
“In die winter gaan die eekhorings saam met jou in jou songevulde sitkamer sit en van mandjies vol akkers droom.”
“En in die somer gaan ek alleen smelt.”
“Nee, jy gaan nie. Gooi af jou vooroordele en kom kyk waarvan ek praat.” Ems het haar ongeduld ingehou want sy kon seker al my gesig sien as ek daar aankom.

Dit was alles wat ek wou hê en nog meer.
Die meeste van my meubels wat ek in amper veertig jaar bymekaargemaak het, is òf saam met die kinders òf verkoop. My Kastaiingstraathuisie het ’n piepklein kombuisie met ’n ingeboude eethoekie waarop ek ook my etes moet voorberei. Selfs ’n tweesitplek-eetkamerstel is totaal oorbodig. My swaar bal-en-kloupote-sitkamerstel het plek gemaak vir die mooiste rottangbankie en stoele met fleurige sonskynkussings. Slegs my klavier met die kershouers het saamgekom. Die kombuisie en sitkamer is ’n eenvertrek-aanmekaar-leefruimte vol lag en gesels. Die badkamer het ek met perskekleure en fyn varings behang.
My slaapkamer is geseën met ’n boekrak vol lekkerlees boeke, digbundels, musiek boeke en my rekenaar. Alles is omring deur plante vanaf ’n tuingroenbont duvet en gordyne wat so lewendig lyk soos die enkele twee potplante waarvoor ek plek kon vind. Voor die noordevensters staan bosveldbome wat die son in die somer verkoel.

Ek moes leer om klein te leef. Vir een. Nie dat dit veel van ‘n kursus was nie; prakties is ek daartoe gedwing. En nou, drie maande later, leef ek miniatuur. Ek bêre elke boek waaruit ek lees, omdat twee boeke wat rondlê, die plek soos ’n rommelhoop laat lyk. Ek berei etes vir een, wel…amper al. Net soms kook daar nog etes oor die pot se rand waaraan ek ’n week lank eet. Ek het immers tot ’n klompie weke gelede nog vir vyf mense gekook. Soms wil ek halfpad deur my ete eers die helfte van my skottelgoed was. Wanneer ek meer as net ’n snytjie roosterbrood maak, lyk dit of ’n orkaan deur die vertrek getol het. Ek braai ’n anderhalfduim lange worsie in ’n drieduim-deursnee pannetjie; kerf ’n halwe ui om saam met een klein tamatie te braai. Soms kraak ek al die derde eier voor ek onthou ek hoef nie ’n volle dosyn eiers te roerbraai nie. Ek eet dae lank aan ’n botteltjie kerrieboontjies. En vanaand het ek dit reggekry om al my pasta op te eet. Ek het net genoeg droë pasta geneem om die kleinste kastrol in die stel se bodem amper vol te maak.

Nou sit ek in my bed waar die elektriese kombers ’n salige hitte deur my bene sprei en tik ’n mini-storie. Ek dink aan hierdie nuwe lewe wat ek treëtjie vir treëtjie instap. Ek is darem al deur die hekkie nadat ek lank daar by die yesterday-today-and-tomorrow vasgehaak het. Vreugde het sy blommestringe om my pols gebind en trek my dieper in die toekomstuin in. Belofte fluister dat ek vir die eerste keer in dekades kan doen wat ek wil, wanneer ek wil en hoe ek dit wil. Ek gaan nie soos ’n uil op ’n kluit bly sit nie. Onder die bome gaan ek heuningblommetjies en klokkies plant. In die hoek naaste aan die spruit gaan ek 'n tuin vol miniatuurrosies skep. Ek gaan in mini-happies na my kinders verlang. Ek gaan elke dag se genade met miniatuur kruisstekies aanmekaar stik tot dit ’n groot toevoukombers word.
Ek gaan my miniatuurlewe met oorgawe leef!!

 :grommit:
adéle  :grommit:

Offline Louis

  • Regular Members
  • Suigeling
  • Posts: 163
Re: Toe my lewe miniatuur
« Reply #1 on: June 22, 2011, 09:52:25 AM »
pragtig!!!! ek hou van jou miniatuur storie en is bly jy kan dit met ons deel. dit maak nogal n groot verskil wanneer n mens kan vertel van die goed en die sleg in jou lewe. mens het net twee keuses in hierdie lewe ; jy kan of gevrek sit en nukkerig wees of jy kan lewe, al is dit nou n miniatuur lewe.
die belangrike deel is jy klink opgewonde en gelukkig.

Offline Trapsoetjie

  • Regular Members
  • Penkop
  • Posts: 657
  • Taranee, onse Beertjie.
Re: Toe my lewe miniatuur
« Reply #2 on: June 22, 2011, 08:31:15 PM »
Pragtig Vriendin, en geluk met die begin van jou nuwe lewe al is dit 'n miniatuur ene. Dis hulle wat die beste is.  :hello2:

Hoop net ek sal eendag daai pragtige tuin sien.  :love7:

 :angel12:

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Toe my lewe miniatuur
« Reply #3 on: June 23, 2011, 03:21:18 AM »
My gemoed is oorstroom!!! Hierdie beskrywing is so pragtig dat ek die woorde in kleinste-klein miniatuur-grepies gesit en lees het. Jou beeldende woorde kosbaar rondgerol in my kies vir weer en weer leesgenot!!

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Toe my lewe miniatuur
« Reply #4 on: June 23, 2011, 07:59:16 PM »
Ek het gou by die ander se kommentaar verby gerol, ek wil net my eie indruk van die storie weergee sonder invloed!   :icon_biggrin:

Soos wat ek deur die storie gelees het, het die gedagte deur my gegaan: 
'n Warm hart vir 'n pragtige vriendin!
Groot dankbaarheid vir die rus en vrede in jou gemoed!
'n Pragtige storie uitmuntend geskryf!
Jy,  in jou eie klein paradys! 

Ek is darem al deur die hekkie nadat ek lank daar by die yesterday-today-and-tomorrow vasgehaak het.  Dit spreek boekdele Adéle en ek is sooo bly vir jou! 

'n Pragtige storie, warm en uit die hart!   :hello2:
Om te weet is om te verstaan.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Toe my lewe miniatuur
« Reply #5 on: June 24, 2011, 04:38:12 PM »
na al die bohaai op woes omdat ons as derderangse skrywers beskou word deur die letterkundiges   :icon_scratch:   van ons mooi Afrikaanse taal, het ek gewonder hoe hierdie griffels van my sou deurgaan, dankie julle wonderlike vriende.   :love7: 

ek moet darem net vertel dat alles nie heeltemal waar is in my eie lewe nie, maar anderaand het ek so gevoel, en deesdae wens ek my lewe kon in so 'n prentjie voortgaan.
maar- ek bly nou so maand lank in 'n klein plekkie langs die dam terwyl ek wag dat my huis skoongemaak en opgeknap moet word. ek moet 'n personeelhuis betrek wat amper langs my kantore staan, maar ... nou ja, hoe sal ek dit stel... die nuwe SA wen hierso. die huidige bewoner weier om te trek en nou word 'n ander huis 'n entjie verder vir my reggemaak. dalk tot groter voordeel, ek weet nog nie maar het geleer om te gaan waar my Here my stuur. net Hy weet of ek veiliger sal wees in die ander huis en daarom volg ek die pad soontoe. maar na vier maande uit 'n tas leef, sien ek uit daarna om weer my goed uit te pak. ek sal vertel wanneer dit gebeur. en ek is darem nie helemal alleen nie, die kids bly wel in bloemfontein en ek so 160km daarvandaan, maar nader aan my is iemand wat baie gereeld kom kuier of my kom haal vir 'n naweek....   :love5: 

 :grommit:
adéle  :grommit:

Offline Naas

  • Hardebaard
  • Posts: 2283
  • Gender: Male
  • K.N.A.P. (Kan Naas Afrikaans Praat of wat?)
Re: Toe my lewe miniatuur
« Reply #6 on: June 24, 2011, 07:19:33 PM »
"na al die bohaai op woes omdat ons as derderangse skrywers beskou word deur die letterkundiges van ons mooi Afrikaanse taal"
'n Taal wat nie deur "derderangse" mense gepraat word nie kan homself nie as 'n taal uitskel nie. Die letterkundige snobs kan maar hul menings vir hulself hou. Sonder ons het hulle 'n dooie taal.



 :icon_bigsmurf:
Ek is maar net een, maar ek ís een.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Toe my lewe miniatuur
« Reply #7 on: June 25, 2011, 10:21:03 AM »
Ja nee wat,  ek weet ons het die mooiste taal en die beste skrywers! 

Adéle,  ek hoop van harte dat jy gou gevestig sal raak in jou nuwe blyplek en ek glo ook dat daar 'n doel agter alles is.   :love7:
Om te weet is om te verstaan.

Offline Fransi

  • Regular Members
  • Melkbaard
  • Posts: 1274
Re: Toe my lewe miniatuur
« Reply #8 on: June 27, 2011, 08:41:48 AM »
 :hello:

Hierdie bly vir my so mooi geskryf. 'n Mens slurp elke woordjie in. Eindes beteken wel nuwe beginne ook en met 'n gees van blymoedigheid kan 'n mens ver kom. Ek kan net weer sê dat miniatuur ook waardevol is. Pragtig.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Toe my lewe miniatuur
« Reply #9 on: July 24, 2012, 11:47:51 AM »
Om 'n romantiese Maandagaand te beskryf is ietwat moeilik, ek meen ... wat kan nou romanties wees aan 'n Maandagaand, duhhh   :dontknow:   

Verlede jaar het my lewe mos ietwat verklein, eintlik heelwat ... ee ... sommer baie wat, maar ook het ek geweet daar wag 'n nuwe lewe; 'n nuwe groei in die nasomer van my lewe. So het ons mekaar leer ken, nuwe blaartjies met sorg afgestof gehou, takkies kalm gesnoei en enkele blomknoppe vreugdevol dopgehou om die eerste kleure in die  dagbreek waar te neem. 'n Lekkerte wat ek met albei hande vashou en koester en wat nou al in ernstige planne vasgedraai word.

Gister moes ek Welkom toe met die Oord se bakkie, eintlik mos die staat se bakkie want ek werk by die dept toerisme. Soms is ek verplig om van die werkers saam te neem dorp toe en gister was dit weer so. Die man het 'n afspraak gehad by 'n chirurg. Ek het by baie plekke aankope gedoen en kwotasies aangevra en toe vir hom gaan wag, maar hy het eers na half 7 uitgekom, voorskrif en plekbespreking vir 'n operasie in die hand.

Eben was die naweek hier en kom nooit op 'n Maandagaand hiernatoe nie. Ek gaan gewoonlik Dinsdag- en Donderdagaande weer dorp toe. Hy sms toe so teen sesuur [al donkerskemer] en vra wat ek maak, hoe my dag verloop het ens.  Ek was nog in Welkom!...
 Na 7uur kom ek om die hoek van die vorige huis en verwag om my huis in donker te sien met Boela en Lulu angstig voor die hek. Maar daar is alles verlig, die mototrhuis- en kombuisligte en al die buiteligte was aan.

En binne: die heerlikste kos, amper reg vir aansit, 'n glas cokiwyn ook opwag ... en die dierbaarste man onder die son se arms het om my moee' lyf gevou.
   :love7:    hy gee 'n heel ander betekenis aan die woord 'romanties'

 :grommit: 
adéle  :grommit:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Toe my lewe miniatuur
« Reply #10 on: July 24, 2012, 12:06:00 PM »
Ek het amper hier verbygeglip, het mos al hierdie onderwerp gelees.  Groot plesierigheid om die storie en van jou groot geluk te lees matertjie.  Jy verdien dit!  Koester hom. 
Om te weet is om te verstaan.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Toe my lewe miniatuur
« Reply #11 on: July 24, 2012, 01:03:14 PM »
ek doen, lief vriendin, ek doen ... jy ken ons mos nou al   :toothy4: 

 :grommit:
adéle  :grommit:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Toe my lewe miniatuur
« Reply #12 on: July 27, 2012, 10:25:57 AM »
Groot groot voorreg om in die najaar van mens se lewe soveel geluk te ervaar.   :love7:
Om te weet is om te verstaan.

Offline Elizabeth

  • Regular Members
  • Suigeling
  • Posts: 49
Re: Toe my lewe miniatuur
« Reply #13 on: August 01, 2012, 06:25:47 AM »
Heerlikheid op aarde!
En nou pronk daar ook 'n pand van waarde
om haar vinger -
sy's nou meer, en sy's ge-ringer!!

 :hello2: :hello2:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Toe my lewe miniatuur
« Reply #14 on: August 01, 2012, 07:43:42 AM »
en is dit lekker. met 'n vinger al jare lank leeg, voel dit nog heeltyd nuut.   :hello: 

 :grommit: 
adéle  :grommit: